Eskom het Vrydag tydens ʼn perskonferensie gesê probleme met die land se elektrisiteitstoevoer kan tot in April voortduur met die moontlikheid dat gereelde beurtkrag ingestel kan word.
Die kragreus het Donderdagaand om 22:00 die noodtoestand in die land se kragtoevoer opgehef nadat beurtkrag deur die dag regoor die land toegepas is. Eskom het egter gesê met die winter oppad is die probleme nog lank nie iets van die verlede nie.
Andrew Etzinger, woordvoerder van Eskom, het Donderdag gesê die afgelope week se reën het daartoe gelei dat die kragreus se steenkoolvoorraad nat is, wat die kragnetwerk onder groot druk geplaas het. Die Suid-Afrikaanse weerdiens het ook gewaarsku dat swaar reënval vir nog twee weke verwag kan word, wat die steenkoolvoorraad kan beïnvloed en meer spanning op die kragnetwerk kan plaas. Eskom het ʼn beroep om verbruikers gedoen om elektrisiteit spaarsaam te gebruik.
Donderdag was die eerste keer seder 2008 dat beurtkrag toegepas moes word.