Eskom kry nuwe uitvoerende hoof

                                                                                                 Foto: GCIS

Foto: GCIS

Die minister van openbare ondernemings het Woensdag aangekondig dat Eskom ‘n nuwe uitvoerende hoof het.

Minister Lynne Brown het aan verslaggewers by die parlement gesê dat die kabinet die aanstelling van Tshediso Matona as uitvoerende hoof van Eskom goedgekeur het.

Matona is tans die departement van openbare ondernemings se direkteur-generaal.

“Mnr. Matona was die afgelope drie jaar nou betrokke in ‘n toesighoudende rol oor Eskom en ander staatsinstellings,” het Brown aan verslaggewers gesê.

Sy sê hoewel Matona nie baie ondervinding in die private sektor het nie, sy aanstelling ten doel het om die kragvoorsiener se leierskap te versterk.

“Leierskap is deel van die probleem by Eskom. Matona verstaan in watter rigting die regering wil gaan. Hy verstaan die debatte wat tans woed in ons omgewing. Hy moet besluite neem oor watter rigting Eskom moet inslaan. Hy moet ook dit wat verkeerd is by Eskom uitsorteer.”

Brown sê sy verwag dat Matona ‘n “strategiese rigtingverandering” sal implementeer wat Eskom meer doeltreffend en effektief sal maak.

Matona sal op 1 September die leisels oorneem.

Brian Dames was tot einde Maart vanjaar die hoof van Eskom en is deur Collin Matjila vervang. Matjila het in die pos waargeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eugene W Steyn ·

Matona is totaal onbevoeg om die reus Eskom te lei. Die tragedie van die eens wereldklas Eskom gaan voort… kry reg jou springmielies, ‘n kragopwekker, en hou Maroela Media dop vir die aksie!

Peter Says ·

“Magic Wand” Dink hulle ? Die begin van die einde. Beplande onderhoud struktuur bestaan lankal nie meer nie, dit het heeltemaal in duie gestort…Good Bye…

Griet ·

Ek is bevrees ek moet saam met Eugene. Toe dink ek: iemand het onlangs ‘n syfer van R130 000 genoem om jou hele huis op sonkrag te kry en geen Eskom krag te gebruik nie. Teen ‘n gemiddelde Eskom rekening van R2000 per maand gaan dit ongeveer 5.5 jaar neem om die R130 000 te verhaal, Jaarlikse verhogings van Eskom uitgesluit – dan word die tydperk korter.

Ek en my man het reeds met die proses begin om so ‘n bedrag uit ons huislening te “leen”. Ons het nog nie enige kwotasies ingewin nie, maar van die “kits” wat volgens verskaffers se webwerwe beskikbaar is vir sulke oorskakelings lyk heel billik. Artikels wat ek oor sulke oorskakelings gelees het, beweer dat hoe groter die aanvraag na hierdie toerusting raak, hoe goedkoper raak dit.

Wonder net as almal bly krag spaar (net om uiteindelik meer daarvoor te betaal), hoe lank gaan dit duur voor elektrisiteits verbruikers (wat wel hulle Eskom rekenings betaal) gaan sê: Genoeg is genoeg! …. wat dan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.