Eskom-kwytskelding ‘ondeurdag’, ‘skep agterdog’

(Foto: Dirk Hermann/Facebook)

Die nasionale tesourie se omstrede besluit om Eskom kwytskelding te gee van sekere bepalings in die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, wys net dat die voorgestelde kwytskelding in die eerste plek ondeurdag was. Daar is ook oorhaastig daaroor besluit, sê kenners wat die herroeping van die besluit verwelkom het.

Wouter Wessels, die VF Plus se woordvoerder oor finansies, sê die kwytskelding het net meer agterdog geskep oor Eskom se finansies, pleks daarvan om die sukkelende kragvoorsiener se finansiële state beter te laat lyk.

“Gegewe die ANC se rekord was dit onvermydelik dat ʼn besluit soos hierdie groot agterdog en selfs paniek by die publiek sou veroorsaak. Dit maak dit duidelik dat belastingbetalers toenemend aandring op deursigtigheid en dat selfs welmenende besluite van die regering met groot agterdog bejeën sal word,” sê Wessels.

Die omstrede kwytskelding, wat Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer is, sou behels dat Eskom vir die volgende drie jaar nie inligting oor wanbesteding en vrugtelose en nuttelose uitgawes in sy finansiële state sou aandui nie. Die entiteit sou dit steeds in sy maandverslae moes meld.

Dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies, sê nou die wetgewing is juis ingestel om deursigtigheid, aanspreeklikheid en gesonde bestuur van openbare finansies te verseker.

“Die kwytskelding daarvan sou dus die primêre doel van die wet ondermyn.”

George sê die kwytskelding was duidelik daarop gemik om kritieke finansiële inligting vir ouditeure weg te steek, met die hoop om ʼn beter oudituitkoms te bereik sodat Eskom sy kredietgraderings kan verbeter en die kragvoorsiener eindelik meer aantreklik vir beleggers sou vertoon.

Morné Mostert, bestuurder vir plaaslike regeringsake by AfriForum, sê die terugtrekking van die besluit wys op die belang van die wetgewing en dat dit nie omseil mag word nie.

“Dit verseker deursigtigheid by alle staatsentiteite en dat Eskom nie sy finansiële state kan manipuleer om dit beter te laat vertoon nie.”

Volgens Mostert behoort Eskom daarop te konsentreer om sy algehele bestuur te verbeter “eerder as om slim planne te probeer maak om Eskom se beeld en finansiële state beter te laat lyk”.

Eskom het Woensdag in reaksie op die nuus gesê hy gaan nie enige kommentaar lewer voordat hy die saak met die regering bespreek het nie.

George sê die groot vraag is nou of hierdie saak werklik afgehandel is. Die DA het daarom reeds hofstukke voorberei om die vrystelling te laat hersien en tersyde te stel – sou die terugtrekking daarvan nie binnekort in die Staatskoerant gepubliseer word nie.

“Dit is verstommend dat daar probeer is om finansiële inligting te manipuleer in ʼn ruimte waar die Suid-Afrikaanse regering reeds nie vertroue geniet nie.”

Ook AfriForum het Woensdag aangedui dat hy nie sal skroom om regstappe te doen sou die gewraakte kwytskelding weer die lig sien nie.

Sakeliga het intussen ondersoek begin instel na die mate waartoe soortgelyke kwytskeldings vir ander staatsinstellings oorweeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Michael ·

Transnet is dieselfde kwytskelding gegee en niemand praat daaroor nie

Yvonne ·

Ek hou nie asem op nie…..hulle gaan weer probeer wag vir stof om te gaan le

Casper ·

Hoekom die skielike kwytskelding komende van die minister van finansies.Wat wil hulle wegsteek of wil iemand die koei melk terwyl daar nog melk is.Die regering wil korrupsie uitroei,of wil hulle regtig.

Harley Davidson ·

Dit is so met alles wat die ANC doen voor 94 was dit om ‘n eerste wêreld weermag te probeer aanvat op die grense,na 94 met fw de klerk se hulp het alles wat hulle beplan het ook gefaal.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Hierdie toenemende ANC gedrag is tiperend van daardie regerings wat die voorstaanders is van ‘n Outoritêre Globale Orde teenoor die Westerse Demokratiese lewensuitkyk. Die ANC reken hy is in die meerderheid en dat hy die Rule of Law is en dat die staat eintlik die ANC is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.