Eskom lê twee loonaanbiedinge ter tafel

Argieffoto

Die vakbonde by Eskom sal Woensdag twee salarisaanbiedinge van die kragvoorsiener na hul lede neem om ʼn mandaat te bekom.

Die National Union of Mineworkers (NUM), Solidariteit en die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) en Eskom het Dinsdag weer vergader.

Eskom bied twee opsies aan. Die eerste een behels ʼn 7%-verhoging vir 2018, 2019 asook 2020 met ʼn behuisingstoelaag wat strook met die verbruikersprysindeks (VPI).

Die tweede opsie sluit ʼn verhoging van 7,5% in 2018 en 7% vir 2019 en 2020 sonder enige VPI-verhoging op die behuisingstoelaag in.

Die NUM het intussen laat hoor dat hy Eskom se aanbod na sy lede neem vir oorweging. “Die NUM neem kennis van Eskom se jongste aanbod. Daar is twee opsies wat Eskom aan die vakbonde voorhou. Die NUM neem die aanbod na ons lede om vir ons ʼn mandaat te gee of ons dit moet aanvaar of verwerp.”

Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het Woensdagmiddag aan Maroela Media gesê dié twee aanbiedinge val binne hul mandaat en hulle sal deur hul lede gelei word in terme van watter opsie hulle verkies.

Volgens Reyneke kom die partye weer Vrydag 27 Julie byeen waartydens die aanbod bespreek en ʼn ooreenkoms moontlik geteken sal word.

Eskom en die vakbonde is al langer as ʼn maand in loononderhandelings gewikkel. Die vakbonde het aanvanklik 8% vir 2018, ʼn R500-behuisingstoelaag en ʼn 12%-bonus, of ʼn driejaar-ooreenkoms met ʼn verhoging van 8% in die eerste jaar en 8,5% vir die tweede en derde jaar geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Paul ·

Ek sou -7% en -7.5% aangebied het. O ja en die jaar daarna -12%.

Thys ·

Eskom kan di loon aanvraag bekostig hulle is dan nou net gehelp deur ‘n buiteland met miljoene so ek dink regtig hulle kan dit deurvoer en minder spandeer om vir di “baie” grootkoppe duur karre te koop

jaco ·

Lekker staak die wit mense van Soridariteit saam. Hulle moenie kom kla as Eskom hulle later weens hul “verkeerde” velkleur afdank nie.
As jy wit is en jy het wel werk, sê dan 100 maal elke dag terwyl jy werk vir die Here dankie dat jy wel werk het, en BLY NET STIL oor dinge wat pla. Die alternatief is om tuis te sit SONDER werk en ek weet hoe dit voel: dae word weke word maande word jare. Dis dan wat jy jouself verwyt dat jy nie met dit wat jy wel gehad het, tevrede was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.