Eskom maak vordering met instandhouding, kragvoorsiening

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.

Eskom sê ten spyte van groot uitdagings die afgelope vier maande, het hy goeie vordering getoon op die sleutelkwessies van die kragvoorsiener se omkeerstrategie.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het Donderdag gesê danksy die korttermyn-instandhoudingswerk wat tydens die afsonderingstydperk gedoen is, kon Eskom Woensdag 30 000 MW krag voorsien sonder dat hy enige van sy oopsiklus-gasturbines gebruik het.

“Hoewel die vertoning van die opwekkingsaanleg steeds onbestendig en onbetroubaar is, was daar effense verbetering in die krag wat beskikbaar is – met ʼn effense toename van 64% in Maart vanjaar tot 65% in April vanjaar,” het De Ruyter gesê.

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, sê teen 2 April het instandhouding met 63% toegeneem van 3 600 MW voor die afsonderingstydperk tot 9 800 MW. Intussen word 6 776 MW gehandhaaf teenoor die 4 200 MW waarvoor Eskom voor die afsondering beplan het.

“Gegrond op dié vlak van instandhouding, is die vooruitsig dat die moontlikheid bestaan van drie dae van fase 1-beurtkrag die winter. Dit is ʼn verbetering van die 31 dae van fase 1-beurtkrag wat vantevore voorspel is,” het Oberholzer gesê.

Hy sê weens die onbestendigheid en onvoorspelbaarheid van die stelsel bly beurtkrag nog vir die volgende 18 maande in die vooruitsig. Dit kan tot minstens Augustus volgende jaar voortduur, het Oberholzer gewaarsku.

Bheki Nxumalo, uitvoerende hoof van opwekking by Eskom, het gesê die kragvoorsiener het nagenoeg 38% op sy oopsiklus-gasturbines bespaar en het altesaam R4,3 miljard – pleks van die R6,98 miljard waarvoor daar voorsiening gemaak is – bestee.

Volgens Nxumalo is alle algemene bestuurdersposte by kragsentrales, asook alle vlak 1-bestuursposte intussen gevul.

“Hoewel ons nie verwag dat beurtkrag dié winter in werking gestel gaan word nie, is daar steeds ʼn kans daarvoor. Ons onderneem om Suid-Afrikaners betyds in te lig sou beurtkrag onvermydelik wees.”

Die sleutelkwessies waarop Eskom se omkeerplan berus, sluit operasionele bestendigheid, herstrukturering en ʼn verbetering van sy geldsake in.

Laasgenoemde het pas ʼn hupstoot gekry toe die Nasionale Energiereguleerder Eskom verlede week toestemming gegee het om R13,3 miljard van verbruikers te verhaal. Die verhaling is bykomend tot Eskom se jaarlikse prysverhoging.

Maroela Media het vroeër berig Phumulo Masualle, adjunkminister van openbare ondernemings, het aan die parlement gesê Eskom se vermoë om ʼn inkomste te verdien gaan geweldig aan bande gelê word deur die ekonomiese gevolge van die staat van landwye afsondering wat weens die Covid-19-pandemie geld.

Die landbouorganisasie Agri SA het intussen gewaarsku Nersa se besluit gaan die reeds sukkelende landboubedryf groot skade berokken. Die organisasie sê die huidige koers waarteen kragpryse styg, is onvolhoubaar in ʼn land met ʼn swak ekonomie wat nou boonop vererger is deur die pandemie.

Die landboubedryf het verlede jaar nagenoeg R7,4 miljard aan krag bestee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Scalla ·

Ekweet van een eskom se werker wat life line werk en mag slegs een week werk en een week by huis moet sit terwyl daar groot agterstand is met instandhouding, hoe nou?

Knormoer ·

Ai Eskom, is julle voorspelling gebasseer op die hele land nog op level 4 vir die hele winter? Vir my is daai 18 maande van loadshedding wat nooit minder word nie die beste. Die nou al seker n jaar dat daar 18 maande van loadshedding oor is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.