Eskom mag nie net munisipaliteite se krag afsny

Argieffoto: GCIS

Op grond van “nuwe” en “bepalende” argumente aangevoer deur Sakeliga in die hooggeregshof in Pretoria kan plaaslike sakegemeenskappe waarskynlik miljoene rande se regskoste teen Eskom spaar.

Dit is die implikasie van ʼn waterskeidingsuitspraak vandeesweek in die saak tussen Resilient Properties en andere teen Eskom en die eMalahleni-munisipaliteit, waaraan Sakeliga as vriend van die hof (amicus curiae) deelgeneem het om te keer dat Eskom plaaslike gemeenskappe se krag afskakel.

Ingevolge die uitspraak mag Eskom (as staatsentiteit) nie die elektrisiteit na ʼn wanbetalende munisipaliteit (ook ʼn staatsentiteit) onderbreek alvorens dit al sy remedies soos vervat in artikel 41 en 42 van die Wet op die Raamwerk vir Tussenregeringsverhoudings van 2005 uitgeput het nie.

In haar uitspraak verwys regter Wendy Hughes na Sakeliga se bydraes as bepalend. “Ons is verheug dat Sakeliga se argumente in hierdie kwessie deurslaggewend was. Ons doel was juis om die hof met goeie navorsing en insette by te staan om regspraak in die algemene belang te lewer,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê.

Verreikende implikasies

Le Roux sê die uitspraak het verreikende implikasies vir plaaslike sakegemeenskappe en die publiek landwyd: “Eskom se eensydige kragonderbrekings oor dispute met munisipale owerhede was besig om plaaslike ekonomieë landswyd te vernietig. Betalende sakelui en ander gebruikers is as’t ware as gyselaars aangehou in ʼn dispuut tussen twee wanfunksionerende arms van dieselfde staat: aan die een kant Eskom en aan die ander kant munisipaliteite.

“Dit het plaaslike sakegemeenskappe miljoene rande gekos om hofbevele te bekom om te keer dat Eskom hulle krag afsny, nadat hulle reeds vir die elektrisiteit betaal het, maar die plaaslike munisipaliteit dit nie aan Eskom oorbetaal het nie. Hierdie uitspraak plaas nou ʼn veel hoër drempel vir Eskom voordat hulle elektrisiteit na gemeenskappe mag afsny. Ons glo dit kan sakegemeenskappe landwyd miljoene aan regskoste bespaar.

“Boonop kan die uitspraak ook op ander dispute tussen staatsorgane van toepassing gemaak word. So sou die uitspraak moontlik kon meebring dat ʼn staatsentiteit wat water verskaf, maar weens ʼn rekeninggeskil met ʼn munisipaliteit die toevoer daarvan na ʼn gebied wou onderbreek, dit ook nou nie meer sonder meer kan doen nie,” sê Le Roux.

Armand Greyling, regspraktisyn by Sakeliga, sê oor die essensie van die hofbeslissing: “Eskom mag nou nie meer kragtoevoer na munisipaliteite onderbreek alvorens dit al sy remedies soos vervat in artikel 41 en 42 van die Wet op die Raamwerk vir Tussenregeringsverhoudings van 2005 uitgeput het nie.

“Aangesien so ʼn besluit om krag te onderbreek neerkom op ʼn administratiewe besluit, is artikel 6(2)(e)(iii) van die Bevordering van Administratiewe Geretigheidswet van 2000 ook van toepassing. Dit bepaal dat Eskom en munisipaliteite in sulke geskille alle alternatiewe remedies moet uitput. As dit nie gedoen word nie is ʼn besluit van Eskom om kragtoevoer te onderbreek hersienbaar deur die hof.”

Agtergrond

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga. Foto: Morné Prinsloo

Sakeliga het in Augustus 2018 aansoek gedoen om as ’n vriend van die hof gevoeg te word tot die saak wat Resilient Properties en ander instansies teen Eskom en die eMalahleni-munisipaliteit ingestel het. Die applikante het die hof versoek om in te gryp en Eskom te verhoed om die plaaslike gemeenskap se elektrisiteitstoevoer te onderbreek. Die Emalahleni-munisipaliteit het Eskom destyds omtrent R1,6 miljard geskuld.

“Nadat Sakeliga verskeie regsaksies oorweeg het, het ons uiteindelik besluit dat die Resilient-saak een van die geskikte sake is vir ons om beginsels neer te lê om te Eskom verhoed om betalende elektrisiteitsverbruikers gyselaar te hou ten einde geld van munisipaliteite te verhaal,” sê Le Roux.

Le Roux vervolg: “Ons betreur Eskom se pogings die afgelope paar jaar om die tersaaklike dispuutbeslegtingsmeganismes tot sy beskikking, soos in die Wet op die Raamwerk vir Tussenregeringsverhoudings bepaal, te omseil. Deur uit eie beweging elektrisiteitstoevoer na munisipaliteit af te skakel het Eskom nie alleen die howe probeer ontwyk nie, maar ook versuim om toepaslike dispuutbeslegtingsprosedures te volg. Iets wat die gees en doel van wetgewende bepalings ondermyn het, het uiteindelik daartoe gelei dat betalende elektrisiteitsverbruikers landswyd teen groot koste hulp by die hof moes soek.”

Ander sake en regstrategie

Die uitspraak is Sakeliga se eerste in ʼn geding teen Eskom en munisipaliteite vanjaar.

In 2018 was Sakeliga suksesvol om ʼn tussentydse interdik te bekom om te verhoed dat Eskom elektrisiteit na die gemeenskap in Musina onderbreek.

Ook in 2018 het Sakeliga finansiële bystand gelewer in ʼn saak waarin sakelui en bekommerde verbruikers in die Koster-omgewing ʼn tussentydse interdik teen die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit en Eskom bekom het om te verhoed dat elektrisiteitstoevoer onderbreek word.

Hierdie en verskeie ander sake sal nou heel moontlik op die gunstige bevindings oor Sakeliga se jongste argumente kan steun.

“Hoewel hierdie nog maar net die begin van ons regstrategie is, is ons bly om nou al so ʼn groot verskil te kan maak. Ons het ʼn uitstekende regspan en werk reeds aan verdere sake, onder meer om wanbetalende munisipaliteite onder nuwe vorme van administrasie te plaas,” sê Le Roux.

Met die oog op interpretasie van die uitspraak en oorweging van die implikasies daarvan hou Sakeliga op Woensdag 13 Maart ʼn openbare saakbespreking, met prof. Hennie Rossouw as gasspreker.

Lede van die media, belanghebbende partye soos plaaslike sakegemeenskapsverteenwoordigers en regslui, en belangstellendes word genooi om dit by te woon. Die saakbespreking is gratis, maar reservering van ʼn sitplek by [email protected] word versoek. Die bespreking vind by Sakeliga se kantoor in Gerhardstraat 109, Centurion plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Zorro ·

Ons word gyselaar gehou deur Wanbetalende individue, gemeenskappe en munisipaliteite. Dit gaan evantueel die kragprys opjaag vir die paar betalende verbruikers. Hoe dra hierdie uitspraak daartoe by om die problem op te los?

riaan ·

Geensins.

Sakeliga “cut its nose to spite its face”! Niks om oor trots te wees nie!

Al wat dit beteken is dat almal gaan suffer agv ‘n paar wat nie betaal nie en/ of nie die geld aan eskom oorbetaal nie.

As ek eskom is lewer ek direk aan verbruiker wat WIL BETAAL en sny munisipaliteit uit. Sodoende sal NIE betalers ook nie krag kry nie en sal die res van ons nie daagliks met moontlike beurtkrag afgepers word nie.

Michael ·

Maar die munisipaleteite mag die publiek se krag oor naweke afsny sonder dat hul enige krag rekeninge uit stuur en as jy een wil hê moet jy betaal daar voor.

Alwyn ·

Dagvaar Munisipaliteite en le besslag op hul meubels en toerusting . Begin by Munisipale Bestuurder se kar sodat hy in kantoor kan bly en sy werk doen

zoom zoom ·

Alwyn. Ek stem saam met jou. Dagvaar die munisipaliteit vir die gelde. Dit is tyd dat Eskom iets doen en nie net vra vir belasting geld

Grassie ·

Dit beteken korrupte skelm munisipaliteite kan nou ongestoord voortgaan om die geld wat verbruikers aan hulle betaal vir oorbetaling aan Eskom te plunder en daar is dan ‘n hofbevel wat Eskom verbied om hul krag af te sny. Ek weet nie hoe werk die sakeliga se verstand nie. As hul lede goedere vervaardig en verkoop en die verkopers hou op betaal gaan hulle sekerlik nie van hul lede verwag om voort te gaan om die goed te lewer nie. Hoekom moet Eskom dit doen? Dit is die verbruikers in die munisipaliteite se eie skuld as hul krag afgesny word want dit is hulle wat daardie skelm munisipaliteit ingestem het. Hulle moet maar die ongerief en skade verduur totdat hulle self daar huis skoongemaak het. Maar, kyk nou mooi, in Mei gaan hulle daardie selfde klomp vrot appels weer instem want hulle het mos nou ‘n hofbeslissing om agter weg te kruip.

Huh? ·

Die motor mag nie tot stilstand kom nie, maar niemand wil betaal vir die petrol wat die motor aan die ry hou nie? Hoe absurd! Hoe gaan Eskom dit regkry? Hoop die hooggeregshof kan verduidelik wie gaan betaal as wanbetalende munisipaliteite nie hoef te betaal nie, want hul krag mag nie afgesny word nie.

Anoniem ·

Ek hou veral hiervan: “Ons het ‘n uitstekende regspan en werk reeds aan verdere sake, onder meer om wanbetalende munisipaliteite onder nuwe vorme van administrasie te plaas.”

Hopelik sal die “nuwe vorme van administrasie”:
* Gelde ontvang vir elektrisiteit oorbepaal aan Eskom (soos dit hoort)
* Kragtoevoer sny na nie-betalers (soos dit hoort)
* Nie-belers opskroef vir agterstallige gelde (soos dit hoort)

Anoniem ·

Oepsie, vergewe asb die vingerfoutjie: “Nie-betalers opskroef vir agterstallige gelde.”

leser ·

as eskom nie krag mag afsny nie, mag hulle ook nie voortgaan met hulle krag onderbrekings en dit afmaak as ” load shedding” nie

Johanvz ·

Kom mense, dink logies, hoe voel jy as jou krag afgesny word maar jy het gereeld betaal? As jy ‘n besigheid is wat ‘n vervaardigingsdiens lewer en jy betaal gereeld jou kragrekening, wie kla eerste? Dis jou kliente en jy voel dit aan jou sak! Is jy besorgd oor die nie-betalers of die Munisipaliteit wat nie jou gelde oorbetaal aan Eskom nie?
Jy probeer jou krag toevoer beskerm! Dis wat die Sakeliga vir jou doen.

riaan ·

@Johanvz

Met die soort van “logika” hoort jy in die parlement! Dit is juis agv mense soos jy wat nie besorgd is oor nie-betalers en munisipaliteite wat nie geld oorbetaal aan escom nie, wat bydrae tot die situasie wat ons tans ondervind!
Nou gaan munisipaliteite juis nie die geld oorbetaal nie en dit eerder in hulle councillors en beamptes se sakke steek totdat escom nie meer kan nie en die hele land donker is?

Dink ‘n bietjie logies!

Wonder maar net! ·

Ek dink die regering moet die stadsrade bystaan met regs kennis én statutêre “byt” om nie betalers en diewe se krag doeltreffend af te sny. Die selfde moet toegepas word op munusipale wanbetaling aan Eskom .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.