Eskom-man vas oor tenderbedrog

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Sowat agt maande nadat beweerde korrupsie by Eskom by die polisie aangemeld is, is ʼn werknemer van Eskom eindelik vandeesweek in hegtenis geneem.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê ʼn 36-jarige projekbestuurder staan tereg op aanklag van bedrog en korrupsie.

Die beskuldigde, nog twee werknemers van Eskom en die maatskappy Luthando Engineering word by die beweerde bedrog betrek.

“Die projekbestuurder het na bewering in Oktober verlede R25 000 van Luthando Engineering ontvang sodat ʼn tender aan hom toegestaan word,” sê Mogale.

“In November is nog R25 000 aan die beskuldigde oorbetaal.”

Die tender was om ligte by Eskom te installeer en die kontrak sou ʼn jaar lank duur.

Nie lank nadat die geld aan die projekbestuurder oorbetaal is nie, is dit onder die aandag van die Valke se korrupsie-eenheid gebring.

Die Valke het maande lank die saak ondersoek en eindelik vandeesweek die geleentheid gekry om die beskuldigde op heterdaad te betrap.

“Die Valke het inligting ontvang dat die projekbestuurder weer geld by die Kriel-substasie sou ontvang. Die man is voorgekeer en deursoek, maar geen geld is in sy besit gevind nie.”

Die polisie het wel op R16 000 kontant beslag gelê nadat hulle die verdagte se huis deursoek het.

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die spesiale hof vir kommersiële misdaad op Middelburg in Mpumalanga verskyn.

Genl.maj. Ebrahim Kadwa, provinsiale kommissaris van die Valke, het die ondersoekspan bedank vir hul pogings om die “vlaag van korrupsie wat ekonomiese groei in die land kniehalter” hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Delia ·

Die vang van die skelms is nie storie nie. Die borg, opgeskorte vonnisse en ligte tikkies op die vingers is die probleem.

Chris dupreez ·

Net voor die verkiesing sal die klein outjies nou gearresteer word en die groottes loop nog steeds vry rond

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.