Eskom misgis hom oor opskorting van kragtoevoer aan betalende kliënte

(Argieffoto: Johannes Plenio/pixabay)

Eskom maak verkeerde gevolgtrekkings uit die uitspraak hierdie week gelewer in die Pioneer Foods-saak teen Eskom, die Walter Sisulu- plaaslike munisipaliteit en Nersa.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het in ʼn verklaring gesê teenstrydig met Eskom se mediaverklaring vandeesweek, het die kragvoorsiener nie ʼn algemene reg om elektrisiteitsvoorsiening aan betalende klante in wanbetalende munisipaliteite te beëindig nie. “Die uitspraak in die Gautengse Plaaslike Afdeling Johannesburg is ʼn uitsondering vergeleke met die tientalle ander bevindinge teen Eskom in hooggeregshowe. Die Pioneer Foods-bevinding hou verband met feite wat spesifiek op die aansoek, soos deur Pioneer Foods gebring, en het nie ʼn nuwe regspresedent geskep nie.”

Le Roux sê dit sou ʼn fout wees vir Eskom om te dink dat hy danksy die Pioneer Foods uitspraak nou sy huidige skuldinvorderingstrategie kan verskerp.

“In teenstelling met Eskom se voorstel, stel die uitspraak nie ʼn lisensie daar om die algemene beëindiging van elektrisiteitstoevoer te hervat nie. Die onderbreking van toevoer aan betalende eindgebruikers in munisipaliteite wat besig is om ineen te stort is nie ʼn oplossing nie en ook nie wettig nie. Daar moet eerder na oplossings gesoek word om elektrisiteitsbetalings weg te hou van die geldkas van verkwistende munisipaliteite, waar dit vassit, gesteel en vermors word en weerhou word van verskaffers van dienste en infrastruktuur, waarvan elektrisiteit maar een voorbeeld is.”

Daar moet van die volgende kennis geneem word rakende die Pioneer Foods uitspraak:

  1. Die uitspraak is eerder teen die saak van Pioneer Foods, as ten gunste van Eskom se reg om elektrisiteitsvoorsiening te beëindig. Dit hou verband met ʼn kombinasie van tegniese en inhoudelike aangeleenthede, met die inhoudelike aangeleenthede wat boonop op die oog af gronde vir appèl daarstel.
  2. Die saak is voor een regter aangehoor en nie ʼn vol hof, ook bekend as ʼn volbank, soos beskryf in artikel 13(1)(a) van die Hooggeregshofwet, nie. Daar is reeds ʼn oorvloed van teenstrydige uitsprake en volbank besluite wat voorkeur sal geniet bo die bevindings van die Gautengse Plaaslike Afdeling Johannesburg van die hooggeregshof.
  3. Die Pioneer Foods uitspraak is in stryd met die uitspraak van die Gautengse Afdeling Pretoria, met spesifieke verwysing na die sogenaamde Resilient-saak wat op 27 Augustus 2020 deur die volbank van die hoogste hof van appèl aangehoor is. In hierdie saak het Sakeliga die howe tot dusver suksesvol gehelp om vas te stel dat die versuim van ʼn plaaslike munisipaliteit om sy skuld aan Eskom te betaal ʼn interregeringsgeskil is, onderhewig aan die Raamwerkwet op Interregeringsverhouding, en dat dit nie betalende eindgebruikers se probleem moet wees nie. Hierdie argumente is nie in die Pioneer Foods-saak aangevoer nie. Sakeliga wag op die uitspraak van die hoogste hof van appèl wat vir hierdie tipe sake van groot belang sal wees.
  4. Die publiek het reeds daarin geslaag om tientalle interdikte van dieselfde aard te bekom as wat Pioneer Foods teen Eskom gevra het. Hierdie uitsprake staan in kontras met die uitspraak in Pioneer Foods en Sakeliga voorsien dat die tendens sal bly ten gunste van betalende eindgebruikers wat geen verantwoordelikheid dra vir die wanbestuur van munisipaliteite nie.

Le Roux sê Sakeliga “steun die beginsel dat klante moet betaal vir dienste gelewer en dat Eskom die geld wat hulle toekom dus moet ontvang”. “Ons sal egter voortgaan om Eskom teen te staan in sy strategie om betalende kliënte gyselaar te hou, aangesien dit geen oplossing bied nie. In ons huidige sake, sowel as in verdere eersdaagse gedinge en verwante ingrepe, poog ons om langdurige oplossings te ontwikkel, wat ten doel het om te voorkom dat geld wat betaal word in die hande van korrupte, verkwistende of andersins onbekwame munisipale amptenare beland.”

Le Roux sê dat sakekamers ʼn belangrike rol kan speel om die onderbreking van elektrisiteitsvoorsiening te voorkom: “Effektiewe sakekamers is van kardinale belang om weer orde en welvaart op plaaslike en munisipale vlak te herstel. Ons is beskikbaar om sakekamers te help met strategieë hiervoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet parys ·

Ek is op n plaas. Ja sukkel nog steeds nadat ek in Maart op solar gegaan het met eskom om my rekening reg te maak en hulle voeg net bedrae by . Hulle het nou maandag die paal se fuses kom trek nadat hulle nie afsprake om dit voorheen te doen nagekom het nie . En telkemale gese dit is nou reg en uitgesorteer. Na 25 jaar weet hulle nog nie waar my plaas is nie .was by my buurman. As ek voorheen eskom probleme gehad het en die paalnommer inbel dan sêhulle dit bestaan nie want ek weet hulle DRAWINGS is nie op datum nie . Onbevoegde en onopgeleide mense.

Byekonfyt ·

Miskien moet Sakeliga dan ook maar ‘n afgevaardigde na elke nie-funksionerende munisipaliteit stuur om te probeer sorg dat dit reg bestuur word.

Eragrostis ·

Ek dink nie Sakeliga het die kapasiteit daarvoor nie, want dis feitlik al die munisipaliteit in die land.

Byekonfyt ·

Inwonersvereningings moet dan ‘n prokureur aanstel wat hulle eise aan die munispaliteit stel, alle onreëlmatighede dokumenteer, ‘n saak bou en so van die munispiale bestuurders ontslae raak. Inwoners kan eerder self ‘n pad regmaak voor hul langer wag vir die munispaliteit om dit te doen. Hulle moet bewyse van alle uitgawes hou en notules van alle vergaderings ook. Dis ‘n lang proses maar liewer dit as om te sit en wag vir beter dae.

Eragrostis ·

Eerstens, baie dankie, Sakeliga, vir jul bydrae en betrokkenheid tot hierdie kwessie.

Dis hoe ek nog altyd redeneer. Dit sal mos totaal en al absurd wees as ń onderwyser, byvoorbeeld, die hele klas straf as net een leerder nie sy huiswerk gedoen het nie. Ook as die onderwyser nooit in die klas is nie, maar ń volle salaris verdien.

Maar dis presies wat Eskom (en die ANC-regering) nog heeltyd doen. Straf sommer al die landsburgers vir sommige se wanbetaling of vir sommige amptenare wat nie hul werk doen nie, die belastinggeld verkwis en nie aanwend vir dit waarvoor dit veronderstel is om vir aangewend behoort te word nie. Dit alles sonder dat dié wie eintlik oortree het, verantwoordelik te hou en te straf.

Die ANC-regering het ń kultuur van wanbetaling, wanorde en irrasionele verkiesingsbeloftes daargestel vandat hulle aan bewind gekom het in 1994. My voorstel is dus dat hulle eerstens Soweto se wanbetalers se krag moet sny om hul R18-miljard agterstallige kragrekening te vereffen.

Gert Johannes ·

Die ANC pluk die vrugte wat hy jare gelede gesaai het, deur sy mense aan te hits om nie vir dienst te betaal nie. Die kultuur om alle sverniet te wil hê is sigbaar selfs onder sy hoë amptenare in hulle werksetiek, reuse sLrisse vir n iks wat hulle doen nie. Gaan kyk maar, hulle ry duur motors, bly in blanke woon gwbiede en betaal nie hulle munisiple rekeninge nie en dan word hulle dienste nie afgeskakel nie..

Grassie ·

Eskom is ‘n fabriek wat krag opwek. Hy verkoop dit aan sommige verbruikers direk en ook aan munisipaliteite wat dit dan herverkoop, teen ‘n wins, aan verbruikers. As ‘n fabriek se kliënte nie betaal nie, staak hulle verdere lewering tot die probleem opgelos word. Dit is ‘n eemvoudige besigheidsbeginsel. As die munisipaliteit ophou om Eskom te betaal is dit ‘n saak tussen die munisipaliteit en die verbruiker. Laasgenoemde moet dan ‘n regsaksie aan die gang sit teen hul munisipaliteit om die probleem reg te stel.Die rede waarom Eskom bankrot is, is omdat hierdie beginsel nie streng gevolg word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.