Eskom ‘mislei’ oor beurtkragskedules

(Argieffoto)

Sommige energiekenners meen dat Eskom die publiek die afgelope naweek mislei het toe hy eers fase 6 en toe fase 4-beurtkrag ingestel het, maar toe eerder tot soveel as 12 uur lange beurtkrag in sommige dele van die land afgedwing het.

Dit beteken dat sommige Suid-Afrikaners te midde van ʼn hittegolf oor groot dele van die land vir die helfte van die dag sonder krag gesit het.

Volgens die nasionale praktykkode vir beurtkrag is dié tendens gelykstaande aan fase 8-beurtkrag; “tog hou Eskom vol dat fase 6 ingestel is”, sê Samantha Graham-Maré, die DA se woordvoerder vir elektrisiteit.

Die DA het as sodanig ʼn petisie aan die Eskom-stelseloperateur gerig oor wat skynbaar ʼn “groeiende neiging deur Eskom is om misleidende beurtkragadvies uit te reik”.

“Ons petisie aan die stelseloperateur is om te versoek dat hy ondersoek instel of Eskom doelbewus afwyk van die bepalings waarvoor die praktykkode voorsiening gemaak het wanneer hoër beurtkragfases ingestel word,” sê Graham-Maré.

“Indien wel, wil ons weet wat só ʼn afwyking noodsaak en wat die impak op Suid-Afrikaners is, veral as die beurtkrag-kennisgewings doelbewus misleidend is.”

Met die uitreiking van die stelseltoereikendheidvooruitsigteverslag vir die mediumtermyn was dit volgens Graham-Maré reeds duidelik dat Eskom se bedryfsreserwes kommerwekkend min is en dat die operateur onder druk is om stabiel te bly betreffende onbeplande onklaarrakings en beplande instandhouding.

Die minister van elektrisiteit was nietemin vroeër vandeesmaand optimisties dat Eskom ʼn draaipunt bereik het en die land op pad is na minder beurtkrag.

“Eskom het duidelik ander planne gehad. Die vraag is dus, word ons mislei?” sê Graham-Maré.

“Dae ná minister Kgosientsho Ramokgopa se uitsprake is fase 6-beurtkrag ingestel. Of so is ons gelei om te glo. Gegewe die urelange beurtkrag wat in sommige gebiede ervaar is, was die aankondiging van fase 6 niks anders as ʼn voorwendsel vir fase 8 nie.”

Die DA sê dit is nie die eerste keer dat gerugte die ronde doen dat beurtkrag op veel hoër fases ingestel word as wat amptelik aangekondig word nie.

“Die regering het in die verlede Suid-Afrikaners herhaaldelik versoek om deel te wees van die oplossing vir die kragkrisis deur die vraag te verminder, sonkrag te laat installeer, slimmeters te gebruik en veral die las wat beurtkrag op ons plaas, te verstaan,” sê sy.

“Maar ʼn vennootskap moet op vertroue gebou word, en wanneer dit blyk dat Eskom die einste mense wat die meeste deur hierdie krisis geraak word, mislei, word die vertroue geskend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Frank ·

Ek vermoed al lankal dat daar baie meer ure beurtkrag is as wat skedules voorgee maar mense na sulke ekstra ure maar te dankbaar is as krag weer aan kom sonder om regtig ondersoek in te stel hoekom (en seker maar gedink dit is plaaslike probleem erens)

Diepoppie ·

Ons was vrydag middag tot saterdag middag sonder krag, niemand by die ekurhuleni se reports afdeling geweet van enige krag probleme nie al was daar honderde mense wat gebel en gekla het!

Korrelkop ·

Uiters patetiese poging om te probeer bewys de Ruyter was verkeerd en hulle kan als beter doen (wat hulle nie kan nie), nou lieg dit maar

Ragnarok ·

Wondermaarnet. Eskom voel vere, want hulle word betaal om die scapegoat te wees. Die wat werklik in beheer is, sal nooit hulle gesigte wys nie. Miskien dalk so nou en dan in die wolke

Ragnarok ·

Nog n leun. Hulle praat die heeltyd van “reserwes opbou”/ Hoe doen hul dit? Want elektrisiteit kan nie gestoor word nie.
Electricity always returns to the source of the power supply (a transformer or substation). Electric current will use the paths of least resistance to return to the source. Electrical systems and supply systems are grounded to the earth. Grounding is necessary to ensure safety and reliability.

Nettie ·

Jip. Dit gebeur gereeld hier in die stad. Ons was Saterdag meer as 11 ure af. Dit vind gewoonlike amper op die uur plaas, dat die krag net afgaan sonder waarskuwing, en 2-3 ure later weer “aangaan”.

Of na 4 ure gaan dit aan en trip na ‘n paar minute weer agv “te groot aanvraag” of “overloading”. Uh-huh. Dan bly dit sommer nog 2 ure lank af.

Miskruier ·

Raai hoe voel dit in Limpopo, ons dorp was laaste 3 dae vir 12 uur af. Nou is daar nie meer water want dit word van Roodeplaatdam gepomp. Die riool bulder oor en vloei in die nylrivier in.

Koen ·

Ai tog, ragnarok. Moenie jou onkunde so uitbasuin nie. Gaan google hoe word elektrisiteit gestoor. En ek praat nou nie van batterye nie. Dit ook, ja. Maar daar is ander maniere.

Manie ·

Koen, die volgende kom uit google: All electricity that Eskom generates is fed into this grid for national distribution. Electricity cannot be stored. It must be used as it is generated. Computers in special control centres monitor how much electricity is needed throughout South Africa.

Ragnarok ·

Electricity cannot itself be stored on any scale, but it can be converted to other forms of energy which can be stored and later reconverted to electricity on demand. Storage systems for electricity include battery, flywheel, compressed air, and pumped hydro storage.

koos10 ·

Ragnarok. Reserwes is nie krag nie, maar wel water en steenkool onderandere. Steenkool kook die water wat stoom en dan turbines aandryf, wat krag opwek. In kort.

Ragnarok ·

Koos10. Daar word duidelik gestel hoeveel krag moet in reserwe wees. Nie steenkool of diesel nie

Ragnarok ·

Die krag is daar. Maar word in ander rigtings gekanaliseer. En nie na die buurstate nie

Bolandse Nooi ·

Worcester het Saterdag 12 ure beurtkrag gehad: 00:00 – 02:30; 08:00 – 12:30 en weer 16:00 – 18:30. So ja, dit wás “fase 6” … eintlik “fase 8”.

Bolandse Nooi ·

Eish, sal @Koen, @Ragnarok nou mekaar so in die hare vlieg oor of krag gestoor kan word, opgewek word en dán gestoor word, hoe dit opgewek word … Bottomline, manne, ons word aan onse neuse rondgelei deur Eeshdom omdat hulle weet ons weet nie wat hulle weet nie. Dit is: die aanvraag oorskry die aanbod en: daar is baie katjienggggggggg te maak deur so bietjie diesel “af te tap” hier en daar, so af en toe ietsie “per ongeluk” op ‘n voerband tussen die steenkool te laat val, so dan-en-wan ‘n stukkie bloudraad êrens in te druk sodat iets ontplof of “onklaar” raak ………………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.