Eskom moet verduidelik oor Trillian

Lynne Brown. Foto: Ntswe Mokoena/Flickr/GovernmentZA

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het Eskom Dinsdag 48 uur kans gegee om te verduidelik waarom hy gelieg het oor betalings wat aan die finansiëledienstemaatskappy, Trillian, gedoen is.

Colin Cruywagen, Brown se woordvoerder, het gesê die minister het in Junie vir Eskom se raad gevra om kwessies rondom die kragvoorsiener se verhouding met Trillian te verduidelik. “Na verdere onthullings van onbehoorlikheid gister het sy die direksie opdrag gegee om sy verslag hieroor binne 48 uur in te dien,” het Cruywagen gesê.

Eskom het Maandag erken die kragvoorsiener het gelieg oor die betalings van meer as R1,5 miljard aan Trillian Capital Holdings, ʼn maatskappy wat bande met die omstrede Gupta-familie en konsultasiefirma McKinsey het. Eskom het beweer daar was niks sinisters aan die betalings nie na aanleiding van die bekendstelling van ʼn verdoemende verslag oor Trillian deur adv. Geoff Budlender.

Volgens die kragvoorsiener het ʼn ander konsultantemaatskappy, Oliver Wyman, bevind dat alle betalings deur Eskom bo verdenking was. Eskom het egter Maandag erken dat Oliver Wyman in werklikheid die betalings uitgewys en ʼn wetlike hersiening van die transaksies aanbeveel het.

Budlender is deur die voormalige voorsitter van Trillian, Tokyo Sexwale, aangestel om die maatskappy se rol by staatskaping te ondersoek. In sy verslag, wat in Junie bekendgestel is, het hy bevind Eskom het in 2016 R266 miljoen aan Trillian betaal vir dienste sonder kontrakte.

Eskom het gesê hy is besig om ʼn “feitefout” te korrigeer rakende ʼn klagte hieroor deur Oliver Wyman.

Trillian is ʼn finansiëledienstemaatskappy waarvan Salim Essa, ʼn naby sakevennoot van die Guptas, sy beherende aandeel in Junie verkoop het te midde van toenemende druk oor bewerings van staatskaping.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Fires ·

Baie snaaks dat daar nie veel kom van die “Gupthaleaks” nie! Wys jou maar net die hele spul is korup.!

jack daniel ·

Gelieg! Hkm is daar ministers? Moet hul nie van sulke groot betalings bewus gemaak word nie?
Soos dit al a geruime tyd vir my lyk skuif sy die aandag van haarself af. Sy moet defnitief ondersoek word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.