Eskom na appèlhof oor munisipale skuld

Narda Vermaak

Argieffoto (Foto: Unplash)

Eskom sal hom nou tot die Konstitusionele Hof wend in die voortslepende stryd tussen Eskom en die Thaba Chweu- plaaslike munisipaliteit (TCLM) oor elektrisiteitskuld van byna ʼn miljard rand.

Die kragreus het kennis gegee dat hy dié munisipaliteit in Mpumalanga, wat die dorpe Lydenburg, Graskop en Sabie insluit, voor die Konstitusionele Hof gaan daag in ʼn poging om agterstallige skuld van R850 miljoen in te vorder.

Eskom wil ook die vorige hofbevel tersyde laat stel wat hom verhoed om die kragtoevoer na dié dorpe te onderbreek. Indien Eskom sy sin kry, sal dié dorpe daagliks vir agt uur sonder elektrisiteit sit. Watertoevoer sal waarskynlik óók onderbreek word weens die gebrek aan elektrisiteit om water te pomp.

In Oktober 2017 het Eskom die drie dorpe in dié munisipale distrik se kragtoevoer afgesny weens die munisipaliteit se onvermoë om te betaal. Lydenburg, Sabie en Graskop was daagliks vir ses en ʼn half uur tydens die week en vir sewe uur oor naweke kragloos. Die onderbrekings het drie maande lank geduur voor dié dorpe se sakekamers ʼn dringende hooggeregshofbevel bekom het en kragtoevoer in Desember dieselfde jaar herstel is.

Eskom het teen dié hofbevel ook geappelleer. Ná ʼn lang en uitgerekte hofsaak het die appèlhof in Johannesburg uitspraak gelewer dat Eskom ongrondwetlik opgetree het en die appèl is tersyde gestel.

Die hof het beslis dat Eskom se drakoniese optrede die inwoners ernstige swaarkry sou besorg, asook tot die grootskaalse mislukking van noodsaaklike dienste en infrastruktuur soos waterpompe en die rioolstelsel sou lei.

Themba Sibiya, woordvoerder van TCLM, het bevestig dat die munisipaliteit, tesame met die tien ander respondente, die aansoek tot appèl gaan teenstaan. Die respondente sluit TCLM, sy munisipale bestuurder, finansiële hoof, burgemeester, die Lydenburg-, Sabie- en Graskop-sakekamers, Nersa, die minister van energie, ʼn lid van die uitvoerende raad van Cogta en die minister van Cogta in.

Volgens Etli van der Merwe, voorsitter van Lydenburg se sakekamer en verteenwoordiger van die gekombineerde sakekamers van Lydenburg, Sabie en Graskop, is hul regsverteenwoordigers nie besonder bekommerd oor Eskom se appѐlaansoek nie. “Hulle meen dat Eskom nie ʼn sterk genoeg saak teen die kamers kan indien nie.”

Volgens Van der Merwe sit inwoners boonop sonder water wanneer Eskom die kragtoevoer sny. “In 2017 is die dorp ook sonder water gelaat omdat die waterwerke se pompe nie kon pomp nie. Op grond van dié kwessie alleen het ons Eskom aangevat oor die skending van inwoners en sake-eienaars se menseregte.”

Sikonathi Mantshantsha, Eskom se nasionale woordvoerder, het die aansoek om appèl bevestig. “Eskom het op 29 Januarie aansoek gedoen om verlof tot appél rakende die vorige uitspraak deur die hooggeregshof. Dit is inderdaad ʼn poging om die vorige uitspraak tersyde te stel sodat die munisipaliteit gedwing sal word om sy skuld aan Eskom te vereffen.”

Volgens Mantshantsha het munisipaliteite landwyd Eskom in Januarie nagenoeg R35 miljard geskuld.

ʼn Datum vir die appѐlaansoek is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pierre ·

Stem 100% met Eskom, as ek nie my krag betaal nie word dit afgesit, as n munisipaliteit nie betaal nie, sit die krag af en laat hulle likwideer, moet nie verkeerd verstaan nie ek het immige meegevoel met die inwoners.

Jaco ·

Die ANC-beheerde eskom gaan na die ANC-beheerde appèlhof om te kla oor die skuld van ANC-beheerde munisipaliteite. Dis mos absurd. Dié hele ding kan binne ‘n week afgeskryf word. Los alles binne die ANC huis op. Het die ANC dan NIKS in hulle jare van “exile” in kommunistiese lande gekeer nie? Al dié nonsens van SA was totaal afwesig in lande soos die Sowjetunie, Pole, Hongarye en Oos-Duitsland. Daardie lande was nou nie baie ruk nie, maar alles het gewerk.

Casper ·

Pierre,ek verskil met jou die posing dat escom nie jou kragtoevoer opskort as jy nie betaal nie.Die munisipaliteit staak jou kragtoevoer.As escom die munisipaliteit se kragtoevoer opskort dan word betalende inwoners ook gestraf en inwoners met “prepaid” meters ook.Dit geld vir die waterkwessie ook.Hoekom skort die munisipaliteit nie nie betalende inwoners se krag op nie en herstel toevoer as jy bewys van betaling kan voor.Die munisipaliteite is te slapgat.

Realis Thailand ·

Want die meeste beskaafde mense het betaal en die geld is wel genoeg om eskom te betaal maar dit gaan in motors ,salarisse en KFC in plaas van na Eskom

Alet ·

Alle munisipaliteite mot gesystap word. Alle verbruikers moet direk van Eskom krag kan koop. As jy nie koop nie het jy nie. So eenvoudig soos dit en klaar. Almal wat by Eskom wil koop moet prepaid meters hê. As jy nie het nie kan jy nie koop nie en het jy nie krag nie. Sal die probleem oplos. Want nou moet die betalende mense nog meer en meer opdok vir krag omdat die res nie betaal nie en die munisipaliteite elk geval nie die geld aan Eskom oorbetaal wat betaal word aan hulle nie. Is daar iemand in die ANC wat na hierdie model kan kyk en kan verstaan hoekom dit nie werk nie???

Fedup ·

We are a country with the most court cases with state entities.
How is this possible?
Never mind. Give something to the circus as they can break the unbreakable.

Yvonne ·

Wat my verstand te bowe gaan is hoekom hulle so lank toegelaat is om weg te kom met die skuld…..nou is dit miljoene der miljoene…wat n tragedie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.