Eskom: NUM vra dat ondersoek na korrupsie gedoen word

Argieffoto: GCIS

Die National Union of Mineworkers (NUM) het Vrydag gesê hoewel hy die heraanstelling van Matshela Koko as waarnemende uitvoerende hoof van Eskom verwelkom, dring hy steeds aan op ʼn volskaalse ondersoek na korrupsie by dié maatskappy.

Koko is Woensdag weer in sy pos aangestel nadat hy in ʼn dissiplinêre verhoor onskuldig op alle aanklagte teen hom bevind is. Ses aanklagte het Koko in die gesig gestaar, onder meer die beweerde versuim om ʼn konflik van belange te verklaar nadat die afdeling wat hy bestuur ʼn tender toegeken het aan die maatskappy waarin sy stiefdogter aandele het.

David Sipunzi, hoofsekretaris van NUM, het in ʼn verklaring gesê Eskom het steeds verskeie korporatiewe bestuurskwessies wat hy binnekort sal moet oplos.

“Daar is ernstige bewerings van korrupsie wat teen Eskom en Eskom-lede gemaak word en NUM is van mening dat die regering en die Eskom-direksie aandag moet gee aan hierdie bewerings ten einde korrupsie geheel en al ʼn nekslag toe te dien.

“Dit is ʼn ernstige bekommernis dat al hierdie beweerde korrupte bedrywighede plaasgevind het terwyl die Eskom-direksie toegekyk het. Dit is moeilik om te glo dat die direksie heeltemal onbewus was hiervan,” het hy gesê.

Sipunzi het gesê die enigste manier waarop korrupsie finaal in die maatskappy uitgeroei sal word, is deur ʼn kommissie van ondersoek aan te stel.

Hy het ook die bevoegdheid van die huidige Eskom-direksie bevraagteken en gesê werknemers van die maatskappy neem dikwels die blaam op hulle vir Eskom se talle probleme hoewel dit nié die geval behoort te wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Basjan ·

Fantasties! Die korrupsie gaan ondersoek word.
En daarna gaan n iemand iets oorkom nie, nadat miljoene aan die “ondersoek” gespandeer is.

HPV ·

Basjan, die miljoene wat spandeer word gaan langs die pad afgeskil en verdeel word aan honger kaders wat reeds bakhand staan en wag! Alle vorige ondersoeke, in ag genome, is jy is reg dat niks werklik gaan verander nie. Byvoorbeeld, die SAL, wat na so ondersoek miljarde inpuiting gekry het en wat maak hulle daarmee………? Gaan presies soos in die verlede voort tot die volgende ondersoek!

PJC ·

Voordat daar nie van JZ en sy kaders asook die huidige OB ontslae geraak word nie sal hierdie korrupsie maar net aanhou en aanhou sonder enige gevolge.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.