Eskom-ondersoek: Geen teken van Guptas, Myeni

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings wat opdrag gegee is om die wanbesteding van staatsgeld by Eskom te ondersoek, het Dinsdag vergader en moontlike stappe teen getuies bespreek wat versuim het om voor die komitee te verskyn nadat dagvaardings aan hulle beteken is.

Dit volg nadat die balju op 4 April onsuksesvol probeer het om dagvaardings aan Ajay Gupta, Atul Gupta, Rajesh Gupta en Duduzane Zuma te beteken by hul onderskeie laaste bekende woonadresse. Die balju kon wel daarin slaag om op 4 April ʼn dagvaarding aan Dudu Myeni te beteken om voor die komitee te verskyn. Myeni het egter nie opgedaag nie.

Die komitee het ná afloop van sy vergadering Dinsdag in ʼn verklaring bevestig komiteelede het besluit om aan die speaker van die nasionale vergadering te skryf ter versoek dat regsadvies ingewin word oor alternatiewe maniere waarop dagvaardings aan die Guptas en Duduzane Zuma beteken kan word.

“Die komitee sal ook versoek dat die speaker dit oorweeg om gepaste stappe teen me. Myeni te doen kragtens die Wet op die Magte, Voorregte en Immuniteite van die Parlement en Provinsiale Wetgewers,” lui die verklaring.

Maroela Media het vroeër berig die Gupta-broers, wat na bewering miljarde rande van Suid-Afrikaanse staatsondernemings afgerokkel het, het die komitee vroeër laat weet dat hulle nie tans in die land is nie.

Vroeër vandeesmaand is Justin van Pletzen, ʼn Suid-Afrikaanse sakeman, in Dubai in hegtenis geneem nadat hy Ajay Gupta by die Indiese konsulaat in Dubai raakgeloop, ʼn video van die ontmoeting gemaak en dié video met Suid-Afrikaanse media gedeel het.

In die video kan gesien word hoe Van Pletzen met Gupta hand skud terwyl hy vra: “Wanneer kom jy terug Suid-Afrika toe? Die land soek na jou.” Gupta lag gemoedelik en antwoord: “Hulle soek nie na my nie.” Hy sê daarna: “Hulle antwoord my nie. Die dag wat hulle antwoord, sal ek soontoe gaan.” Hy verwys vermoedelik hier na vervolgingsowerhede in Suid-Afrika.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het intussen die stryd teen die omstrede Gupta-familie tot in Dubai gevoer waar hulle die regering van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) gevra het om R169 miljoen te bevries wat die familie na bewering gesteel en uit Suid-Afrika geneem het.

ʼn Senior aanklaer wat aan die saak werk, het gesê die NVG is oortuig dat owerhede in Dubai hul samewerking sal gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Arie ·

Dit sou erg naief wees om te dink dat die broers Gupta op enige stadium vrywillig na RSA sal kom.
Doe.enigste manier.wat hulke weer in SA sal kom is op n manier soos wat Kellerman uit Bradilie na Israel.geneem kon word

Alida ·

Die Dagvaardings moes al LANKAL op hulle beteken gewees het. Dit is hoe dit gaan in SA alles word vertraag. In so’n geval is tyd van kardinale belang.

Johann ·

Tyd, energie, GELD… als NOG gemors om wat IS te ondersoek? En dan het die ondersoekers GEEN mag om. die boosdoeners voor stik te kry nie? ONAANTASBAAR STATUS van ZUMA se ZUMAIKIES….. gekke paradys!

Johan ·

Ek kan nog verstaan dat die (ruggraatlose) Guptas landuit is en nie sal terugkeer nie. Maar dat Dudu Myeni wegkom met dit wat sy doen, kan ek nie begryp nie.

Duidelik het Zuma nog “redelik invloed” in die “regte plekke”. Is Myeni nie immers ‘n “baie goeie vriendin” van Zuma nie? Die manier hoe sy “duck and dive” sê natuurlik baie in my opinie.

Laat ek nou so iets probeer soos Myeni en ek word gou gevang en fisies na die relevante owerhede gesleep.

marous ·

Die NVG kan net sowel die Atlantiese oseaan met ‘n tee siffie probeer leegskep.

Marinda ·

En so gaan dit maar. Niemand wil verantwoordelikheid neem vir hulle dade.

SjN ·

Ontspan hulle nie by Nkandla se firepool nie of het hulle dalk n verdwynpil gedrink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.