Eskom-ondersoek: ‘Komitee en getuies kort beskerming’

Argieffoto

Die DA het Sondag geëis dat lede van die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, wat tans bewerings van staatskaping by Eskom ondersoek, asook getuies wat voor die komitee moet verskyn, beskerming moet ontvang.

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA, het gesê die party het aan speaker Baleka Mbete oor die saak geskryf. “Dit is duidelik uit onlangse mediaberigte dat persone wat by onwettige aktiwiteite by Eskom betrek word, by niks sal stop om die ondersoek na staatskaping in die wiele te ry nie,” het hy gesê.

“Dit het ook aan die lig gekom dat getuies wat voor hierdie komitee verskyn in gevaar is, soos bewys deur adv. Ntuthuzelo Vanara se verklaring waarin hy beweer Bongani Bongo, die minister van staatsveiligheid, het probeer om hom om te koop om uit te tree as die bewyseleier in die ondersoek.”

Steenhuisen het gesê komiteelede word ook nou geteiken. Natasha Mazzone, die DA se lid op die komitee, is onlangs agtervolg en daar is met haar voertuig gepeuter.

“Soos die waarheid aan die lig kom dat miljarde rande onwettig vanaf ons staatsondernemings na ʼn klein groep misdadigers met politieke bande herlei word, is dit ooglopend duidelik dat beide komiteelede en getuies wat voor hierdie komitee moet verskyn, beskerming deur die parlement gegee moet word,” het Steenhuisen gesê.

“Die DA sal nie die knie buig teenoor intimidasie nie óf ons pogings staak om te verseker dat diegene wat by staatskaping betrek word, aanspreeklik gehou en strafregtelik vervolg word nie.”

City Press het Sondag berig die 17-jarige seun van Zukiswa Rantho, die waarnemende komiteevoorsitter van die ANC, is glo vandeesweek deur onbekende mans in ʼn swart Golf GTi gedreig.

Hoewel Rantho vir Jackson Mthembu, die ANC se hoofsweep, van die dreigemente ingelig het, het sy gesê sy weet nie waar die dreigemente vandaan kom of wat om daarvan te dink nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

John ·

As ons dink Eskom gee ons slapelose nagte, wag vir die atoonkragprojekte onder die nuwe minister wat al die mites rondom atoomkrag uit kan klaar, al ons vrese glo kan besweer en genoeg geld het om sulke dwaashede te bou. Moenie net in die buiteland bele nie, pak op en trek. Hierdie landjie gaan in die niet verdwyn. Die see gaan daar waar die Sahara se laaste sandduin eindig., begin…

Elize ·

Ag, John jy is altyd so NEGATIEF. Nog nooit enige positiewe opmerking gelees wat deur jou geskryf is nie…….

Hansie slim ·

Dis so jammer so ‘n groot reus soos Eskom het gevat, onder bestuur van Zupta!! Dit was ‘n maatskappy wat 20 jaar gelede deur stoere Suid Afrikaners met integriteit bestuur was!! Ongelukkig nie meer nie!!
Ek wonder hoekom SARS en Eskom in een gebou is? Al jou/sy “kinders” onder een kombers?

Elize ·

John, nog nooit enige positiewe opmerking al ooit deur jou gelees nie. Altyd NEGATIEF.

PJC ·

Ek hoop nie die getuies laat hulle intimmideer deur hierdie staatskapers nie. Weet net nie of daar iets gaan kom van hierdie ondersoek nie.

Waarheid ·

Die wat met waarheid wil UITKOM dankie maar jul sal deur HEMELVADER en die beste privaat beskerming gebruik moet maak en die rekening ter aandag vir nuwe polisie kommissaris stuur. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.