Eskom: Ontbondeling positief, maar nie ál oplossing

Eskom beoog om in drie afdelings te ontbondel. (Foto: Google Maps)

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, se verwagting dat die herstruktureringsproses by Eskom teen einde Junie afgehandel gaan wees, is waarskynlik effe oorambisieus.

Gordhan het die afgelope week tydens die voorlegging van die departement se begroting aan die parlement gesê beduidende vordering met die ontbondeling van die staatsbeheerde onderneming is reeds gemaak.

Volgens die minister gaan die verdeling van die transmissiemaatskappy teen 31 Desember vanjaar klaar wees, terwyl ʼn spertyd van 31 Desember volgende jaar vir die wetlike skeiding van die verspreiding- en opwekkingsmaatskappye in die vooruitsig gestel word.

Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van die openbare bedryf by Solidariteit, meen die minister is “opportunisties” met ʼn Junie-datum en sê heelwat oorlegpleging op voetsoolvlak is nog nie afgehandel nie.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het vandeesweek weer benadruk dat die ontbondelingsproses nie met werksverliese gepaard gaan nie, ʼn onderneming wat Solidariteit verwelkom het.

Cronjé sê die proses het egter steeds heelwat praktiese implikasies vir werkers en talle aanpassings moet aan die stelsel aangebring word. Dit moet ook nog uitgestryk word presies hoe die verskillende entiteite voortaan met mekaar gaan sake doen.

“Dit is tegnies-praktiese uitwerkings wat uitgesorteer moet word en daardie proses het tot groot mate nog nie plaasgevind nie.

“Einde Junie is baie naby. Ek dink nie hulle gaan dit haal nie.”

Vordering by Eskom

Suid-Afrikaners het vandeesweek reeds weer ʼn ronde beurtkrag agter die rug, terwyl die kragvoorsiener Donderdag opnuut gewaarsku het dat die stelsel onder druk is.

Cronjé meen egter daar word ten minste vordering by Eskom gemaak en dat De Ruyter belangrike sakebeginsels in werking stel wat op lang termyn vrugte kan afwerp.

Eskom het sy skuld die afgelope jaar met R83 miljard verminder – dit het teen die einde van Maart op R401 miljard gestaan – en Cronjé sê dit is van die positiewe tekens wat daarop dui dat Eskom in die regte rigting beweeg.

Hy meen daar is steeds heelwat plek waar die kragvoorsiener geld kan bespaar. En terwyl daar dikwels berig word oor die reusesalarisse wat die gemiddelde Eskom-werker kwansuis verdien en wat Eskom se finansiële posisie glo selfs verder verswak, sê Cronjé dit is ver van die waarheid.

Daar is in die verlede gereeld berig dat die gemiddelde jaarlikse salaris by Eskom sowat R700 000 is. Cronjé sê dié bedrag word verkry deur Eskom se salarisrekening deur sy algehele werksmag te deel. Net die 14 uitvoerende direkteure en groephoofde verdien egter gemiddeld R2,8 miljoen per jaar – en dié salarisse trek ander werkers sʼn hopeloos skeef.

“Ons moet appels met appels vergelyk. Die beeld wat deur sommiges geskep word dat gewone Eskom-werkers geweldig goed vergoed word, is nie die waarheid nie.”

Ander uitdagings

Hy sê Eskom se situasie is soortgelyk aan dié van talle ander semi-staatsinstellings: Sodra die regering betrokke is, begin probleme opduik. “Hoe minder die staat betrokke is, hoe minder is die probleme. Die gemene deler is die regering.”

Cronjé sê wanneer daar gekyk word na die bedrae geld wat Eskom weens staatskaping verloor het, word die werklike krisisse geïdentifiseer. Nog ʼn groot probleem is verkryging, met Eskom wat dikwels nie markverwante pryse vir materiaal of komponente betaal nie.

“In die verkrygingsproses is daar korrupsie en dit is waar geld wegraak.”

Die parlement se verkose komitee oor openbare ondernemings en kommunikasie het die afgelope week ook gesê Eskom se probleme is algemeen bekend, maar dat die ontbondelingsproses nie ʼn oplossing vir alles gaan wees nie.

Die komitee het benadruk dat die proses nie tot “beplande privatisering” mag lei nie en dat Eskom in staatsbesit moet bly.

Cronjé sê egter verantwoordelike privatisering kan wel suksesvol wees. “As daar winsgewendheid is, is maatskappye suksesvol, maar nie solank hulle bakhand staan by die regering vir reddingsboeie nie.

“Daar is ook ʼn siening dat semi-staatsinstellings daar is om werk te skep. Dit kan nie die uitsluitlike doel wees nie. Om werk te skep, moet jy ook wins maak.”

Cronjé sê privatisering kan lei tot groter produktiwiteit. Privatisering sal ook beteken Eskom hoef nie te voldoen aan die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies nie. Die verkrygingsproses kan dus veel vinniger gebeur en daar kan vir die beste dienste en pryse meegeding word.

“Ek dink nie ontbondeling alleen gaan ons kragprobleme oplos nie. Daar is ʼn klomp kwessies wat moet saamwerk en ontbondeling is net een gedeelte hiervan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Louisepretorius ·

Dis wonderlike nuus in ons deurmekaar wereld. Mooiso eskom ons is trots op julle

Sarel ·

Ontbondel soos met Transnet….in sy maai in. Jammer maar met hanteting van SAL _ SAA die bietjie vetroue wzt oor was verloor.
Wztvan DENEL Minister Gordhan

J P ·

Ek wonder nog steeds hoe ontbondeling nou regtig gaan help! Eskom was ‘n suksesvolle maatskappy tot 2000,sedertdien is dit al telkemale geherstruktureer, en elke keer is meer mense aangestel en het dit elke keer al hoe slegter gegaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.