Eskom onthul grootste battery in Afrika

Só lyk die Hex-Bess-battery buite Worcester (Foto verskaf deur Eskom)

Eskom het Donderdag die grootste battery-energiebergingsisteem (Bess)-projek in Afrika onthul. Eskom het amptelik die Hex-Bess-perseel by Worcester in die Wes-Kaap oopgemaak.

Die Hex-Bess is die eerste projek onder Eskom se vlagskip Bess-projek, wat in Julie 2022 aangekondig is. Die projek sal na verwagting druk op die nasionale kragnetwerk verlig.

Dit maak gebruik van groot batterye met ʼn kapasiteit van 1 440 MWh per dag en kapasiteit van 60 MW PV.

Die Hex-perseel is spesifiek ontwerp om 100 MWh energie te stoor, groot genoeg om ʼn dorp soos Mosselbaai of Howick vir sowat vyf ure lank van krag te voorsien. Dit vorm deel van fase 1 van Eskom se Bess-projek wat die installasie van ongeveer 833 MWh bykomende bergingskapasiteit by agt Eskom-substasies in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, die Wes-Kaap en die Noord-Kaap te skep. Hierdie fase sluit ook sowat 2 MW sonkrag- fotovoltaïese kapasiteit (PV) in.

“Ons is dankbaar vir die verskeie finansierders van die Eskom-Bess-projek en ons konstruksievennoot, Hyosung Heavy Industries,” sê Monde Bala, Eskom se uitvoerende groepshoof vir verspreiding. “Dit is ʼn bewys van wat ons kan bereik wanneer ons as ʼn span saamwerk met die bedryf en plaaslike gemeenskappe.”

Só lyk die Hex-Bess-battery buite Worcester (Foto verskaf deur Eskom)

“Ons doen baanbrekerswerk met die implementering van die Bess-tegnologie wat as ʼn grootskaalse kommersiële projek dien om die tegnologie se lewensvatbaarheid en voordele te bekragtig,” sê Velaphi Ntuli, Eskom se algemene bestuurder van verspreiding.

Bheki Nxumalo, Eskom se uitvoerende groepshoof vir kragopwekking, meen die Hex-projek is ʼn teken van dit wat Eskomspanne kan doen om alternatiewe, innoverende en langdurige oplossings te vind vir die land se kragprobleme.

Die plaaslike gemeenskap van Worcester trek voordeel uit die Hex-projek waar sowat 250 plaaslike gemeenskapslede in diens geneem is. Twaalf sentrums vir vroeëkinderjare-ontwikkeling is met speelgrond- en opvoedkundige materiaal ondersteun en rekenaars en 500 skooluniforms is geskenk. Ander korporatiewe beleggingsprojekte sal voor die einde van Maart 2024 uitgevoer word.

Sodra die eerste fase afgehandel is, sal Eskom met fase 2 van die projek begin wat die installasie van ʼn verdere 144 MW van bergingskapasiteit insluit, ekwivalent aan 616 MWh by vier Eskom-verspreidingspersele en een oordragperseel. Die sonkrag-PV-kapasiteit in dié fase beloop 58 MW.

“Die uitrol van dié tegnologieë, saam met ʼn gedissiplineerde uitvoering van ons kragopwekkingsherstelplan wat in Maart 2023 begin het, en ten doel het om die energiebeskikbaarheidsfaktor teen die einde van Maart 2025 op te stoot na 70%, sal die nodige megawatts aan die land verskaf om kragopwekkingsbeperkings te takel,” het die kragvoorsiener gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.