Eskom ontken berigte oor Koko-verhoor

Argieffoto: GCIS

Eskom het Woensdag op skerp kritiek gereageer deur aan te voer dat die dissiplinêre verhoor van Matshela Koko, die geskorste uitvoerende hoof van Eskom, “regverdig, professioneel en deursigtig” is.

Die kragvoorsiener het in ʼn verklaring gesê Eskom het met kommer kennis geneem van mediaberigte wat beweer dat die dissiplinêre verhoor misluk het en dat die hele proses nou ʼn klug is waarvan die uitslag reeds vooraf bepaal is.

Zethembe Khoza, tydelike voorsitter van Eskom, het gesê hy wil dit onomwonde stel dat die dissiplinêre verhoor regverdig, professioneel en deursigtig is. Volgens hom het die media ook toestemming om die saak wat gewoonlik as ʼn interne aangeleentheid hanteer word by te woon.

Khoza het bygevoeg dat die voorsitter van die verhoor sowel as die bewysstukleiers van albei partye bevoegde en onafhanklike professionele persone is wat aan hoogsgereguleerde instansies behoort.

Hy het ook gesê dit is sleg dat die voorval op 20 Oktober toe Eskom se vorige bewysstukleier betrokke was in ʼn onderonsie met ʼn joernalis nou die integriteit van die dissiplinêre verhoor oorskadu. “Eskom het onmiddellik opgetree en die vorige bewysstukleier vervang om die verhoor te beskerm en die onafhanklikheid en die vryheid van uitdrukking van die media, soos dit in die grondwet vervat is, te behou,” het hy gesê.

Khoza het ook gesê Eskom neem met kommer kennis van berigte wat meld dat getuies glo nie wil getuig by die verrigtinge nie. Volgens hom het sommige getuies verkies om die versoek om te getuig van die hand te wys op grond van die regsadvies wat hulle van hul prokureurs ontvang het.

Khoza het gesê Eskom het nou geen keuse nie as om sonder hierdie getuies met die verhoor voort te gaan. Koko sal môre om 09:00 in sy verdediging getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.