Eskom ontken werkers staak

Argieffoto: GCIS

Argieffoto: GCIS

Eskom het Maandag ontken dat werkers verbonde aan die National Union of Mineworkers (NUM) Maandag begin staak het nadat voortslepende loononderhandelings by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vasgeval het.

Die loononderhandeling is vandeesweek reeds in sy vierde week nadat dit middel-Julie begin het. Die NUM eis ʼn salarisverhoging van 12% vir die hoogsbetaalde werkers en 13% vir die laagsbetaalde werkers, maar Eskom hou by sy aanbod van 7%.

Paris Mashego, NUM se Eskom-energiesektorkoördineerder, het gesê dat sowat 15% van die vakbond se 14 000 lede by Eskom, onder meer operateurs en tegnici, aan die staking deelneem. “Ons weet Eskom sê dit is ʼn onwettige staking omdat sy werkers deel van noodsaaklike dienste is, maar ons lede is moeg daarvoor om te wag terwyl die werkgewer verder oor die aangeleentheid talm,” het Mashego gesê.

Hy het gesê NUM-lede is woedend oor die lae loonaanbod wat Eskom aanbied aangesien die kragvoorsiener vanjaar ʼn ongekende R4,6 miljard wins gemaak het. “Verlede jaar het alle werkers ʼn verhoging van 8,5% gekry toe Eskom net R200 miljoen wins gemaak het. Hierdie jaar het hulle R4,6 miljard gemaak, maar die loonaanbod is minder as verlede jaar. Ons lede kan nie verstaan hoe dit kan gebeur nie,” het Mashego gesê.

Mashego het gesê aangesien die onderhandelinge vasgeval het, sal die onderskeie partye aansoek doen dat die kwessie aan ʼn onpartydige bemiddelaar voorgelê word vir ʼn finale bevinding. Volgens Mashego is nie al die partye ten gunste daarvan om die hulp van ʼn onpartydige bemiddelaar aan te vra nie.

Khulu Phasiwe, Eskom se woordvoerder, het egter ontken dat daar ʼn staking by die kragvoorsiener aan die gang is en het gesê enige werker wat sonder verlof van die werk afwesig is, sal aanspreeklik gehou word. “Daar is nie ʼn staking by Eskom nie. Van ons kant is dit werkers wat nie by die werk is nie en aan hul bestuurders sal moet antwoord wanneer hulle terugkeer,” het Phasiwe gesê.

“Hulle weet dat hulle nie mag staak nie aangesien hulle noodsaaklike dienste vervul, net soos die weermag of nooddienste.”

Phasiwe het bygevoeg dat Eskom steeds bereid is om met die NUM te onderhandel. “Ons het die saak weer na die KVBA verwys vir bemiddeling en wag nou op ʼn datum wat hopelik hierdie week sal wees,” het hy gesê.

Intussen het Eskom in ʼn verklaring gesê Dinsdag sal presies een jaar wees sedert die kragvoorsiener laas beurtkrag moes implementeer, grootliks weens die intensiewe instandhoudingsprogram wat hy oor die afgelope 12 maande in werking gestel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jolene ·

Dankie vir die gratis nuus Maroela Media. Dit is sielsvernietigend om uitgesluit te word van nuusgebeure omdat mens nie subskripsiefooie kan bekostig nie.

snoefie ·

word Walker eskom. TV nuus het beeldmateriaal van julle “nie stakende” workers uitgesaai. deel bedankingsvorms onder julle dansers uit.

John ·

Met ‘n baas wat R9 milj pj ontvang, miljoene Suid-Afrikaners wat in die winter moet raap en skraap om krag te bekostig, en Eskom-werkers wat elke jaar eis en eis, lyk die prentjie donker. Nou wil Eskom Nersa uit die pad stoot en kernkragstasies op elke hoek en draai in die land oprig, wat die verbruiker glo duurder gaan kos as nou. Stakings en swak onderhoud en kernkrageenhede is nie goeie bedmaats nie en wanneer onkunde en dwaasheid gedy, is mega-probleme ons voorland.

KarooKlong ·

Hallooooooooooooooooooo, eskom, kyk Woensdag en gee weer vir ons ‘n antwoord.

KarooKlong ·

Jammer ek het iets uitgelaat …kyk wat gebeur Woensdag….

Johann ·

En die verskil tussen ESKOM wat werk en nie werk nie is…..?

Zumie ·

Hulle staak nie …. hulle werk net so stadig dat mens sal sweer hulle staak…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.