Eskom: Ooreenkomste vir munisipaliteite wat nie betaal nie

Argieffoto (Foto: SnapwireSnaps, Pixabay)

Argieffoto (Foto: SnapwireSnaps, Pixabay)

Eskom het betalingsooreenkomste gesluit met 10 van die 20 munisipaliteite wat agterstallige rekenings het.

Maroela Media het vroeër berig Eskom het alle betrokke partye in kennis gestel dat hy van 5 Junie die grootmaatverskaffing van elektrisiteit aan 20 munisipaliteite gaan staak indien geen betalings ontvang word nie. Die totale munisipale skuld was in daardie stadium R4.67 miljard wat langer as 30 dae agterstallig was.

Die 20 munisipaliteite het Eskom nagenoeg R3.68 miljard geskuld.

“Sedert die aankondiging is die totale uitstaande munisipale skuld verminder tot R54 miljoen,” het Eskom Donderdag in ʼn verklaring gesê. Die volgende 10 munisipaliteite het betalingsooreenkomste bereik:
– Nama Khoi plaaslike munisipaliteit (sluit Springbok, Vioolsdrif en Okiep in die Noord-Kaap in)
– Nketoana plaaslike munisipaliteit (sluit Arlington, Petrus Steyn en Reitz in die Vrystaat in)
– Nala plaaslike munisipaliteit (sluit Bothaville en Wesselsbron in die Vrystaat in)
– Dihlabeng munisipaliteit (sluit Bethlehem, Clarens en Fouriesburg in die Vrystaat in)
– Thabazimbi plaaslike munisipaliteit (sluit Northam en Thabazimbi in Limpopo in)
– Stad Matlosana plaaslike munisipaliteit (sluit Stilfontein, Orkney en Klerksdorp in Noordwes in)
– Naledi plaaslike munisipaliteit (sluit Wepener en Dewetsdorp in die Vrystaat in)
– Madibeng plaaslike munisipaliteit (sluit Brits, Hartbeespoort en Pelindaba in Noordwes in)
– Randfontein plaaslike munisipaliteit (sluit Randfontein in Gauteng in)
– Westonaria plaaslike munisipaliteit (sluit Bekkersdal, Modderfontein en Westonaria in Gauteng in)

“Hierdie munisipaliteite se grootmaatelektrisiteittoevoer sal nie onderbreek word nie,” het Eskom verduidelik. “Die munisipaliteite moet egter deurgaans maandeliks voldoen aan die betalingsooreenkoms. Indien daar nie aan die voorwaardes voldoen word nie, sal die krag onderbreek word sonder enige verdere kennisgewing.”

Brian Molefe, waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, het gesê die organisasie het ʼn punt bereik waar hy nie meer elektrisiteit sonder betaling kan verskaf nie. “Ons is tevrede met die 10 munisipaliteite wat hul kant bring om seker te maak dat hulle die skuld delg en ons doen ʼn beroep op die ander 10 munisipaliteite om in hul spoor te volg.”

Eskom het ook openbare kennisgewings van kragonderbrekings aan die munisipaliteite in Mpumalanga en die Vrystaat gestuur wat nog agterstallige skuld het.

Die betrokke munisipaliteite is:
– Emalahleni plaaslike munisipaliteit (sluit Kriel, Ogies en Witbank in die Mpumalanga in)
– Govan Mbeki munisipaliteit (sluit Evander, Secunda en Trichardt in Mpumalanga in)
– Lekwa plaaslike munisipaliteit (sluit onder andere Standerton in Mpumalanga in)
– Msukaligwa plaaslike munisipaliteit (sluit Ermelo en Davel in Mpumalanga in)
– Maluti-a-Phofung munisipaliteit (sluit Harrismith en Kestell in die Vrystaat in)
– Matjhabeng munisipaliteit (sluit onder andere Welkom in die Vrystaat in)
– Ngwathe plaaslike munisipaliteit (sluit Parys en Vredefort in die Vrystaat in)

Die kragonderbrekings sal soos volg ingestel word:
Maandag tot Vrydag
06:00 – 10:00
17:00 – 21:00

Saterdag en Sondag
07:00 – 10:00
17:00 – 20:00

“Eskom verseker Suid-Afrika dat kragonderbrekings slegs ingestel word wanneer alle ander opsies oorweeg is,” het Molefe bygevoeg. “Eskom werk nou saam met die betrokke nasionale en provinsiale departemente deur plaaslike en nasionale strukture om die munisipale skulddelgingsproses te bestuur.

Die ander drie munisipaliteite wat ook by die oorspronklike 20 ingesluit was, is:
– Thaba Chweu plaaslike munisipaliteit (sluit Graskop, Pelgrimsrus en Sabie in Mpumalanga in)
– Lichtenburg munisipaliteit (sluit Lichtenburg en Coligny in Noordwes in)
– Makana plaaslike munisipaliteit (sluit Grahamstad en Alicedale in die Oos-Kaap in)
Dit is nie duidelik of hierdie munisipaliteite se skuld reeds gedelg is en of hulle ook ʼn betalingsooreenkoms aangegaan het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Chris van Heerden ·

Callie Soweto betaal anders sou hulle naam mos ook op die lys gewees het.

Willie Olivier ·

Wat ek nie kan verstaan nie is hoe in dit moontlik dat Parys so agterstallig is met hulle kragrekening aangesien almal in die dorp en die townships n’ pay as you go sisteem in hulle huise het. Met ander woorde almsl het klaar vir hulle krag ge betaal. So waar is al daardie geld?

Yvonne Aucamp ·

Dis wat my so baie ongelukkig maak, Willie Olivier. My krag is kontant betaal maar nou gaan ek en duisende ander in Parys en Vredefort gestraf word vir die kriminele dade van Ngwathe Munisipaliteit. Dis nie regverdig dat Eskom die verbruiker so kan benadeel nie.

Roelene van Rensburg ·

Willie, dis wat ek ook wil weet. Thabazimbi is ook lank al op die koopkrag sisteem. Dit maak nie eers n bietjie sin nie. Ons betaal. Maar wie lui daar onder? ONS!

elmarie swart ·

Ek wil net graag weet hoekom dit so moeilik is om krag direk by eskom te kan koop nie. Ek weet in die Wes-Kaap betaal ons verskillende tariewe. Stad Kaapstad beheer elke area se krag, water, erfbelasting en vullisverwydering. So as jy in n sekere area bly, betaal jy vrek baie en die ander plek onttrent niks. Laat mens net dink wie kla met die witbrood onder die arm.

Marlene ·

Eskom wil die verbruiker straf want die munisipaliteite betaal nie oor! Dis mos onregverdig! Kry n ander manier om die munisipaliteite op te foeter nie die verbruiker wat reeds betaal het nie! En DIS hkm mense ook nie hul rekenings wil betaal want die minisipaliteite steel dit!!!!! Laat ons direk by Eskom krag betaal! Ek het nie n meter maar met die grootste plesier sal ek een insit maar dan krag koop direk by Eskom! Sluit die minddel man uit! As jy dalk met n paar rand agterstallig is is die munisipaliteit op jou, sit met die hef in die hand en sny die krag af maar hulle kom skotvry, maar nogsteeds kom hul weg! Dis n sirkus…….. Weet net nie speel die rol van nar in die proses nie!!

ig ·

New Chris,Soweto skuld look miljarde maar hulle loop direk krag by Eskom.sal interesantwees om te sien watdaar gaan gebeur.

Ongelukkig Secunda ·

Dit is verstaanbaar dat Eskom hul agterstallige geld soek, maar nou word betalende inwoners ook gestraf. Munisipaliteite moet uitgeskakel word en verbruikers moet direk aan eskom betaal.

Elize ·

Ek dink aan die een kant is dit reg dat Eskom nou sy agterstallige geld eis, ek bly nou sowat 14 jaar in Parys en dit is nou seker die 4 de keer dat ONS MUNISIPALITEIT in die skuld is by Eskom. Ons het ‘n prepaid meter dus ons krag is betaal, hoekom kan ons nie DIREK van Eskom ons krag koop nie? Eskom kan maar gerus ons MUNISIPALE KANTORE, DIE INHOUD ASOOK AL DIE NUWE MOTORS WAT AANGESKAF IS KOM BESLAG OP LE EN DIT OP ‘N VEILING VERKOOP HULLE SAL DAREM ‘N PAAR RAND SO KAN KRY!

Naomi Lubbe ·

begin by die wortel vd kwaad en dit is die aangestelde bestuurders vd munisipaliteit wat met die duurste Range Rover rondry verantwoordelik te hou. Op die einde vd dag kom dit net weereens terug na “bad management” verkeerde mense in hoe poste. Ek stem 100% dat kragmeters wet gemaak word sny munisipaliteit uit en koop direk by Eskom.

daan benade ·

Wat van eskom se eie koripsie. Wie betaal daarvoor? Vra maar net.

susan ·

Parys se munisipaliteit leef lekker op die verbruikers se gelde. Het heeltyd partytjies waarvoor die munisipaliteit betaal en nie eers te praat van hul daaglikse etes wat die munisipaliteit voorsien vir die wat in die kantore werk nie. Sodra ons uiteindelik direk krag kan koop by eskom sal daardie persone se weelde weggevat word

Peet Schabort ·

Gelukkig het julle Parysenaars vir Ace wat afkomstig is van Parys. Hy behoort nog ‘n sagte plekkie te hê vir julle?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.