Eskom oorweeg planne om matrieks te help

Argieffoto (Foto: Predra6_Photos/Pixabay)

Die kragvoorsiener sal voorstelle deur die departement van basiese onderwys oorweeg om matrikulante by te staan tydens hul eindeksamen.

Die departement, bestuurders van Eskom en die departement van openbare ondernemings het vandeesweek vergader om die impak van beurtkrag op basiese onderwys in die algemeen en spesifiek die eindeksamen te bespreek.

Die departement van basiese onderwys het ʼn voorlegging gedoen oor die omvang van die eindeksamen en waarom dit belangrik is om kragtoevoer te hê.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het gesê hy besef watter ongerief beurtkrag vir matrikulante veroorsaak en dat Eskom begryp watter uitdagings beurtkrag bied.

Volgens die departement veroorsaak beurtkrag angs en spanning vir kandidate in ʼn tyd wanneer hulle heeltemal moet kan ontspan en slegs moet fokus om dié belangrike eksamen af te lê. Noodsaaklike tye om vir die eksamen voor te berei, word egter ontwrig deur beurtkrag. Verkeersontwrigting veroorsaak bykomende spanning wanneer verkeersligte soggens nie tydens beurtkrag werk nie.

Een van die departement se voorstelle is dat beurtkrag vermy moet word op 23 en 30 November, omdat die eksamen vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal Huistaal op dié dae plaasvind en skootrekenaars en ander elektroniese toestelle gebruik moet word. Die departement het onderneem om die name en fisiese adresse van die 20 sentrums in agt provinsies aan Eskom te verskaf waar dié eksamens afgelê word.

ʼn Tweede voorstel was dat Eskom beurtkrag elke aand, van Sondag tot Donderdag, tussen 19:00 en 23:00 sal opskort. Dit sal leerders in staat stel om vir die eksamen voor te berei wat hulle die volgende dag moet aflê.

Nóg ʼn voorstel is dat beurtkrag opgeskort moet word by die 194 lokale waar vraestelle tussen 8 Desember en 22 Desember 2021 gemerk sal word. Beurtkrag moet ook opgeskort word by die 37 lokale waar die uitslae tussen 11 Desember en 27 Desember 2021 aangeteken moet word.

De Ruyter het gesê die kragvoorsiener sal die voorstelle oorweeg en ʼn span sal ondersoek instel hoe dié maatreëls moontlik ingestel kan word. Volgens hom was daar ander bedrywe met soortgelyke versoeke en Eskom sal alle aanbevelings oorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Baardman ·

Teen die tyd dat die voorstelle geïmplimenteer word, is die eksamen reeds verby.

Keelvol ·

Ek stel eerder voor dat Eskom begin met die belangrikste, INSTANDHOUDING met die kragstasie. Sny alle onwettige konneksies. Sny alle wanbetalers.

Moereloosverby ·

Wow, dis so gaaf van julle! Julle weet die eksamen is amper klaar, né? Julle weet daar was nie net uitdagings met die voorbereidingstyd en verkeer op pad na die eksamen toe as gevolg van die load shedding nie, né? Weet julle hoe dit vir ‘n angstige Matrikulant voel as die load shedding in die middel van sy vraestel inskop? En daar geen back-up is wat werk nie? Nee, julle weet nie. En ‘julle’ het seker ook nie kinders in Matriek nie. Vergewe my, maar ek gaan nie my hande saamslaan en nou juig en dankie sê vir die ‘planne’ nie. Mosterd na die maal.

Papsak ·

Kort en kragtig ruk liewers vir Eskom reg eksamen amper verby en raak ontslae van daai wat Eskom so plunder en afbreek skrik wakker

annie ·

Kan ons nie begin om sonkrag-batterye gebruik wat op satelliete gemonteer is wat saam met die sonkant van die aarde wentel sodat ons soos met selfone ens sonder onderbreking, politiek en grypers en brekers kan leef nie. Ons ry in bestuurderlose motors met batterykrag sonder petrol maar hou aan om geld te verbrand vir lig.

Lida ·

Alles goed en wel…wat van die studente wat aanlyn eksamen skryf soos bv Unisa studente?

Perdeby ·

Wat met kerse. Weet ook nie wat fout daarmee is nie, want toe ek op laerskool was moes ek maar by ‘n kers eet, bad en huiswerk doen.

piet ·

As jy elektrisiteit kan bekostig dan kan jy seker ook as noodmaatreel ‘n klein gaslampie of battery-lampie bekostig.

Martie Smartie ·

Wat van De Ruyter trek soos kersvader aan en staan en kerse uitdeel by die skoolhek. Of eskom versprei afslag koepons op kerse by die kettingwinkels he he

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.