Eskom-operateur steel glo R500 000 se diesel

Ankerlig (Foto: Twitter)

ʼn Geskorste aanlegoperateur van Ankerlig in Atlantis is vandeesweek borgtog van R50 000 toegestaan nadat hy na bewering diesel ter waarde van R500 000 by Eskom gesteel het.

Angelo Cysman (40) het Woensdag vlugtig in die Atlantis-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn nadat hy kort voor Kersfees by sy huis in hegtenis geneem is op aanklag van diefstal. Hy was ten tyde van sy inhegtenisneming reeds deur Eskom as aanlegoperateur geskors.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, sê interne ondersoeke deur Eskom het sowat ʼn maand gelede aan die lig gebring dat Cysman voorgegee het dat Ankerlig se diesel afgelaai is en daarna die dieseltenkwa leeg verklaar het.

Dít terwyl hy eintlik toegelaat het dat die gesteelde diesel deur ʼn ongemagtigde voertuig van die perseel af weggery word.

Eskom het ʼn maand gelede ʼn saak van diefstal aanhangig gemaak en Cysman is Vrydag in hegtenis geneem.

Hy moet nou weer in Februarie 2023 in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.