Eskom-paneel aangewys

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa het die paneel aangekondig wat hom van raad sal bedien oor die regrukstrategieë van Eskom.

Prof. Anton Eberhard, Dolly Mokgatle, Bobby Godsell, Sy Gourah, Smunda Mokoena en Derick Elbrecht is op die paneel aangestel.

Eberhard is ’n energiekenner verbonde aan die Universiteit van Kaapstad. Mokgatle is die voormalige uitvoerende hoof van Spoornet. Godsell is ’n voormalige voorsitter van Eskom. Gourah en Moekoena is albei elektriese ingenieurs. Elbrecht is ’n verteenwoordiger van arbeid.

Ramaphosa het Woensdag in die Nasionale Vergadering die paneel bekend gemaak ná ʼn vraag oor die stappe wat die regering doen om die land se elektrisiteitsuitdagings aan te spreek.

Ramaphosa het gesê daar is verskeie intervensies wat in werking gestel word om die beperkings rakende kragvoorsiening aan te spreek, waaronder die instandhouding van kragsentrales wat voorkeur sal geniet.

Volgens Ramaphosa is daar geen kortpaaie rakende Eskom se uitdagings nie. Daar moet kort-, medium- en langtermyn-oplossings gevind word wat onafhanklik deur kenners in die energiebedryf geverifieer kan word.

Die paneel wat deur Ramaphosa aangestel is, verskil van die ministeriële raad oor energie wat binnekort deur die departement van energie aangekondig sal word. Ramaphosa is in Desember verlede jaar aangewys om toesig te hou oor die regrukstrategieë van Eskom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

*Chris ·

Dit gebeur as kundiges gefire is en onnosele kundiges aangestel word. Dit gaan mos oor geld en nie oor om ‘n maatskappy of korporasie reg te bestuur nie. Nou na vele jare pluk Eskom die vrugte van die onnosele kundiges. Nou moet kundiges aangestel word ongeag hul vel kleur en dit gaan op meriete gedoen word. Die meeste kundiges sit in die buiteland en verdien dubbeld as hier. Jaag eers die mense weg nou soek hulle weer. Dis vir my ‘n dom strategie.

Manie ·

Die Regering moet nou ophou om politieke speletjies te speel!!

Christie Joubert ·

Cyril is n briljante sakeman. Ek wonder al baie lank wat op sy kaarte staan wat hy so styf teen sy bors vashou. Ons almal weet hy gaan Zumpi kedoempi opvolg. Ek hoop met my hele hart hy gaan ekonomies dink. Die blote feit dat hy stappe neem om die Eskom gemors uit te sorteer, is vir my n stap in die regte rigting. Geen woord oor apartheid nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.