Eskom-personeel glo deur betogers in gebou vasgekeer

Eskom Megawatt Park (Foto: Google Maps)

 

JONGSTE: Die personeellede is omstreeks 17:40 toegelaat om die gebou te verlaat ná onderhandelinge suksesvol verloop het.  -Red

Personeellede van Eskom Megawatt Park in Sunninghill word glo deur betogers in die gebou vasgekeer.

ʼn Personeellid, wat anoniem wil bly, het aan Maroela Media gesê sy is al van vroegoggend op kantoor, maar hulle kan nie  die gebou verlaat nie en die hekke is gesluit. Volgens haar is daar teen Vrydagmiddag sowat 300 personeellede, insluitend skoonmakers, in die gebou vasgekeer. Sy het gesê kos en komberse is ook al aan die betogers verskaf.

Volgens berigte op sosiale media hou die betoging verband met kragtoevoer wat na Sebokeng afgesny is. Inwoners van Sebokeng het na bewering met drie busse by die toneel opgedaag.

Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, het aan Maroela Media gesê hy is nie bewus van die voorval nie. “Die hoof van sekuriteit kontak my gewoonlik dadelik as daar enige bedreiging is. Ek het nog nie enigiets gehoor nie,” het hy gesê. Volgens hom is daar sowat weekliks betogings by Eskom se kantore van inwoners wat ongelukkig is oor dienslewering.

Polisiebeamptes is op die toneel besig met onderhandelinge.

Maroela Media verneem die probleem in Sebokeng hou spesifiek verband met ‘n transformator van Eskom wat uitgebrand het as gevolg van onwettige verbindings. Inwoners het hul eie transformators op Eskom se lyn gekoppel. Tegnici het dit ontkoppel toe hulle daarvan uitgevind het. Die onderhandelinge sluit in dat Eskom onderneem om die transformator teen Maandag te vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snowball ·

Onwettige kragverbruikers pleeg nog erger kriminele dade en hou mense gevangene tot aan hulle onwettige eise voldoen word. Polisie? Weermag?
Betogers brand trokke en versper paaie soos gister op R59 Suid. Dis net een, daar was vele sulke proteste. Mense moet area vermy of maar ‘n ander pad vind want polisie neem net waar.
Anargie, chaos en ontwrigting word alledaags in die misdaadhool. Lewenskwaliteit soos dié van ‘n oorloggeteisterde land. ‘n Land verinneweer en verswelg deur korrupsie waar onbevoegde kopdoeke en hoede regeer. ANC nes.

annie ·

Mmm… die Maroela-speurders verdien hul verhogings + ‘n romerige soetetjie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.