Eskom: Personeel met vakansie; verwarring oor beurtkrag

Argieffoto

Argieffoto

Altesaam 13 000 werkers by Eskom se Medupi-kragstasie is op pad huis toe vir die Desember-vakansie te midde van die regering en die maatskappy se probeerslae om die jongste ronde beurtkrag te verduidelik, het die Sunday Times berig.

ʼn Span van 150 personeellede sal steeds werksaam wees by die Medupi-kragstasie naby Lephalale (Ellisras) in Limpopo wanneer die oorgrote meerderheid Woensdag met verlof begin.

Eskom het herhaaldelik beloof dat die land se elektrisiteitskrisis verlig sal word wanneer die Medupi- en Kusile-kragstasies krag aan die netwerk kan voorsien. Eenheid ses, die eerste by die Medupi-stasie, moes al in Maart 2011 werksaam gewees het. Die sperdatum is daarna na 24 Desember uitgestel, totdat Tshediso Matona, uitvoerende hoof van Eskom, vandeesweek aangedui het dat die eenheid waarskynlik eers in die middel van Januarie beskikbaar sal wees.

Die Sunday Times het egter glo met drie ingenieurs op die perseel gesels wat aangedui het eenheid ses is ʼn “ramp”. Die drie persone, wat anoniem wil bly, het gesê die sperdatum van middel Januarie sal “nooit gehaal word nie”. Hulle reken die eenheid sal waarskynlik eers teen Paasfees beskikbaar wees.

Een van die ingenieurs het gesê Eskom se mikro-bestuurstyl is die probleem: “Hulle weet f***ol van die bou van kragstasies.”

Met verwysing na die groot hoeveelheid werknemers wat met verlof gaan, het Roman Crookes, ʼn Eskom-beampte by Medupi, aan die koerant gesê: “Mens kan nie ʼn persoon dwing om te werk nie.”

Frans Baleni, hoofsekretaris van die National Union of Mineworkers, het gesê Eskom het nooit sy organisasie genader om spesiale reëlings te tref met die werkers om te bly nie.

Die Sunday Times berig hy het ses kragstasies landswyd besoek en ʼn aantal eenhede was buite werking.

Lynn Brown, minister van openbare ondernemings, en Matona het verskillende menings hoe om die huidige kragonderbrekings te beskryf. Brown het aan die koerant gesê daar is ʼn “obsessie” om die “beheerde en beplande beurtkrag ʼn krisis te noem”. “ʼn Krisis is wanneer daar onbeheerde kragonderbrekings plaasvind. Ons verhinder dit,” het sy gesê. “Daar is geweldige uitdagings in elektrisiteitsverbruik. Altesaam 80% van ons vloot is al in die middel van hul leeftyd en moet van die netwerk afgehaal word om instandhouding te doen.”

Brown het gesê die vertraging in instandhouding het ontstaan toe die regering in 2009 besluit het om die ligte aan te hou, en Eskom, met sy begroting, het besluit om minder instandhouding te doen om die ligte aan te hou. “Die oplossing vir die probleem lê uiteindelik voor Eskom se deur,” het sy bygevoeg. “Eskom sal doeltreffendheid in die maatskappy moet verhoog.”

Matona het egter aan die koerant gesê Eskom word verhinder om regstellende stappe te doen weens ʼn “gebrek aan besluite binne die regering en moontlik ʼn gebrek aan waardering vir die dringendheid wat Eskom in die gesig staar”.

Die koerant wou by Matona weet of beurtkrag ʼn teken van krisis is: “Dis ʼn krisis vir die land,” het hy gesê, maar bygevoeg, “Eskom is nie in ʼn krisis nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Eskom vetstaan nie die woord ‘krisis’ nie. Beurtkrag is n krisis. My opinie is dat hulle beurtkrag gebruik as manier om te toi-toi. Na hulle inspuiting van die staat aangekondig is, woeps, weg is beurtkrag. Hele besigheid is n klomp leuns en afpersing.

lillian ·

Werkers gee nie ‘n duit om nie, dink net aan hulself … klink baie soos die regering … hulle het daar geleer …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.