Eskom-raad in parlementêre pekel

(Argieffoto: ANA)

Die voorsitter van Eskom se raad, prof. William Makgoba, is kniediep in die pekel by die parlement se waghondkomitee, die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), nadat hy nie opgedaag het vir ’n sitting oor Eskom se uitdagings nie.

Parlementslede het Woensdagoggend, net voor die aanvang van die vergadering, ’n SMS ontvang dat Makgoba en sy raad ander verpligtinge het en dus nie die vergadering gaan bywoon nie.

Parlementslede van alle partye was behoorlik die hoenders in vir Makgoba, ’n baie omstrede voormalige rektor van die Universiteite van die Witwatersrand en KwaZulu-Natal, en die DA-LP Alf Lees het opgemerk dat Makgoba duidelik dieselfde houding het waarmee hy soveel skade aan daardie twee universiteite aangerig het.

Die ANC-LP Bheki Hadebe het voorgestel (en dit is so aanvaar) dat Makgoba aangesê word om aanstaande Woensdag (2 September) voor Skoor te verskyn. As hy weer nalaat om dit te doen, moet hy gedagvaar word, en as hy daarna nie opdaag nie, moet ’n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik word.

Die voorsitter van Skoor, Mkhuleko Hlengwa van die IVP, het saamgestem oor Makgoba se ingesteldheid, en het die Eskom-bestuur sowel as die amptenare en parlementslede om verskoning gevra dat hul tyd, moeite en geld so gemors is deur Makgoba se minagting van die parlement.

Die sitting is dus vir volgende Woensdag herskeduleer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marius ·

Asseblief tog . Niemand in die hool is in die pekel tensy hy of sy wit of brand arm is nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.