Eskom sal binnekort tydelike leierskap aankondig

Brian Molefe. Foto:leadershipplatform. com

Brian Molefe. Foto:leadershipplatform. com

Eskom het Vrydag gesê hy sal binnekort ʼn waarnemende leier, met die goedkeuring van Lynne Browne, die minister van openbare ondernemings, aankondig nadat Brian Molefe, Eskom se uitvoerende hoof, Vrydag onverwags bedank het.

Maroela Media het vroeër berig Molefe het in ʼn verklaring gesê hy sal Eskom op 1 Januarie verlaat. Eskom het in ʼn verklaring gesê Molefe se besluit is “jammer maar verstaanbaar”. Volgens Eskom het Molefe en sy bestuurspan die kragvoorsiener se operasionele en finansiële toestand omgekeer wat gelei het tot 15 maande waarin daar geen beurtkrag toegepas is nie.

“Die maatskappy se likiditeitsposisie het ook aansienlik verbeter met likiede bates wat met 81,6% van R24,1 miljard ʼn jaar gelede tot R43,8 miljard op 30 September 2016 vermeerder het,” het Eskom gesê.

Die kragvoorsiener het Molefe bedank vir sy volgehoue en verbete toewyding om Eskom op die regte pad en ʼn “stewige groeikoers” te plaas.

Molefe se bedanking volg net tien dae nadat die langverwagte staatkaping-verslag bekendgestel is. In die verslag het adv. Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, gewys op Molefe en Ajay Gupta se “gemaklike verhouding” en dat hulle verskeie kere in verbinding met mekaar was. Sy het onder meer bevind dat Molefe en Ajay Gupta mekaar tussen Augustus 2015 en Maart vanjaar 58 keer gebel het. Molefe was ook tussen 5 Augustus en 17 November verlede jaar vyf keer in die Saxonwold-omgewing.

Molefe het Vrydag in ʼn verklaring beklemtoon dat Madonsela se verslag geen bevindinge gemaak het nie, maar slegs “waarnemings” genoem het. “Dit is jammer dat die verslag oorhaastig saamgestel is om ʼn spertyd te haal aangesien die openbare beskermer (OB) se termyn tot ʼn einde gekom het. Dat haar kantoor en posisie steeds voortbestaan en dat enige onvoltooide taak deur haar opvolger oorgeneem sou word, is nie in hierdie verslag in ag geneem nie,” het Molefe gesê.

“Die waarnemings wat in die verslag gemaak word, onder meer ten opsigte van my optrede, is onakkuraat, gegrond op gedeeltelike feite of doodeenvoudig onwaar. Sy was vasbeslote om hierdie waarnemings in die verslag in te sluit, sonder om enige skadelike uitlatings eers aan my te openbaar soos sy wetlik verplig was om te doen. Sy het wesenlik my grondwetlike reg om gehoor te word uitgestel tot ʼn latere datum en verwys na ʼn ander liggaam, wat sy ander mense beveel het om saam te stel.”

Volgens Molefe is sy bedanking nie ʼn skulderkenning nie, maar hy doen dit juis in belang van die maatskappy. “Ek sal ʼn tydjie afneem om te besluit oor my volgende beroepskuif. Intussen is ek vasbeslote om te bewys dat ek ʼn onreg aangedoen is deur die vroegtydige openbaarmaking van ‘waarnemings’ na aanleiding van ʼn onvoltooide ondersoek, wat die OB haarself weerhou het om ‘bevindinge’ te noem. Die waarheid sal uitkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Frederik ·

Thuli ken die manne te goed. Sy het presies geweet waar al die krippe geleë is. 15 Maande sonder beurtkrag sê ook niks, as in ag geneem word hoeveel skade ons president die ekonomie berokken nie.

Lucas ·

Eerste kader wat weghol. Wil die grote nie asb sy voorbeeld volg nie!!

Max ·

Hy het bedank omdat Zupta hom reeds aangestel het in n hoer pos !

lobo ·

Hy moet dankie sê vir die swak ekomonie die laaste 15 maande. Baie meduim tot groot nywerhede gebruik min tot niks krag wat baie ‘spaar’ KW’s beteken. Wanneer die ekonomie begin kop op tel praat ons weer.

jaco ·

as ESKOM se likiede bates R43.8 MILJARD werd is, waarom betaal ons dan so ontsettend baie vir elektrisiteit?

lettie ·

Zuma het in die openbaar gese dat SA nie beurtkrag sal ondervind nadat SA se mense bitter ontevrede was. So dis nie rerig n prestasie nie. Hy het gedoen wat van hom verwag word.

Sally ·

Hierdie beurtkrag wat ons gehad het puzzle my nou al n hele rukkie. Ewe sierlik na die Guptas betrek is by die steenkool myne het dit opgehou….wonder net of die beurtkrag nie ook n beplande ding was nie???????

Luister ·

Wonder ek ook. Alles beplan.
Ek is ook seker die nuwe OB is laaankal gekies en opgelei om Zuma & Kie te bevoordeel.

christine ·

Eintlik n grap soos hy homself lelie wit wil was. Vir my lyk hy soos n springhaas regvoor n skietlamp. Die dag toe die kamtige skroef iewers ingeval het, het ons iets gehoor, die bure het uitgekom en vir mekaar gevra wat gaan aan hier oorkant by Koeberg. Die ouens wat jare daar gewerk het, het net gelag vir die skroef storie en gese dis onmoonlik dat n skroef daarin kon val.

John ·

Mens wonder darem net watter wonderlike sjangaan daar in die sjebeen in Saxonworld is, waarheen almal stroom vir raad, handpalmlees en oosterse behandelings. Miskien moet die pers of polisie die plek opspoor en uitvind watter vreemde doepa daar te koop is. Dit moet vreeslik verslawend wees want ‘n onttrekking ontketen kwaai depressie, trane en heftige ontkennings en ‘n dringende behoefte aan samesyn met mense met soortgelyke simptome.

Jan maak n Plan ·

Ja ou Brian, jy dink ook ons is almal so dom soos julle ne. Gedink die feit dat beurt krag nou nie meer daar is nie, is alles jou toe doen, omdat jy die maatskappy so mooi bestuur. Nee dis snert, dis net dat julle plan nou klaar is en dat daar nou steenkool ten duurste by die Guptas gekoop word. En ons moet maar daarvoor betaal. Laat jou personeel so bietjie begin praat oor wat alles onderdruk word by Escom, dan kyk ons of jy nog so “smart” is.

Asjas ·

Van wanneer af is die feit dat ‘n besigheid moet geld leen om kop bo water te hou ‘n plus punt??
O ja! Vandat die Staat dit vir jou gee …
As ek die Lotto wen, het ek ook my finansiele status omgekeer deur harde en slim werk??

Ig ·

Hy laat my dink aan daai manne wat 3 uur die oggend, goed gekletter, sy kar afskryf en dan vir al wat leef en beef vertel n hond het voor hom ingehardloop .

MCS ·

Dis nie vir Molefe wat ons moet bedank dat ons nie meer “loadshedding ” het nie maar Zuma. Die rede daarvoor wat niemand noem nie is dat die meeste staalnywerhede toe gemaak is en die “demand” vir krag gebruik is nie meer so groot nie. Dit raak heel duidelik tewarm in die kombuis vir Molefe , nou gebruik hul verskonings om sy besluit mooi teversier!

Max ·

Ja, ou Zupta het al die werksgeleendhede in die staalbedryf deur apartheid geskep is uitgevoer na China.

JOHN COX ·

BRIAN HABANA moet oppas , daars n ander BRIAN wat vinniger kan HOL

Marius Liebenberg ·

Ai waar is daardie oulike Sparrow vrou nou om die waarheid te vertel

Nico ·

Molefe die eerste keer in jou lewe gebruik jy jou verstand deur te bedank asb betaal net ook die geld terug wat jy gevat en onnodig gespend het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.