Eskom se 0%-aanbod was dalk ‘taktiese fout’

Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom (Foto: ANA)

Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom, het Maandag gesê dit was dalk ʼn “taktiese fout” om die loononderhandelinge met vakbonde wat werknemers van die kragvoorsiener verteenwoordig, op 0% te begin.

“Wanneer mens met kwessies oor lone werk, dink ek ons kon dié kwessie beter by Eskom aangeroer het. Dit was miskien ʼn taktiese fout om by die onderhandelingskamer in te stap en te sê ons bied ʼn 0%-verhoging aan. Ek dink dit was bietjie verkeerd,” het hy gesê.

Mabuza, ook die voorsitter van die sakeliggaam Business Leadership South Africa (BLSA), het Maandagoggend dié kommentaar by die Oyster Box in Umhlanga gelewer. Hy het reageer op vrae ná ʼn toespraak deur Phumzile Langeni voor BLSA-lede in Durban. Langeni is deel van pres. Cyril Ramaphosa se spesiale afvaardiging vir beleggings. Langeni het lede op hoogte gebring van Ramaphosa se versoek om beleggings van minstens $100 miljard te lok.

Mabuza het gesê die besluit oor ʼn 0%-verhoging het gekom nadat Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, aangekondig het die maatskappy moet kyk waar kostes besny kan word, soos om poste te vries, salarisverhogings te vries en prestasiebonusse te verbeur.

Eskom het twee weke gelede ʼn salarisverhoging van tussen 9% en 15% verwerp wat die National Union of Mineworkers (NUM), National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) en Solidariteit voorgestel het.

Ná die kragvoorsiener hul aanbod van 0% op die tafel geplaas het, het betogings landswyd gevolg en daar is beweer dat werknemers hulself aan sabotasie skuldig gemaak het wat tot beurtkrag gelei het.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, moes ingryp om die partye weer om die tafel te kry.

Eskom het uiteindelik ʼn verhoging van 4.7% aangebied, wat die vakbonde verwerp het.

Mabuza het gesê die maatskappy is in die “ongelukkige situasie” van 48 000 werknemers wat 47 000 MW krag opwek, teenoor die 36 000 persone wat dieselfde hoeveelheid kragopwekking 10 jaar gelede verseker het.

Volgens ʼn studie deur die Wêreldbank het Eskom byna twee keer soveel werknemers as ʼn maatskappy van dieselfde grootte. “Eskom sal dus sy verkope en koste moet hersien,” het Mabuza verduidelik. “Verkope kan nie oornag verhoog nie, so ons moet na koste kyk. Ons koste is in twee groot dele – primêre energie en arbeidskoste. Ons kan om verskeie redes nie die skuld verhaal by munisipaliteite nie.”

Loononderhandelings hervat Woensdag, het Mabuza bygevoeg.

Lees alle vorige berigte oor Eskom op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Deon ·

Julle het nie die president van die land in ag geneem nie, dit was jul grootste fout, hy is nie ‘n Margaret Thatcher nie, nie naby nie. Kry hom eers om die vakbonde vas te vat en julle het die oorlog gewen.

John ·

En as die salarisse met 9% styg, betaal die verbruikers 30% meer vir hulle krag… want dan weet Eskom alles van taktiek af…

snoefie ·

die 0% was n uitnodiging tot n staking om die swakgehalte steenkool wat tot kragonderbrekings lei, te verdoesel.

Francois le Cochon ·

‘n Groot aantal werkmeners van Telkom kry al sedert 2013 0% jaarlikse verhogings. Escom se 0% is niks nuuts. Hierdie 0% vehogings het dan tot gevolg dat winste kunsmatig verhoog omrede personeeluitgawes verminder word.

Eish ·

12000 mense meer nodig om dieselfde werk te doen?
Dit staan bekend as onproduktiwiteit en is n wesenskenmerk van die post 94 bedeling.
Ons staatdiens is groter dan die Amerikaanse staatdiens wat n area 50 keer groter bedien en 250miljoen meer mense.
Tragies om die minste te sê. Indien dit Afrikanisering is, is ek in totaliteit daarteen.

christa ·

Eskom gee uitspattige verhogings aan sy senior personeel maar die mense wat die werk doen kry niks? Hoe dink die mense? net aan hulle eie rykdom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.