Eskom se 35%-prysverhoging sal ekonomie skok

Argieffoto: GCIS

Die burgerregte-organisasie AfriForum veroordeel Eskom se beplande 35%-elektrisiteitsprysverhoging ten sterkste.

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) sal op 21 Junie bekend maak of die sukkelende elektrisiteitsreus daarop geregtig is om ’n bykomende R66 miljard vir onvoorsiene uitgawes van verbruikers te verhaal.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê Eskom en die regering se probleme en wanbestuur word te maklik op verbruikers afgeskuif. “Baie van Eskom se probleme is selfgeskep. Ondanks ondersoeke en oënskynlike regstellende maatreëls wat onderweg is, is daar nog nie duidelikheid nie oor hoe die elektrisiteitsvoorsiener se probleme getakel gaan word, buiten om die verbruiker deur hoër elektrisiteitstariewe of belastings daarmee op te saal. Die uitgawes is verder nie onvoorsien nie, maar te wyte aan wanbestuur en wanbesteding.”

Volgens Brink moet Eskom sy skuld by munisipaliteite insamel, korrupsie hokslaan en ook die grootte en aard van sy werksmag en vergoedingstrukture hersien. “Om elektrisiteitstariewe met meer as 30% te verhoog, sal uiters nadelige gevolge vir verbruikers inhou, asook ’n wyer rimpeleffek op die ekonomie, voedselpryse en inflasie hê. Dit sal uiteindelik gewone mense met minder besteebare inkomste laat, terwyl daar slegs vae planne van Eskom se kant af is om kostes en ondoeltreffendheid te besnoei.”

Brink kritiseer ook vir Nersa weens toegewings aan Eskom. Die aanhoor van drie aansuiweringsaansoeke is skielik deur Nersa vervroeg sodat munisipaliteite die nuwe beplande prysverhoging vanjaar nog by hul begrotings kan insluit. Volgens die energiereguleerder hou hierdie vervroeging verband met “interne prosesse”. Dít is egter ’n onvoldoende en ondeursigtige antwoord.

“Eskom se staatsgewaarborgde monopolie moet daarbenewens verbreek word en Suid-Afrika het uiteindelik ’n meer diverse elektrisiteitsektor nodig waar meer elektrisiteitsverskaffers vir markaandeel kan meeding. Die verbruikers, ekonomie, sakesektor en werksmag sal dán die wenners wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Ella ·

Minister Radebe het verlede week gese elektrisiteit moet bekostigbaar bly. Ek kry deesdae 163 eenhede vir R200. Toe ek 24 jaar gelede hier ingetrek het, het ek 823 eenhede gekry vir R200. Ek bere al vir jare my strokies so ek suig nie die syfers uit my duim. Jammer om te se Minister Radebe krag is net bekostigbaar vir ryk mense, nie vir afgetredenes of arm mense.

haai raai ·

hi raai ella, 24 jaar gelede her ons krag rwkeni ge gekry en elke maand by munisipalekantore gaan betaal.

Kerneels ·

Jy is gelukkig Ella. Ek betaal R1.79 per eenheid, oftewel 111 eenhede vir R200. Maandeliks is my krag so R1,500. En teen 35% is dit nagenoeg R2,025 (R500 ekstra wat mens iewers moet uitkrap). Krag-, petrol- en BTA verhogings lê ons lam. En die mense wat dit afdwing kry groot genoeg salarisse om dit te absorber. Middel- en laerklas wat suffer.

Ella ·

Aan Haai raai: 24 jaar gelede het ek in my splinternuwe meenthuis ingetrek wat toegerus was met n voorafbetaal meter. Van toe af het ek kontant betaal vir elke druppel krag wat ek gebruik het. Tot vandag toe.

Mieke ·

‘n Verhoging van 35% is verregaande. Hoe op dees aarde moet Jan Alleman op straat byhou. My inkomste sukkel genoeg soos dit is om tred te hou met inflasie. Indien dié verhoging toegestaan word, gaan die miljoene sukkelende SA’ners net verder verarm – en daarmee saam kom ‘n hele spektrum sosio-ekonomiese kopsere. Dit terwyl Eskom-grootkoppe enorme salarisse en bonusse trek. Klink nie vir my reg nie….

HPV ·

Hulle skiet hulself in die voet. Eskom word al duurder, alternatiewe krag al goedkoper. Duisende huishouding maak al gebruik van alternatiewe krag.

Mrs H ·

Nee ooo hemel kyk, Eskom verstaan nie mooi dat as hulle geboikot begin word…wat dan nie?! Kyk, ek weet ook hoe om badwater te kook op gas as ek moet! Ten minste tot ek solar of n “donkie” geinstaleer het soos in die goeie ou dae man! Ek sweer dis meer koste effektief om n heerlikke vuurtjie te bou, dit so te ontwerp dat dit boonop nog n heerlikke sosiale saligge gesellige spasie ook skep… Net soos daai Mexican chimneys. Eers gaan ek (wat n mamma op my eie met twee klein kindertjies is) nou dadelik uitvind hoe bou n mens n “donkie” sisteem… Al wat dan kort is…? Sappie en vleisie lol. Klink bakgat! Kom ons kyk waar verhaal Eskom hul wanbestuurde fooitjies, want ek is moeg betaal vir hul droog maak sessies….eerlikwaar. En ons hoes maar net altyd as hulle se hoes! Stupid.

Johann Holtzhausen ·

Ek stem vol monsignor saam met die laaste paragraaf van hierdie artikel. Dis tyd dat Jan Alleman sterk standpunt inneem, anders is hierdie weereens net ‘n klasessie. Om te kan wen, is dit nodig vir klasaksie met bietjie opoffering in die vore van georganiseerde boikot, al is dit net vir eers een week van nie krag gebruik nie!

Oom Kalahari ·

Die beplande elektrisiteits verhoging moet toegepas word op amptenare en verbruikers wat ‘n sekere maandelikse salaris ontvang soos bv van R25,000 – 00 plus en nie die wat dit nie kan beskostig nie. Pensioenarisse moet van hierdie verhoging vrywaar word. Dit gaan datem deesdae rof met belasting inbetalings, BTW verhogings, brandstof verhogings, medies en voedsel, maar so hoor jy daagliks hoe miljoene rande deur amptenare van die regering in korrupte aktiwiteite betrokke is. Waar gaan dit stop!!!

WitBlits ·

Oom Kalahari – dit gaan stop as jy Australie toe emmigreer of Kalahari toe trek en van sonkrag lewe.

Frederik ·

Ja hoe gaan ons pensioen mense daarby kom as jy R20 verhooging ‘n jaar ontvang.
Ons sal maar moet terugval na kerse.

Sonbesie ·

Ons mag dalk deel van die NUWE Suid Afrika wees, maar die wet van Transvaal geld nog steeds en nou betaal ons skoolgeld vir almal wat JA gestem het!!

Daan Erasmus ·

So bessie jy is reg. Ek onthou duidelik die vraag in die referendum wat gevra is: Stem jy JA dat Eskom sy tariewe in 2018 met 30% verhoog.
Wil jy nie vir ons ‘n lys maak vir alles waarvoor ons JA gestem het nie. Nie agterna goed bysit waarvoor ons JA gestem het.

MK ·

Ons kan nie meer met alles wat net op en op gaan nie. EN NIKS KOM AF WANNEER DINGE WEER BETER GAAN NIE!!!!!!!

John ·

En dan dan betaal diegene woonagtig in kouer wintergebiede ook nog ‘winter’-strafpryse en gebruik as gevolg van die koue juis tog ook nog meer krag. G’n mens kan sulke dwase redenasie begryp nie. Teen so ‘n verhoging, en onthou gas/paraffien se prys word ook verhoog, word armes swaar gestraf. Wanneer krag net soggens vroeg aangeskakel word om geysers te verhit, is die water teen aandete yskoud. En die regulering van geysers in die dag, is Hitleragtig. Hoe bekom gehuggings langs groot paaie sonkragverhitting? Waarom nie armer buurtes in dorpe en stede ook help nie? Indien CR Eskom op sy roekelose strorie-drama-pad voorthelp, gaan die ekonomie oor die afgrond stort.

piper ·

ons moet maar maak sooams die plakkerskampe deur van alternatiewekrag gebruik te maak en dit is om jou huis te koppel direk aan die kragdrade op die sypad.

Genieve ·

En so word misdaad net meer en meer want mense kan nie eintlik meer iets bekostig nie moet nou diefstal pleeg om kop bo water te hou….35% verhoging veregaande.

De Villiers ·

Het die bestuur van Eskom nie skaamte nie. Hierdie prysverhogings te midde van hul eie wanbestuur, geweldige hoë salarisse en bonusse wat nugter alleen weet hoe dit met hul dienslewering strook. Munisipaliteite sny ook nie sommer die krag van die ‘voorheen benadeeldes’ indien hulle agterstallig raak, of tree effektief genoeg op teen dié wat onwettige kragverbindings maak nie, wat ander kinkel in die kabel is.

Frans C ·

Daar is net een manier om die gemors reg te maak en dit is die harde manier,want sagte heelmeesters maak stinkende wonde.
Sny almal wat nog by Eskom werk en deel het aan die gemors se salaris en byvoordele
met 50% en geen verhoging vir die volgende 5 jaar.Lê beslag op die bates van die wat die stinkende,sinkende skip verlaat het.Raak ontslae van alle oortollige personeel.

Lê beslag op die bates van kontrakteurs wat kontrakte op korrupte wyse verkry het.
Ontslaan die top bestuur en plaas Eskom tydelik onder bestuur van mense met bewese bestuursondervinding van groot maatskappye.

Uvonka ·

Die wat betaal sal altyd aan die kortse ent trek. Ons sal maar moet maak soos ons innoverende landsgenote wat krag verniet gebruik en ander moet betaal!

Jef ·

Laat hulle eers maar n groot skoonmaak hou by al die munsipaliteite waar korrupsie aan die orde van die dag is want daar sit die grootste probleem.
Betalinge moet direk aan die kragleweransier betaal word sonder tussenkoms van n korrupte munisipaliteit.
Eskom moet na my mening al die agterstallige betalinge verhaal by munisipaliteite en nie by die burgers van die land nie.
n Groot skoonmaak by Eskom is beslis n moet.

Nie afgetree ·

Ek is nou nie afgetree nie, maar wil net vir dié wat is, die vlg. feite neerlê: ALMAL gaan geraak word deur Eskom se voorgestelde verhoogde tariewe. Werkende mense spaar nog vir hul oudag, het huise en motors om af te betaal om darem iets oor te dra na hul oudag, en moet nog seker maak dat hul kinders die nodige naskoolse opleiding ontvang. Daarenteen, is daar nog verhoogde BTW, verhoogte petrol levies, ens. Dan is werkende mense nie eens verseker van ‘n verhoging elke jaar nie, en die meeste firmas kan nie meer bekostig om bonuses te betaal nie. In kort: Ons is ALMAL in dieselfde bootjie.

Claudette ·

Dankie ons het klaar solar ligte in ons huis ingestalleer (ons ligte af by die hoofboks). Ons het ‘n gas geyser, gas stoof….baie beter

Elsa ·

Ek wil nie eens daaraan dink hoe my Eskom rekening gaan lyk met hierdie verhoging nie. Ek het ‘n huis gekoop in ‘n landelike omgewing en moet dieselfde tarief as die boere hier langs die Oranjerivier betaal. Dit word Landrate 4 genoem en buiten die prys per eenheid, kom daar nog ander kostes ook by. So lyk die tariewe op my rekening van laasmaand:
Network Capacity Charge @ R20.17 per day for 28 days R 564.76
Network Demand Charge @ R0.2369 /kWh
Ancillary service charge @ R0.0037 /kWh
Energy Charge @ R2.0482 /kWh

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.