Eskom se bedryfshoof wéér ondersoek

Jan Oberholzer. Foto: Eskom/Twitter

Eskom het ʼn ondersoek van stapel gestuur ná bewerings van korrupsie en viktimisering deur sy bedryfshoof, Jan Oberholzer.

Eskom het in ʼn verklaring gesê hy het korrespondensie van Corruption Watch en Saftu ontvang waarin bewerings teen Oberholzer gemaak word.

“Albei organisasies noem dieselfde bron, ʼn Eskom-werknemer wat ʼn beëdigde verklaring by die kommissie van ondersoek na staatskaping ingedien het, as die persoon wat die bewerings aan die lig gebring het. In die korrespondensie doen die organisasies ʼn beroep op die Eskom-direksie om in te gryp en op te tree om die fluitjieblaser te beskerm,” lui Eskom se verklaring.

Volgens Corruption Watch het die fluitjieblaser reeds in Junie 2019 die beëdigde verklaring ingedien en gaan hy voort om saam met die kommissie te werk. “Die fluitjieblaser het ook in September 2019 ʼn formele grief ingedien nadat hy ontevrede was oor ʼn telefoniese bespreking oor werksaangeleenthede met mnr. Oberholzer.”

Eskom voer aan dat talle van die bewerings wat in die korrespondensie geopper is, nie voorheen aan die uitvoerende bestuur en die direksie van Eskom beskikbaar gestel is nie. Corruption Watch ontken dit egter.

Die kragvoorsiener sê ook dat hy Oberholzer al voorheen ondersoek het en dat daar geen ongerymdhede gevind is nie.

“In die lig van die nuwe aantygings soos uiteengesit in die korrespondensie van Corruption Watch en Saftu, insluitend beweerde magsmisbruik, het die raad van Eskom dringend stappe gedoen om hierdie aantygings in ʼn deursigtige proses te takel volgens Eskom se bestuursbeginsels en dissiplinêre kodes.”

Volgens Eskom tree dié prosesse op ʼn billike en konsekwente wyse in werking wanneer daar prima facie-bewyse bestaan dat wangedrag gepleeg is en word dit gedoen sonder vrees, guns of vooroordeel van die posisie van die werknemer betrokke.

“In die beste belang van Eskom, sowel die klaer en bedryfshoof, het die raad die dienste van ʼn onafhanklike senior advokaat bekom om die aantygings teen die bedryfshoof te ondersoek, en ná afloop van so ‘n ondersoek aanbevelings aan die raad te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael ·

Ek dink hierdie is twak die unies teiken hom omrede hy wit is en die dinge begin regmaak by Evkom saam met André de Ruiter, hier is definitief n politieke agenda agter hierdie absurde bewerings.

Carel ·

BAIE Afrikaners verloor só hulle werk . . . . gewoonlik gebeur een van die volgende:
1) Die “fluitjieblaser” soek Oberholzer se pos (lekker vet salaris) . . . suig dan ‘n paar rasistiese klagtes & “ongeruimdhede” uit sy duim & dan word die Afrikaner onder die bus ingegooi
2) Oberholzer dissiplineer “fluitjieblaser” of identifiseer korrupte aktiwiteite by die “fluitjieblaser” . . . omdat Oberholzer ‘n Afrikaner is, word die ander party outomaties die onskuldige party.

Solidariteit was al hoeveel keer in die hof gewees, om hulle lede teen dié politiek korrekte euwel te beskerm

Oljetter ·

Dit was nie moeilik om te voorspel nie. Sidra daar daadwerklik en streng te werk gegaan word skree iemand (unie) korrupsie. Jan Oberholzer is n man met dryfkrag en karakter, eienskappe wat nie maklik sit binne n organisasie waarvan die verrotting myle ver stink. Natuurlik pas sy bestuurstyl nie die nuttelose menigtes nie.
Sterkte Jan, mag reg en geregtigheid seëvier! Ons wat jou ken dra jou op die hande.

Jaco ·

As jy wit is in SA in 2020, BLY DAN WEG uit bestuursposte! Jy kan jou werk verloor weens rassisme net omdat jy vir die teagirl gesê het jy soek van nou af tee om 10.30 en nie meer 11uur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.