Eskom se bykomende beurtkrag is ‘ongrondwetlik’

(Argieffoto)

Die burgerregteorganisasie AfriForum en Eskom kan moontlik in die hof koppe stamp oor die inwerkingstelling van bykomende beurtkrag vir agterstallige munisipaliteite.

Die kragreus pas tans nie net landwye beurtkrag toe nie, maar ook bykomende beurtkrag in die geval van sekere munisipaliteite. Dit laat sommige gemeenskappe met slegs vier uur van kragtoevoer per dag. In baie gevalle betaal verbruikers hul elektrisiteitsrekeninge getrou aan die betrokke munisipaliteit, maar dié munisipaliteite versuim dan om dit aan Eskom oor te betaal. AfriForum het sy regspan opdrag gegee om die howe te nader vir ’n bevel om dié besluit te hersien indien Eskom nie hierdie wanpraktyk staak nie.

“Eskom kan nie agter ’n kontraktuele remedie skuil en ’n onbillike proses volg deur hul besluit om bykomende beurtkrag toe te pas nie,” sê Morné Mostert, bestuurder vir plaaslikeregeringsake by AfriForum. “Eskom neem dié besluit – wat grootskaalse skade aan gemeenskappe aanrig – in die afwesigheid van enige openbaredeelnameproses. Die besluit is beslis ongrondwetlik en voldoen nie eens aan die standaarde van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 nie.”

Mostert voeg by dit is vreemd dat Eskom hierdie klousule oral in werking stel waar munisipaliteite reeds agterstallig is. “Dit blyk dat Eskom hierdie klousule gebruik om druk op munisipaliteite te plaas om hul agterstallige skuld te betaal. Daar is ’n reeks ander remedies beskikbaar wat Eskom kan gebruik, maar Eskom verkies om die een te gebruik wat die meeste skade berokken.”

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake by AfriForum, sê Eskom skep nou ’n geval waar hulle die verbruik van elektrisiteit kelder (deur die maksimum-aanvraag-klousule te gebruik). Wanneer Eskom moontlik later vanjaar ’n terugwerkende aansuiweringsaansoek (RCA) wil bring, gaan hulle egter nie die gebrek aan verkope gebruik om die risikorekening aan te vul nie. “Dit kan moontlik tot ’n kragtariefverhoging lei. Eskom kan nie self ’n situasie skep, maar later hoër tariewe van die verbruiker verwag nie. Hulle moet billike prosesse volg wat aan toepaslike wetgewing voldoen,” het Brink verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter ·

In vier en negintig toe die komuniste vir almal water en krag belowe het vir stemme toe het ek se hier kom moeilikheid. Die land het sy gat gesien en klaar.

Cherokee ·

Jammer om te sê, maar dit is nie net die land nie. Dit is die geval met Afrikaans ook, te wyte aan Afrikaanssprekendes!

Adri ·

Hulle moet net die raadslede van die betrokke munisipaliteite se krag afsny en nie die hele betalende gemeenskap s’n nie.

Leon ·

He gister weer 5 ure beurtkrag gehad in Pretoria. Eergister sewe ure. ESKOM is besig om uit mekaar te val.

Cherokee ·

Is dit nie dalk ‘n geval van die veel besproke ‘bykomende beurtkrag’ by munisipaliteite wat nie skuld aan Eskom betaal nie? Want dit behoort nie soveel ure te wees nie.

Pieter ·

Dis mos normaal, siende die hele anc ongrondwetlik optree.

Kokerboom ·

Kan iemand asb erens ‘n tweede Dr Ian McRae vind as Eskom se redder? Ekt groot simpatie met die verbruiker(is self een en dis hoogs frustrerend maar dink jouself net in watter absolute chaos het die ANC kaders Eskom gelos vir oplossing deur die nuwe bestuur daarby ook onderhoudsbeperking weens Covid deur dieselfde regime. Ek wil nie in hul skoene staan!!

Simon ·

Soos sake tans staan, is die hele Suid-Afrikaanse regering ongrondwetlik! Die mense van HongKong onder die duim van die CCP, is steeds beter daaraan toe as wat die Suid-Afrikaner onder die duim van die ANC-CCP Regering is. Miskien moet Trump net een van sy nuwerwetse jets stuur om the kom pens wys.

Die Wolf ·

As ek my rek getrou betaal verwag ek dat die Munisipaliteit dit moet oorbetaal. Sal maar nou my betalings in n opwekker bele, tot tyd en wyl.

katerinadiekat ·

Wel lyk my ons grondwet is in elk geval minder werd as n strepie getrek met n goedkoop pen op n stuk gebruikte toiletpapier.

Johannes Andries ·

Nou soos ek dit sien is die agterstallige rekening Eskom se swak bestuur wat dit toegelaat het om te eskalleer tot die huidige vlak. Gewone getrou betalende inwoners word nou gestraf vir Eskom se swak bestuur en ook vir die swak en korrupte bestuur van munisipaliteit.

Ek glo in die eerste plek moet inwoners die saak hof toe vat teen Eskom en ook teen die munisipaliteit wat die direk te gevolg is van hulle swak administrasie.
Alternatiewelik moet die inwoners ‘n groep vorm soos bv die Belastingbetalers vereniging en’ n dispuut verklaar teen die munisipaliteit en ALLE belasting en Krag rekening terughou en in ‘n trust rekening inbetaal. En Eskom nader deur die hof om direk aan hulle Krag te verskaf en die munisipaliteit uit te skakel. Eskom kan dan beslag le op die kraginfrastruktuur van die betrokke munisipaliteit as deel van hulle in vordering op skuld wat uitstaande is. En almal kan dan op pre-paid aan sluit, wat sal beteken dat daar geen agterstallige rekening meer sal wees nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.