Eskom se finansiële hoof op spesiale verlof geplaas

Anoj Singh. Foto: http://www.eskom.co.za/

Anoj Singh, Eskom se hoof finansiële beampte, is Donderdag op spesiale verlof geplaas te midde van toenemende bewerings van onbehoorlike finansiële aktiwiteite deur die kragvoorsiener met maatskappye wat met die Gupta-familie verbind word.

“Die raad van direkteure van Eskom het besluit om mnr. Singh spesiale verlof te vergun hangende ʼn ondersoek,” het Eskom in ʼn verklaring gesê.

Aldus die verklaring sal Calib Cassim, wat al 15 jaar lank ʼn rekenmeester by Eskom is, as die tussentydse finansiële beampte dien.

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het gesê die raad se besluit om die spesiale verlof toe te staan, sal die weg baan vir ʼn ondersoek oor Eskom se sake. “Die ondersoek kan nou in deursigtig plaasvind en vertroue in die proses verseker. Ek het die raad gemaan om die ondersoek te bespoedig om seker te maak dat die maatskappy op sy kernmandaat kan konsentreer.”

Die minister het die spesiale ondersoek-eenheid (SOE) versoek om bewerings van onbehoorlike optrede, wat die afgelope 10 jaar aan die lig gekom het, te ondersoek.

Brown het benadruk dat Eskom belangrik is vir die gladde funksionering van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Ons wil alle belanghebbendes verseker dat die maatskappy stabiel is, soos blyk uit die onlangse finansiële verslag, en ons sal op dié pad voortbou,” het Zethembe Khoza, waarnemende voorsitter van Eskom, bygevoeg.

Die aankondiging oor Singh volg maande ná onrus by Eskom toe die regering in Mei geëis het dat Brian Molefe as uitvoerende hoof moet uittree, nadat hy in dié posisie heraangestel is ná hy verlede jaar onder omstrede omstandighede by die maatskappy weg is en Brown die raad verander het.

Singh het na bewering oorsese reise van die Gupta-familie aanvaar nadat hy Eskom se omstrede kontrak met Tegeta Exploration onderteken het. Hy moes ook vrae beantwoord oor die betaling van honderde miljoene rand van Eskom na Trillian sonder enige duidelike voordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dalene de Vente ·

Dagsê $

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Dovaz ·

Goeie vraag Alida! Word a mens se ware uitspraak dan gesensor? Hkm

jannas ·

Ou Lynne Brown probeer nou iets doen. Dit is eintlik meer om die aandag van haar korrupte skeems af te kry. Sy is a regte wolf in skaap klere en lang vingers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.