Eskom se geskorste regshoof afgedank

Suzanne Daniels, voormalige hoof van regsdienste by Eskom. Foto: Facebook

Eskom het Vrydag aangekondig dat Suzanne Daniels, die kragvoorsiener se geskorste hoof van regsdienste en -nakoming, ná afloop van ʼn dissiplinêre verhoor in die pad gesteek is.

Eskom het gesê adv. Nazir Cassim, die onafhanklike voorsitter van die dissiplinêre verhoor, het aanbeveel dat Daniels onmiddellik afgedank word nadat hy bevind het sy het haar “skuldig gemaak aan ernstige wangedrag en haar verpligting van optrede in goeie trou en met geloofwaardigheid en vertroue teenoor Eskom verbreek”.

Die kragvoorsiener het in ʼn verklaring bevestig dat hy Cassim se aanbeveling aanvaar het en ʼn afdankingsbrief reeds aan Daniels gestuur is.

Daniels is op 16 Maart vanjaar met volle betaling deur Eskom se nuwe raad en bestuur geskors.

Eskom het aangevoer die nuwe raad en bestuur het deurentyd volgehou hulle ken nie vir Daniels nie en het geen vendetta teen haar nie. “Die raad en bestuur was egter bekommerd oor die ernstige bewerings teen haar wat hulle gevoel het net behoorlik ondersoek kon word deur middel van ʼn onafhanklike dissiplinêre proses voor ʼn onafhanklike en onpartydige voorsitter.”

Vier klagtes van wangedrag het Daniels in die gesig gestaar: Die verspreiding van vertroulike Eskom-eiendomsbelang aan ʼn derde party; haar betrokkenheid by die McKinsey- en Trillian-transaksies; haar betrokkenheid by die Tegeta-transaksie; en haar goedkeuring van die mandaat van ʼn prokureursfirma en betaling aan hierdie firma vir regsdienste gelewer aan die voormalige SAUK-voorsitter voor ʼn SAUK- parlementêre ondersoek wat absoluut niks met Eskom te doen gehad het nie.

Die verhoor teen Daniels het op 14 Mei begin en is op 6 Julie afgehandel. Eskom en Daniels het hul geskrewe vertoë op 13 Julie ingedien.

Cassim het Daniels skuldig bevind op al vier aanklagte teen haar.

“Eskom moet die rol van diensverskaffers, naamlik prokureurs, rekenmeesters en ander professionele mense evalueer in die onderhandelinge ter sprake om hul aandeel in skuld, indien enige, te bepaal,” het Cassim gesê.

“Dit is belangrik, want dit stuur die boodskap dat professionele mense ʼn verpligting het teenoor die kliënt, naamlik Eskom, en nie teenoor die senior beamptes in beheer van Eskom nie. Dit sal ook verseker dat professionele mense die etiese standaarde van hul beroep handhaaf eerder as om geldelike voordele na te jaag. Eskom moet siviele regstappe doen teen diegene wat betrek is by die oortredings.”

Daniels is al deur diep waters by die kragvoorsiener nadat sy aan die lig gebring het dat sy vergaderings met die berugte sakeman Ajay Gupta gehad het waarin hy robeer het om bedrywighede by die kragvoorsiener te beïnvloed en Eskom te kaap.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het in Maart beslis dat Daniels se skorsing deur die vorige Eskom-raad onregverdig was en Eskom hom skuldig gemaak het aan onregverdige arbeidspraktyke in sy twee vorige pogings om haar te skors.

Die KVBA het vyf maande salaris aan Daniels toegestaan as vergoeding en het beslis dat sy toegelaat moet word om terug te keer werk toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

humor ·

onbevoeg vanwee gebrekkige kennis n gebrek aan verantwoordelikheidssin en inherente korupsie.

zoom zopm ·

Wat van die ander persone wat deel gehad het aan die dinge. Hulle loop nog vry rond of is in poste aangestel by ander staastsinstansies ????

Natan ·

Ek ken nog een by Eskom, sy is hoof van ‘n regsgroepering binne Eskom. Eskom, onder haar leiding, is reeds deur die magistraatshof skuldig bevind dat hulle nie hul belange verklaar nie. Die betrokke blanke vrou is betrokke by samespanning met ‘n waardeerder om waardeerde eiendom teen ‘n laer prys te waardeer , sodat Eskom dit goedkoper kan aankoop (eiendom en serwitute). Die grondeienaar verloor. Sy en die waardeerder ignoreer die hofuitspraak en gaan ongestoord voort, want wie gee om?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.