Eskom se groenkragplanne gestuit

Argieffoto

Die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (Numsa) en Transform RSA het Maandagaand ʼn dringende hofinterdik by die hooggeregshof in Pretoria bekom om Eskom te verhoed om kontrakte met 27 onafhanklike kragprodusente te sluit.

Eskom was van plan om vandag dié kontrakte vir hernubare energie te onderteken.

Numsa en Transform SA het hulle egter Maandagaand inderhaas tot die hof gewend om ʼn stokkie voor die nasionale kragvoorsiener se planne te steek.

“Die hof het bevind dat ons aansoek aan die kriteria van dringendheid voldoen en het daarom die interdik toegestaan. Verder is die minister van energie gedwing om te onderneem om nié die kontrakte te teken nie alvorens die saak tydens ʼn volledige verhoor in die hooggeregshof gefinaliseer is,” het Irvin Jim, Numsa se algemene sekretaris, in ʼn verklaring gesê.

“Dít is ʼn oorwinning vir Numsa. Transform RSA het hom by ons aangesluit in hierdie aansoek om die lewensbestaan van duisende werkers en hul families te beskerm.”

Numsa meen indien die kontrakte onderteken word, sal dit nadelig wees vir die werkersklas in Mpumalanga en die land as ʼn geheel.

“Die ondertekening van die kontrakte beteken Eskom sal minder steenkoolaangedrewe elektrisiteit benodig. Dit sal lei tot die sluiting van steenkoolkragstasies wat ʼn uitwerking op minstens 30 000 werkersklasfamilies sal hê wanneer werksgeleenthede gesny word.”

Die vakbond meen ook dat die ondertekening van die kontrak die prys van elektrisiteit aansienlik sal verhoog omdat “onafhanklike kragprodusente meer kos as steenkoolaangedrewe elektrisiteit”.

“Die ANC-regering wil duidelik hê die werkersklas en armes moet nog meer ly as wat hulle reeds doen,” het Jim gesê.

Die vakbond dring daarop aan om die geleentheid gegun te word om namens sy lede voorleggings aan die Nasionale Energiereguleerder, Eskom en die minister van energie oor die kontrakte te maak.

Die saak sal op 27 Maart in die hooggeregshof aangehoor word.

Eskom wou nie kommentaar oor die saak lewer nie en het African News Agency na die departement van energie verwys. Woordvoerders vir die departement was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rupert Ashford ·

Nooit gedink ek sal eendag met Numsa saamstem nie.

wonder net ·

Maar as daar nog surplus elektrisiteit beskikbaar gestel word , kan prtyse mos dfaal en meer verkoop word om Eishkom weer likwied te kry?

Vraagteken ·

Nee! Daar is nie ‘n aanvraag vir daardie elektrisiteit nie. Nou met Eskom gaan krag koop – hulle kan dit self nie bekostig nie en dan moet hulle hul winste gaan deel. Al wat gaan gebeur is dat die krag meer gaan verhoog.

Steve Booysen ·

Die REIPP projekte se tender is gemiddeld 86c/kWh, dis goedkoper as Medupi en Kusile se steenkool krag en beslis goedkoper as die kernkrag plan. Baie van die bestaande steenkoolkragstasie moet rondom 2024 gesluit word weens hul einde bereik is. Dit sal in elk geval lei to afskaling in werkgeleenthede. Son- en windkrag is die toekoms, julle kan dit nie keer nie. Dis net jammer dat tussen NUMSA en ESKOM se eie dom optrede, meeste beleggers in son en windkrag die land verlaat het en op ander plekke gaan bou het. Hierdie 27 projekte gaan nie lank staande bly indien fossiel aanhangers bly beoog of hof toe hardloop nie. SA sal eenvoudig agter bly en later soos Beijing en Hong Kong nie kan asem haal nie, or al die besoedeling…

MOET NIE HIERDIE GELEENTHEID LAAT GLIP OM ‘N SON EKONOMIE /ELEKTRIESE TOEKOMS TE OMHELS NIE… DIS DALK NET WAT ONS NODIG HET, ‘N NUWE EKONOMIESE INSPUITING EN DIT IS NIE STEENKOOL /OF KERNKRAG NIE.

Rupert Ashford ·

En as die wind nie waai nie of dit waai te sterk? Of dit is bewolk of donker? Wat is jou belang by die onbetroubare bronne? Ek sien China het heeltemal opgehou om fossielstasies te bou.

Jaco ·

In vorige berigte is daar gese groen krag sal die prys van elektrisiteit af bring. Gaan dit nou duurder wees of goedkoper? Daar moet ook na impak op die omgewing gekyk word om die totale koste te bepaal. Dink nie groen energie onder die Eskom vaandel gaan noodwendig tot die werksverliese lei nie. Daar is nie genoeg groen krag om die land se behoeftes te voorsien nie

UHE? ·

Weksgeleenthede van 60 000 van die 27 onafhanklike teenoor die 30 000 wat in elkgeval aan n draaitjie hang a.g.v wanbestuur? Eish 1+1=eleventy ninnety and three

Vraagteken ·

Geagte Numsa,

Julle het duidelik geen idee waarvan julle praat nie! Suid Afrika kan nie bekostig om kragstasies te sluit nie want in die aand wanneer jy voor jou tv sit, dan is ons netwerk se las baie hoog (ongeveer 90%+), en jy is die eerste een om te kla oor swak dienslewering as daar nie krag is nie. Verder, Eskom kan net oorleef indien hulle van hul werknemers laat gaan (want die soustrein moet loop en almal kry groot salarisse). Dit is wat gebeur as ‘n politikus werk (wat nie bestaan nie) vir almal belowe.

Ek stem wel saam met jou; hierdie REIPP planne is nie die antwoord nie. Hulle verskaf energie in die dag wanneer daar juis te veel beskikbaar is.

Hier is my voorstel, soek metodes om ons ekonomie te versterk. Sodra dit gebeur dan sal die elektrisiteitlas verhoog. Meer mense sal werk hê en ons almal sal ruiker word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.