Eskom se ‘krag-bloudruk’ goedgekeur

(Argieffoto: pixabay)

Die kabinet het Donderdag die aankondiging van die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) ná ʼn wagtydperk van sowat ses jaar goedgekeur. Die plan word allerweë beskou as die bloudruk vir die elektrisiteitsbedryf.

Dit gaan na verwagting Vrydag deur die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, bekend gestel word.

Die plan stippel die voorgestelde energiesamestelling vir die land tot 2030 uit en sal voorskryf hoeveel steenkool, kernkrag, gas, sonkrag, wind-opgewekte elektrisiteit, hidro-elektrisiteit en so meer in die toekoms die mengsel gaan vorm om Suid-Afrika van krag te voorsien.

Die plan behoort ook aanduidings te bevat oor die omvang van private beleggings, teenoor staatsbelegging, wat deur die regering toegelaat gaan word. Dit gaan veral rigtinggewend kan wees vir private kragvoorsieners en voornemende kragvoorsieners oor waar om hul geld te belê, asook watter groot beleggings in die toekoms deur die staat gefinansier gaan word, gegewe Suid-Afrika se immer dreigende elektrisiteitstekort.

Die kabinet het in ʼn verklaring gesê die meeste van die insette wat kenners op dié gebied, lede van die publiek en akademici verlede jaar tydens sittings daaroor gelewer het, is by die IRP ingesluit.

“Die plan stel nege ingrypings voor om te verseker die land reageer behoorlik op sy energiebehoeftes oor die volgende dekade. Die ingrypings spruit uit die huidige vraag en aanbod na krag, asook die land se internasionale verpligtinge wat betref minimum uitlaatgasse,” lui die verklaring.

“Die plan vorm deel van die beleidsraamwerk wat ʼn gediversifiseerde energiemengsel nastreef en afhanklikheid van ʼn enkele of net ʼn paar primêre energiebronne verminder. Dit sal hersien word in ooreenstemming met die veranderende energiesektor.”

Die goedgekeurde IRP sal op die departement van minerale hulpbronne en energie se webwerf beskikbaar wees sodra dit amptelik aangekondig is.

Die plan se bekendmaking kom te midde van nóg ʼn vlaag beurtkrag wat Suid-Afrikaners vandeesweek getref het. Eskom probeer steeds om meganiese probleme by minstens vyf van sy opwekkingseenhede te herstel.

Business Unity South Africa (Busa) het vandeesweek gewaarsku enige verdere vertragings in die bekendstelling van die plan gaan verkrygings- en beleggingsbesluite belemmer wat bestendige kragvoorsiening moet verseker.

Bianca Botes, van Peregrine Treasury Solutions, sê die rand het reeds kort ná die aankondiging met 0,9% verstewig. “Die nuus bring groot verligting ná maande van onsekerheid.

“Die finansiële situasie by Eskom en sy vermoë om krag aan Suid-Afrika te voorsien, gaan uiteindelik direkte buitelandse belegging en ekonomiese groei in die land dryf,” het Botes gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eddie

Die problem is dat die Regering te slap en onkundig is om ‘n behoorlike plan suksesvol tot uitvoering te bring !!!

Ig

N plan sonder aksie beteken niks. Ek weet julle haat dit maar die oplossing lê in kundigheid wat julle uitgewerk het.

Sê maar net

Bly om vaders naam weg van Kern Krag, julle kan nie eers ‘n steenkool kragstasie reg bestuur nie.

Jerry

Geen plan kan werk indien dit nie die afleggings van onregmatige aanstellings onder werkers en bestuur en topbestuur aanspreek nie, omrede die status quo van staatskaping dan gehandhaaf word en dit beteken dat die ANC letterlik wegkom met korrupsie, korrupsie wat na implementering van die plan bloot gaan voortduur by ESKOM. Die plan moet dus geboikot word deur verbruikers indien die plan nie afleggings van alle onregmatige aanstellings aanspreek nie!

Bloudrukkie

“bloudruk”? Ag jinne…. wie steur hulle nou nog aan sulke ‘nuus’ terwyl die finale ‘dood-druk’ laaankal in werking is. Kom ons wees positief: Ons krag is altyd aan hier oorsee.