‘Eskom se lasvermindering onregverdige straf’ – TLU SA

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Unsplash)

TLU SA meen dat Eskom se nuwe beleid van lasvermindering eintlik net op ʼn kollektiewe straf neerkom wat ʼn negatiewe invloed op die land se landboubedryf asook sy ekonomie in geheel het.

Dié landbouorganisasie sê hy het reeds Eskom se nasionale bestuur oor die kwessie genader, maar het nog geen terugvoer oor sy besware ontvang nie.

“Boere kan nie sonder elektrisiteit boer nie – saai- en groenteboere ly erg hieronder,” sê Drickus Botha, streeksbestuurder van TLU SA se Noordstreek.

“Dit is ook die begin van die jagseisoen en verskeie jagkampe het nie elektrisiteit nie wat hul diens beïnvloed. Die gasvryheidsbedryf ly ook onder die beleid van Eskom.”

Lasvermindering is ʼn maatreël wat Eskom ingestel het om verbruikers met onwettige kragverbindings te straf. Dit word ook toegepas in gebiede waar ander vorme van diefstal van elektrisiteit plaasvind.

“Die hele lyn se krag word afgeskakel en waar ons met beurtkrag volgens ʼn skedule werk en daarvolgens kan beplan, is dit met lasvermindering nie so nie. Daar is geen aanduiding van wanneer die elektrisiteitstoevoer weer herstel sal word nie. Dit kom neer op kollektiewe straf en onskuldige partye ly daaronder,” sê hy.

Maroela Media het vroeër berig dat inwoners van Limpopo, wat getrou hul kragrekening betaal, gebuk gaan onder die las van dié maatreëls. Van dié wetsgehoorsameburgers, wat skole, sakeondernemings en boerderye moet bedryf, sit daagliks tot agt uur lank in die donker as gevolg hiervan.

Volgens Botha is daar egter maniere om aandag aan die probleem te gee eerder as om almal op die lyn – selfs dié wat betaal – te straf.

“Die lyne moet doodeenvoudig geoudit word,” sê hy.

“Dit is duidelik om te sien waar onwettige aansluitings is en om dan ook te identifiseer wie nie betaal nie. Om boere te straf wat hul rekeninge betaal en afhanklik is van elektrisiteit vir hul voortbestaan omdat daar onwettige aansluitings is, is onaanvaarbaar.”

TLU SA is van mening dat Eskom met hierdie toepassing besig is om sy verantwoordelikheid te skuif na die gebruiker.

“Eskom is besig om sy tekortkominge by die voordeur van die verbruiker te plaas eerder as om ʼn daadwerklike poging aan te wend om sy sake in orde te kry.”

TLU SA Noord en Agri Limpopo is van plan om eersdaags met Eskom se bestuur in Limpopo te vergader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

Alles wat deur regering bestuur word sal n gemors bly en unies het mos meer mag as die staat en Cele te onbevoeg om iets aan die onwettige staking te doen. Dieselfde ou storie.

Marcello ·

Eskom bestuur doen self iets aan die onwettige stakings, daar is porosedures intern in plek. En die Vakbonde het nie al die mag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.