Eskom se Maritz bedank

Sean Maritz. Foto: Eskom

Eskom het Donderdag aangekondig dat Sean Maritz, Eskom se geskorste voormalige waarnemende uitvoerende hoof, bedank het.

Eskom het in ʼn verklaring gesê hy het Donderdag Maritz se bedankingsbrief ontvang. Maritz was ten tyde van sy bedanking geskors as die kragvoorsiener se inligtingshoof.

“Mnr. Maritz se bedanking kom teen die agtergrond van ernstige aanklagte van wangedrag wat teen hom gemaak is en wat tydens ʼn dissiplinêre verhoor op 8 en 9 Maart aangehoor sou word,” lui die verklaring.

“Die dissiplinêre proses om mnr. Maritz aanspreeklik te hou vir enige oortredings kan nie meer voortgaan nie in die lig van die duidelike wetlike presedent dat ʼn bedanking van ʼn werknemer ʼn eensydige beëindiging van die indiensnemingsverhouding beteken. Eskom het gevolglik mnr. Maritz se bedanking met onmiddellike effek aanvaar.”

Eskom het gesê hy behou wel sy reg voor om siviele regstappe teen Maritz aanhangig te maak vir enige skade wat Eskom kon gelei het as gevolg van sy aksies “en om [Eskom] se regte ingevolge die Wet op Pensioenfondse af te dwing”.

Maritz is in Januarie vanjaar permanent geskors nadat hy ʼn brief aan die raadgewende maatskappy, McKinsey, onderteken het om ʼn omstrede R1 miljard-betaling goed te keur.

ʼn Week voor sy skorsing het Maritz ʼn brief aan McKinsey gestuur om te bevestig dat ʼn kontrak tussen die kragvoorsiener en die firma wettig is, ten spyte daarvan dat Eskom verlede jaar met regstappe gedreig het om die geld by die maatskappy te verhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Skors jou hier en skors jou daar en siedaar… jy kom weg met als duskant moord. En dan “bedank” jy en jy stap weg sonder enige gevolge. Lekker man…..

zoom zoom ·

Eh hoop die man word ondersoek. Hoekom bedank hulle so op ‘n streep. Nou is hulle untouchable

DS ·

Hopenlik is dit die einde van die Eskom-soustrein noudat Pravin terug is.

Alida ·

Om te bedank vrywaar hulle nie van vervolging nie. Hulle spring nou vinnig af van die soustrein.

lee ·

En so spring die een na die ander af as die stoele té warm raak.
SKELM SKURMUNKELS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.