Eskom sê oor beurtkrag dié winter

Die Majuba-kragsentrale in Mpumalanga (Foto: Eskom)

Beurtkrag kan tot 100 dae gedurende die winter toegepas word.

“Ek moet net wel beklemtoon dat dít die uiterste sal wees. Ons verkeer nie in daardie uiterste situasie elke uur van elke dag van elke maand nie,” het Gav Hurford, nasionale beheerbestuurder van Eskom se stelseloperateur, Dinsdag tydens ’n inligtingsessie van Eskom verduidelik.

Die inligtingsessie volg kort nadat dit bekend geword het dat Eskom stelseluitdagings beleef en beurtkrag fase 2 gevolglik weer vanaand om 17:00 ingestel sal word.

Hurford kon egter nie ’n presiese aantal dae verskaf oor hoe gereeld Suid-Afrikaners die komende winter in die donker gaan moet sit nie. Hy het wel gesê onbeplande onderbrekings in die omgewing van tussen 12 000 MW en 15 000 MW word dié winter verwag.

“Ons doen scenariobeplanning omdat ons nie ’n klinkklare antwoord kan gee weens onsekerheid [rakende die kragnetwerk] nie.”

Volgens Hurford sal daar wel ongetwyfeld beurtkrag wees. Die beurtkrag sal waarskynlik gedurende die aandpieke ingestel word namate die temperature daal.

“Dis so ’n klein bietjie soos die weervoorspelling,” het André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, op sy beurt verduidelik. “Ons moet dink aan beurtkrag in terme van waarskynlikhede gegewe die fundamentele gebrek aan betroubaarheid en voorspelbaarheid wat ons van die opwekkingstelsel sien.”

De Ruyter meen die vooruitsig vir beurtkrag die komende winter blyk nie in dié stadium te sleg te wees nie. Eskom sal wel moet verseker dat onklaar eenhede ten volle herstel is.

Beurtkrag is hoeka Maandagaand ingestel nadat eenheid 5 by Medupi-kragstasie uitgeskop het.

De Ruyter het gesê ’n stoomlekkasie het daartoe gelei dat die eenheid uitgeskop het. Die eenheid is egter 23:15 laas nag weer in diens gestel.

Eskom doen in dié stadium baie instandhoudingswerk. Die instandhoudingswerk sal egter gedurende die winter oudergewoonte afgeskaal word namate die vraag na elektrisiteit toeneem.

Nat steenkool nié die probleem

Eskom het dit vanoggend duidelik gestel dat nat steenkool nié die rede was vir Maandagaand se skielike beurtkrag nie.

Volgens De Ruyter het Eskom geleer uit sy foute en sy reëngereedheid opgeskerp sedert nat steenkool in 2019 daartoe gelei het dat fase 5-beurtkrag noodgedwonge ingestel moes word.

Die swaar reën in KwaZulu-Natal het wel bygedra tot die uitdagings wat Eskom tans beleef. Die reën het ’n beduidende toename in puin in die turbines by die Drakensberg-pompstoorfasiliteit tot gevolg gehad wat nou skoongemaak sal moet word.

Eskom het tans genoeg diesel. Daar is tans 70% diesel by die Ankerlig-kragstasie waar oopsiklusgasturbines diesel gebruik om elektrisiteit gedurende die aandpiek en vir nooddoeleindes op te wek.

“Dit is genoeg om al die eenhede vir 24 uur te laat hardloop. Dit klink na baie, maar dit is eintlik nie die geval nie omdat die diesel aangery moet word. Dit hou dus logistieke uitdagings in en ons wil dit sover moontlik vermy om die diesel te gebruik.”

Die Gariekwa-kragstasie het tans 85% diesel wat genoeg is om alle eenhede vir 36 uur aan die gang te hou. Die kragstasie hou minder logistieke uitdagings in aangesien die diesel met behulp van pypleidings na die kragstasie vervoer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jack ·

Dit is nogal rof.Maar ons is al gewoond aan die tipe diens van ESKOM.So as hulle elke dag wil beurtkrag speel moet hulle dit maar doen.Ons sal sien hoe die speletjie gaan uitdraai.

Hercules ·

ons as belasting betalers is eintlik eskom se werkgewers!!!!

Papsak ·

Darem so snaaks ne hier is winter almal kry koud maar Eskom bring beurtkrag in pateties want hulle get mos van die beste in hulle huise en Hou net aan met hulle ou speletjie

Wondermaarnet ·

Hulle doen anyway net wat hulle wil so hoekom ons wat krag KOOP waarsku?

Pim ·

Met ander woorde ons gaan die hele winter met bietjie krag sit, dit gaan die ekonomie ‘n ongelooflike hupstoot gee!…..

AmY ·

Het die winter dan nou 100 dae?
Ek het altyd gedink die winter is net 92 dae?
Help my reg as ek verkeerd is.
Ek praat nie van gewone koue dae tussen in nie.

Tanya ·

Agh ek is al so moeg van die Eskom probleme wat ons probleme raak, tot en met 8 jaar terug het ons nooit so iets soos beurt krag geken nie. Nou word ons vertel elke jaar of 2, daar kom ‘n groot “increase” in kostes, maar die kragstasies word nooit gediens en reg gemaak nie of instand gehou nie, so waar gaan die geld nou eintlik? Bonusse vir die personeel?

Papsak ·

Ja een kragstasies laas nag in werking gekom waarom nog loadshedding en ja hulle vang ons sleg op die koudste van winter Wil hulle krag af sit Kyk hoe pateties hulle nie so baie eenhede verloor nie maar loadshedding word gegooi ons word gevange gehou in ons eie land beets my verkeerd

Gisela ·

Maar hulle wil altyd meer geld van ons vat pateties vir die soort diens wat ons kry.

Esme ·

Mens wat Andre de Ruyter is, sal hy altyd eerlik wees. Ek glo wat hy kwyt raak maar dit wil ook voorkom of sabotasie van krageenhede ‘n groot kopseer in sy lewe is.

Keelvol ·

My Krag is af….. nie van 17:00 maar voor dit. Nou hoe de joos moet n mens kos maak om te eet. De ruyter dink eintlik sover as sy neus. Die oplossing is voor die handliggend. Vergroot die bestaande kragstasies. Sny alle onwettige konneksies af.

SjN ·

Nat steenkool brand droog as dit bygevoeg word by reeds gloeiende kole, so in die verlede het hul gelieg aangesien dit nie nou n probleem is nie!

annie ·

Met duur petrol, gas en paraffien sal die kamma positiewe gradering nie veel help nie. Die Weste xe manhaftige voorliefde vir vyandigheid jeens Rusland gaan ons voorliefde vir pledges ok ‘n knou gee want as die eie huis brand is charity elders skaars. Bad news for Africa-in-waiting.

Hercules ·

eskom het geen sé nie, die hele instansie werk vir die belasting betalers van SA en de Ruijter en sy lakeie moet nou hulle dingese in rat kry!!

annie ·

Is die steenkool nou weer te droog? Sekerlik jok Eskom nie oor stukkende eenhede nie, maar hoekom breek dit so gereeld. Dui dit op swak gehalte of op swak herstelwerk wat op swak opleiding dui of is laksheid of sabotasie aan die orde van die dag? Elke tweede winkel in winkelsentrums is in donker gehul tydens onderbrekings. By eetplekke is dit ‘koue kos skat’. Praat nie van die res nie… Die skade is legio.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.