Eskom sê oor beurtkrag-vooruitsig

(Argieffoto)

Nadat talle Suid-Afrikaners – wat weens die Covid-19-aandklokreël tuis moet bly – gevrees het dat hulle dié Oujaarsaand boonop weens beurtkrag in die donker sou moes deurbring, het Eskom aangekondig dat beurtkrag opgeskort word.

Die kragvoorsiener sê die besluit is geneem nadat die vraag na elektrisiteit voor die langnaweek afgeneem het.

“Hoewel dit die geval is, versoek Eskom alle Suid-Afrikaners om elektrisiteit spaarsaam te gebruik omdat die stelsel kwesbaar en onbestendig bly.”

Eskom sê hy gaan die geleentheid gebruik om sy noodopwekkingsreserwes aan te vul voor die vraag weer toeneem wanneer ekonomiese bedrywighede in die nuwe jaar hervat word.

Die maatskappy gaan ook voort met meer instandhoudingswerk in ʼn poging om meer bestendigheid te verseker.

“Dit gaan druk op die opwekkingsaanleg plaas, maar instandhoudingswerk is nodig om die betroubaarheid en werkverrigting van kragsentrales te verbeter.”

Altesaam 9 170 MW is weens beplande instandhoudingswerk tans nie beskikbaar nie, terwyl nog 11 334 MW weens probleme nie beskikbaar is nie. Eskom sê sy spanne werk onophoudelik om dié eenhede so gou moontlik weer in diens te stel.

Eskom het mense ook bedank vir hul geduld en het onderneem om mense betyds in te lig oor enige veranderings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.