Eskom se ooreenkoms met Nedlac ‘verraai werkers, publiek’

Argieffoto: GCIS

Die Demokratiese Alliansie (DA) sê die ooreenkoms met Eskom wat Dinsdag by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) onderteken is, verraai werkers én lede van die publiek.

Die ooreenkoms stel voor dat meer as R280 miljard van Eskom se skuld in ekwiteit omgeskakel word en dat instellings soos die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) die Eskom-aandele moet besit.

Die DA sê om Eskom se skuld in aandeelhouding te omskep is bloot ʼn agterbakse finansiële reddingsaksie.

“Die ooreenkoms ignoreer die enigste rolspeler wat eintlik oor so ʼn skema kan besluit – die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF). Sonder die GEPF se goedkeuring van hierdie onverantwoordelike skema kan die OBK nie voortgaan nie,” sê Geordin Hill-Lewis, die DA se woordvoerder oor finansies.

“Dit is onwaarskynlik dat die GEPF ooit so ʼn ooglopend slegte belegging sal goedkeur, want dit sal strydig wees met sy vertrouensplig teenoor sy lede (wat huidige en toekomstige pensioentrekkers is) en dus onwettig wees.”

Hill-Lewis sê sonder die GEPF se goedkeuring is die sogenaamde kontrak wat vandag onderteken is ʼn nuttelose, irrelevante oefening.

“Ons staan saam met alle werkers in die openbare sektor wat hul pensioenbesparing wil beskerm en daarteen gekant is om hul spaargeld af te staan aan die afbetaling van ANC-mislukkings. Ons doen ʼn beroep op werkers in die openbare sektor om hierdie plan van die hand te wys.

“Ons glo dat enige poging van die GEPF om die R104 miljard Eskom-skuld in wese af te skryf, en om nog meer by te voeg tot hierdie syfer (ʼn bykomende R100 miljard) onwettig sou wees. Ons sal nie huiwer om dit, indien nodig, teë te staan deur regstappe nie.”

Hill-Lewis sê daar is ook geen vooruitsig dat die OBK ʼn opbrengs op so ʼn belegging in Eskom sal verdien nie. Dit sal dus beteken dat daar ʼn groot gat in die staatspensioenfonds se bates sal wees.

“Dit sal daartoe lei dat die regering later die fonds sal moet red, indien hy dit kan bekostig. Gegewe die benarde toestand van ons nasionale finansies is dít nog lank nie verseker nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JM ·

Dat God Suid-Afrika nog nie uitgedelg het nie, spreek van Sy groot genade. Hoe lank gaan hierdie gemors nog voortduur?

Stefan ·

Die laatste paar Randjies word nou bymekaar geskraap om in bodemlose putte te gooi.
As dit ook klaar is bly daar nog net gelddrukkery oor met wegloop inflasie soos zimbabwe.

Ou bees ·

Stem seker saam dis mos nie sy geld wat hulle aanraak nie.

Frans ·

Eskom het in 2019 46 665 mense teen ‘n gemiddelde jaarlikse salaris van R434 239 indiens/
Volgens die Wêreldbank het Eskom 66% teveel werknemers.Die grootste struikelblok is die regering en vakbonde,regering bang hul verloor invloedryke lede, en vir vakbonde beteken dit minder lede en lede geld..
So daar wel tot so’n stap oorgegaan word kan onrus en opstande oorneem soos by die SAUK waar die gemiddelde jaarlikse salaris en moenie van jou stoel afval nie R791000 is.Vergelyk dit van:”Data from the Pietermaritzburg Economic Justice & Dignity Group’sThere are 12.78 million children receiving Child Support Grant (valued at R440 a month);
There are 3.67 million pensioners receiving an Old-age Grant (valued at R2,110 a month);
There are 30.4 million people (55.5% of the population) living below the upper bound poverty line of R1,268 a month;
There are 13.8 million people (25.2% of the population) living below the food poverty line of R585 a month.”Ja Animal Farm word waar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.