Eskom se vaardigheidspoel kan ‘inmekaar tuimel’

Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging Foto: Solidariteit

Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging Foto: Solidariteit

Eskom-werknemers het onlangs in ʼn opname aangedui dat politieke inmenging en rasgedrewe besluitneming hulle onseker maak oor hul toekoms by dié maatskappy.

Die vakbond Solidariteit het in Maart ʼn welstand- en werksbelewenisstudie onder sy lede by Eskom onderneem. Die doel van die studie was hoofsaaklik om lede se belewenis, sieninge en gevoelens rondom aspekte van hulle werkplek te bestudeer.

Die bevindinge dui daarop dat die grootste frustrasie vir Solidariteit-lede by Eskom die onbevoegdheid van bestuur en kollegas is. Die lede voel dat mense wat nie die regte kwalifikasies, ervaring of vermoëns het nie, in hoë poste aangestel word. Dit geld vir bestuurders en ander werknemers. Volgens die respondente is aanstellings dikwels polities en rasgedrewe. Die respondente se frustrasie is daarin geleë dat hulle dikwels brouwerk moet regmaak en ʼn groter werkslas moet dra omdat daar talle werknemers is wat nie die werk kan of wil doen nie.

Maroela Media het vroeër berig Solidariteit het adjunkpresident Cyril Ramaphosa in ʼn brief versoek om in te gryp nadat Eskom sy nuwe regstellendeaksieplan aan vakbonde voorgelê het. Volgens die voorlopige plan moet 3 400 vaardige wit werkers teen 2020 vervang word.

Die respondente het ook genoem dat daar soveel onregverdigheid is omdat diegene wat die werk kan doen en oor die kwalifikasies en ervaring beskik, dikwels geen erkenning daarvoor kry nie, geen bevordering of ontwikkelingsvooruitsigte het nie, en heel dikwels nie die vergoeding kry wat hulle na hul mening verdien nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Sondag aan Maroela Media gesê Solidariteit gaan vir Eskom en die sogenaamde ‘strydkamer’ vra om ʼn omvattende menslikehulpbronne-oudit te doen om te bepaal wat die welstand van Eskom se werknemers is. “Die resultate van die Solidariteit-studie wys op ʼn werksmag wat magteloos en moedeloos voel,” het Hermann gesê. “Net soos Eskom se toerusting word die mense nie onderhou nie en net soos ʼn silo inmekaar kan tuimel, kan Eskom se vaardigheidspoel inmekaar tuimel.”

Hermann sê die grootste enkele risiko vir Eskom is op die oomblik sy vaardighede. “Vaardige werkers moet nou vertroetel word en die beste belegging wat Eskom nou kan doen is om in sy vaardige werknemers te belê.”

Die studie het ook bevind:

  • 77% van werknemers is onseker oor hulle werk. Dit sal ʼn baie negatiewe invloed hê op vaardigheidsoordrag en produktiwiteit. Die toekomsonsekerheid is ook emosioneel baie afbrekend.
  • 55% van die mense sal ʼn ander werk aanvaar met dieselfde voordele (24% is onseker, 16% sê nee en net 5% sê beslis nee).
  • 81% sê loopbaanmoontlikhede word deur rasseverteenwoordiging bemoeilik.
  • 75% voel bevorderings is nie regverdig nie.
  • 73% voel hulle kan hulle vaardighede goed in Eskom gebruik.

“Veral die laaste statistiek wys Eskom-werknemers wíl by Eskom werk,” het Hermann verduidelik. “Hulle wil graag hulle vaardighede aanbied. Hulle vind bevrediging in hulle werk. Hulle wil beleef wat adjunkpresident Ramaphosa gesê het, naamlik dat hulle op grond van meriete oorweeg en waardeer word.”

Hy het bygevoeg daar moet nou vir vaardige werknemers ʼn veilige omgewing geskep word. “Ons oproep op Ramaphosa is om sy stellings in die parlement te omskep in ʼn instruksie aan Eskom. Dit sal groot rustigheid in die maatskappy bring en effektiwiteit verdubbel.”

Dit is hoofsaaklik mans (62.5%) wat die steekproef voltooi het en 43% van al die respondente was in die ouderdomskategorie 51 – 60 jaar. Die meeste respondente (67%) is ouer as 41 jaar. Die respondente is dus hoofsaaklik ervare werknemers waarvan ongeveer 70% al langer as ses jaar in hul huidige poste is en waarskynlik al vir baie langer as dit vir Eskom werk. Die meeste respondente (86%) wat die vraelys ingevul het, is wit, terwyl die studie uit 11% swart mense, Indiër mense en bruin mense bestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

*Chris ·

Gee Eskom vir Mal-ema, dis mos ook ‘n apartheids era maatskappy, dat hy dit ook afbreek, want dan is ons waar ons 80jaar gelede was Sonder krag en trug op die kerse. Simpel Nar

Peet Schabort ·

Ek dink daaraan om ‘n kersefabriek te begin. Die probleem is egter dat sodra ek mooi aan die gang is dan begin die regering se voorskrifte en natuurlik die stakings.

jacques ·

Hehe ja ons kinders gaan eendag vra wat het Suid Africa vir lig gebruik voor kerse.
{krag}

Shannon ·

Kyk die laaste wit ou in Eskom sal hy stil bly solank hy self nog a joppie het in Eskom.
Hoe vinniger Eskom finaal in mekaar tuimel hoe beter. Dit is die onafwendbare toestand van chaos wat nader kruip. Geen doel word gedien om dit te probeer uitstel nie.
Nou moet ons nog net die kraan water probleempie aanspreek.

Ek sou skat so binne nog 5 jaar dan sit die rëenboog land so min of meer waar Angola opgeeindig het – geen water, geen krag en geen vars produkte nie. Al wat oorbly is die aanbreek van malaria in die somer, kolera met die eerste reëns en bilarsia in die modder poele wat oorbly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.