Eskom se voormalige finansiële hoof van akkreditasie gestroop

Anoj Singh. (Foto: ANA)

Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Eskom en Transnet, is van sy lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAICA) gestroop. Dié waghond het Singh aan 12 uit 28 aanklagte skuldig bevind wat verband hou met transaksies wat tydens die sogenaamde staatskapingstydperk aangegaan is.

Volgens SAICA moet Singh, wat geweier het om tydens die ondersoek te getuig, die helfte van die koste van die ondersoekproses betaal wat laat verlede jaar van stapel gestuur is.

Die aanklagte teen Singh hou verband met Transnet se omstrede verkryging van 1 064 lokomotiewe van China, die goedkeuring van onregmatige betalings aan die firmas KPMG en Trillian tydens sy termyn by Eskom, asook sy verhouding met die Gupta-familie en sy gedrag tydens die verkryging van die Optimum-steenkoolmyn deur die familie se maatskappy, Tegeta Exploration.

Die instituut het bevind Singh het, benewens ander tekortkominge, sy plig teenoor Transnet versaak wat betref die stygende koste van die lokomotief-kontrak.

“Ons het derhalwe bevind dat mnr. Singh sy plig versaak het deur Transnet tot dié koste te verbind, asook dat hy ook die waarskynlike verlies wat Transnet sou ly weens sy goedkeuring daarvan, blatant geïgnoreer het.”

Die instituut het bevind hy was grof nalatig deur die ooreenkomste aan te gaan wat koste die hoogte laat inskiet het.

Wat betref die betalings van R30 miljoen aan Trillian terwyl hy by Eskom was, het SAICA bevind Singh moes, as finansiële hoof, deegliker ondersoekwerk gedoen het. Trillian het boonop die geld ontvang sonder dat hy enige diens aan Eskom gelewer het.

Die bedrae wat Singh goedgekeur het, het meer as R30 miljoen beloop en dit het op onreëlmatige besteding neergekom.

“Mnr. Singh was, om dit sagkens te stel, die hekwagter van Eskom se geldkoffers en sy optrede was onder die omstandighede meer as blote agtelosigheid.”

Die instituut het Singh nie aanspreeklik gehou vir enige wangedrag met die KPMG-kontrak nie, omdat dit aangegaan is voordat hy by Eskom aangestel is.

Rakende Eskom se fasilitering van Tegeta se verkryging van die Optimum-myn het Singh egter versuim om sy werkgewer se belange te beskerm.

Die waarborg van R1,68 miljard wat Eskom ten gunste van Tegeta vir sy verkryging van die Optimum-myn verkry het – selfs al was Eskom in geen posisie om dit te doen en dit nie in die maatskappy se belang was nie – is dit steeds sonder die toestemming van die minister van openbare ondernemings gedoen.

Die instituut het egter nie bevind dat Singh ʼn onbehoorlike verhouding met die Gupta-familie gehad het nie.

SAICA het bevind Singh was “nalatig in verskeie opsigte, en oneerlik in minstens een”.

Die instituut het bevind sy gedrag en oortredings van die instituut se gedragskode was ernstig.

“Hy het ʼn belangrike posisie by Transnet en Eskom beklee en sy gedrag het gelei tot beduidende finansiële vooroordeel vir albei openbare instellings.

“Daar was ʼn duidelike gebrek aan aanspreeklikheid en die algehele indruk wat ons gekry het, was dat mnr. Singh besluite namens albei entiteite geneem sonder om behoorlike ondersoek in te stel of die gevolge te oorweeg.”

Singh het geen bewyse ter verdediging aangebied nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter ·

Jy en ou pravin hou julle maar net dom. Dink julle regtig ons het julle mentaliteit.

Hennie J ·

Dit is nou alles goed en wel soos in die berig vervat. Die kernvraag is egter: Wanneer gaan hy gedwing word om sy kleremaker te besoek om vir hom n oranje oorpak te vervaardig?

Strandloper ·

En so loop die zumpie clan nog rond en geniet die smokel sigarette se geldtjies te lekker. Dit is regtig n funny farm wat grens aan “Animal farm”

Oros Soros ·

Grof nalatig? Grof krimineel en korrup is eerder die gepaste beskrywing. Is dit nie ‘n geval van mosterd na die maal nie? Ek meen SAICA kon vroeër opgetree het en nie jare lank gewag het om stappe teen mnr Singh te neem nie.

johan ·

Dis om van te “Braak”, maak die ou n ANC LP, hy het hom mos nou bewys…

Johann ·

En? Mista Singh SING al die pad bank toe…free and living da life. GEEN aanspreeklikheid nie. Kern korrup en bewese as so…maar hy loop los rond en lag vir die wat veronderstel is om hom toe te sluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.