Eskom skors wéér groephoof

Abram Masango. Foto: Eskom

Eskom het sy groephoof van kapitaal geskors hangende ʼn ondersoek na bewerings van onreëlmatighede rakende die Kusile-bouprojek.

Eskom het in ʼn kort verklaring gesê Abram Masango se skorsing is onmiddellik van krag. Volgens die kragvoorsiener erken hy Masango se reg om onskuldig beskou te word tot andersins bewys, hoewel daar weens die ernstige aard van die bewerings wat teen hom gemaak word, besluit is om hom te skors.

Eskom het gesê dit word ook gedoen weens die senior posisie wat Masango by die kragvoorsiener beklee. Die raad en bestuur van Eskom het gesê hulle is daartoe verbind om alle bewerings van onreëlmatighede by die kragvoorsiener te ondersoek en diegene wat skuldig bevind word verantwoordbaar te hou.

Masango is in April vanjaar onskuldig bevind in ʼn tugverhoor. Hy is in November verlede jaar die eerste keer geskors ná bewerings van ernstige wangedrag. Daar is beweer dat hy finansiële voordeel getrek het rakende Eskom se Kusile-kragstasie.

Masango werk al langer as 20 jaar vir die kragvoorsiener en was een van die projekbestuurders van Kusile.

Masango het ná sy skorsing verlede jaar beweer hy word geteiken, geïntimideer en gedreig nadat hy ʼn “fluitjieblaser-verslag” saamgestel het wat handel oor kommer oor korrupsie by die kragvoorsiener.

Masango het gesê hy het ʼn verslag oor wanadministrasie en korrupsie by die kragvoorsiener ingedien by die voormalige voorsitter, Ben Ngubane. Ngubane word in die voormalige openbare beskermer se verslag oor staatskaping deur die Gupta-familie onder verdenking geplaas.

Die verslag is in Februarie verlede jaar ingedien. Masango het bygevoeg hy het nie verwag dat die inligting in die verslag die volgende maand tydens ʼn raadsvergadering bespreek sou word nie. Hy was onder die indruk dat hy die verslag vertroulik gedeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ANDRE ·

Die eintlike skuldiges gaan op n goue tapyt wegvlieg en wee die kanonvoer wat oorbly.

Maljan ·

Dink jy rwgtig hy is so inskuldig saao n baba? Yiu’ve got another think coming. But no fear. Volgende jaar duik hy in die parlement op

SjN ·

Is dit so moelik om die regte persoon aan te stel? Los beee en stel kundige aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.