Eskom slaan vure dood oor fase 8-beurtkrag

Argieffoto

Eskom sê geen beurtkrag word vir Dinsdag verwag nie.

Die kragvoorsiener het vanoggend in ’n verklaring gesê hoewel die kragstelsel tans onder druk verkeer weens swaar weer en reën in Mpumalanga wat steenkoolvoorraad verlede nag beïnvloed het, die stelsel daarin kon slaag om voor spitstyd te herstel.

Luidens die verklaring het Eskom ook tans genoeg reserwes vir sy noodkragopwekkers en damvlakke is hoog indien die kragstelsel later vandag in die knyp kom. “Ons verwag dus nie deur die loop van die dag beurtkrag nie.”

Intussen slaan die kragvoorsiener vure dood nadat berigte die rondte doen oor fase 8-beurtkrag wat kwansuis eersdaags ingestel gaan word. Verskeie media-instansies het Maandag alarm gemaak omdat Eskom glo aan munisipaliteite gesê het om binnekort fase 8-beurtkrag te implementeer.

Die VF Plus het Maandag ontstoke op dié berigte gereageer. Wouter Wessels, VF Plus-LP en woordvoerder van openbare ondernemings, meen dit is totaal onaanvaarbaar dat kragonderbrekings van 12 uur lank ingestel word. Dit is hoe lank die krag sal af wees tydens fase 8-beurtkrag.

“Geen ekonomie kan groei terwyl beurtkrag toegepas word wat sakeondernemings, fabrieke en myne ernstig benadeel nie,” sê Wessels.

Eskom ontken egter in ’n verklaring dat hy munisipaliteite in kennis gestel het dat hy binnekort fase 8-beurtkrag sal toepas.

Luidens die verklaring het die kragvoorsiener reeds verlede jaar aangedui dat hy beurtkrag tot fase 8 sal instel indien absoluut nodig in ooreenstemming met sy verpligtinge in terme van die Wet op Rampbestuur. Dit het daartoe gelei dat die kragvoorsiener gebeurlikheidsplanne moes opstel.

(Argieffoto: Mazhar Zandsalimi/Unsplash)

“Eskom en die munisipaliteite het ná 2015 reeds die behoefte geïdentifiseer om ons beplanning in orde te kry wat betref die aantal stadiums van beurtkrag. Die nasionale kode is opgedateer ná noue samewerking met belanghebbendes in 2016 en 2017.”

Volgens die kragvoorsiener is praktykkode NRS048-9 Ed.2 gevolglik gepubliseer en in 2019 goedgekeur, wat voorsiening maak vir agt fases van beurtkrag. Elke fase sorg vir ʼn vermindering van ongeveer 5% op die kragnetwerk se las, wat gelykstaande is aan ongeveer 1 000 MW. Tydens Fase 8 verwyder Eskom dus 8 000 MW uit die stelsel.

Volgens Eskom is dit egter nie waarskynlik dat fase 8-beurtkrag ooit geïmplementeer sal word nie.

Volgens Wessels het Eskom in Desember herstelwerk by baie munisipaliteite gedoen en is dit ʼn positiewe verwikkeling. “Alles moontlik moet nou verder gedoen word om faktore wat lei tot verlaagde kragopwekking en beurtkrag te voorkom. Instandhouding moet prioriteit geniet. Dit bly skokkend dat die ANC oor jare gestaan en toekyk het hoe Eskom in duie stort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Die kanse dat eskom totaal ineen kan stort is beter as wat hulle eskom kan herstel en ons sal ons maar daarop moet regmaak en voorberei

Magda

Fase 8 – en ek sal doen wat ander doen en niks oorkom nie.

pieter

Nou slaan hulle nog die vuur dood wat nog kos kan gaarmaak en lig kan gee. Onnosele spul.

John

Die kanse is goed dat ‘n fase 9-inploffing kan gebeur. En dit is nie ‘n wilde mistasting nie gegewe die plofbare situasie in die ANC en die riskante planne wat deurgevoer wil word. Sodra Eskom val sal ‘n landswye noodtoestand volg waarna CR &Kie gepos sal word en die res weet ons. Nat Steenkool is die unies se sesami-kode vir die deur na ‘n gruwelike plek.

Thinus

Eskom pas orals loadshedding toe behalwe by die grootse wanbetalers, die sogenaamde townships. Ek bly oorkant Mamelodi en ‘n illegak squatter camp met almal onwettinge konneksies en hul krag is nooit af nie. Ons area tussen twee tot vier keer per week. Wonder wie maak die besluit oor watter areas afgeskakel moet word, want daar word erg gediskrimeer. Die wat gratis krag kry bly aan, die wat betaal ervaar loadshedding.