Eskom sny krag af na Vrystaatse dorpe weens wanbetaling

(Argieffoto: Twitter)

Eskom gaan kragtoevoer aan die Letsemeng- plaaslike munisipaliteit in die Vrystaat voortaan met minstens 14 uur per dag beperk weens die owerheid se versuim om sy skuld aan Eskom te vereffen.

Die munisipaliteit bedien Koffiefontein, Luckhoff en Petrusburg.

“Om die lyding van verbruikers en inwoners weens die weerhouding van elektrisiteit te verminder, gaan Eskom sy verskaffingsdienste op ʼn gereguleerde manier weerhou, eerder as om die krag heeltemal af te sny,” het Eskom Maandag gesê.

Die dorpe sal gevolglik van komende Maandag elke dag van 06:00 tot 20:00 sonder krag wees. Eskom waarsku egter dat hy kan besluit om kennis te gee dat die kragtoevoer heeltemal opgeskort word sou die munisipaliteit nie sy skuld begin delg nie.

Eskom het verbruikers intussen gevra om stappe te doen om te verseker skade aan hul toerusting, bedrywighede en sakeondernemings word tydens die onderbrekings beperk.

Die kragvoorsiener het Letsemeng op 31 Januarie kennis gegee van sy voorneme om kragtoevoer weens die munisipaliteit se voortgesette wanbetaling op te skort. Die munisipaliteit het volgens Eskom nié aan sy betalingsvoorwaardes voldoen nie.

“Dit kos Eskom geld om krag op te wek en aan die munisipaliteit te versprei en Eskom het ʼn wetlike plig om dié dienste op ʼn finansieel volhoubare basis te doen. Net so het die munisipaliteit ook ʼn verantwoordelikheid om Eskom te betaal vir die krag wat aan hom voorsien word.”

Die kragvoorsiener sê ingevolge wetgewing mag Eskom dus toevoer weerhou.

Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, het vroeër gesê munisipaliteite het die kragvoorsiener teen Desember verlede jaar R26,8 miljard geskuld. Individuele gebruikers se gesamentlike skuld staan op R16,6 miljard.

Soweto is steeds die grootste sondaar en is die grootste, individuele wanbetalende gebied. Inwoners daar skuld Eskom R19 miljard. Die betalingskoers in dié gebied het wel effens verbeter en 23,9% van verbruikers betaal nou hul krag, in vergelyking met die 12% wat dit voorheen gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lolla

Meeste plase koop direk van Eskom, hoekom kan ons gewone verbruiker nie ook direk van Eskom koop nie, dan sny dit al die mense wat so sit en niks doen uit. Nou moet verbruikers wat gereeld elke maand hulle rek betaal ook daaronder ly. Dit is bitter onregverdig!

Magda

Nou hoekom moet die Publiek daar onder ly as die Municipality Nie hulle skuld betaal nie. Het die mense wel hulle krag betaal en as hulle het hoekom moet hulle sonder krag sit – WAT VAN SOWETO – Wanneer word daar vnaf 06h00 to 20h00 krag af gesny???? Hoop die mense wat sonder krag gaan sit neem dit sommer baie verder vir die korrupte klomp gemors van n ANC. Hoelank moet ons nog met hulle gemors sit.

Soek opregte maatjie

Hoekom kan Soweto se krag nie afgesny word nie??? Maar ander Munisipaliteite se krag word afgesny. Nou wil ESKOM nog tariewe ook verhoog om nog meer vir Soweto te gee.

Jacobus

Tipiese boelie taktiek waar goeie betalers ook benadeel word.

Cherokee

Die heel laaste paragraaf is waarskynlik deur die artikelskrywer gedoen en nie deur Eskom nie, want dit klink nie asof De Ruyter enige iets van Soweto gesê het nie. Dit klink ook nie asof enige joernalis aan Eskom se verteenwoordigers daaroor vra en of enige LP die (moed?) het om dit in die parlement aan te haal nie.

Van 06:00 tot 20:00 is veertien ure wat slegs tien ure en nie (minstens) 12 oorlaat vir elektrisiteit.