Eskom soek nog nuwe baas

Brian Dames

Brian Dames

ʼn Tussentydse uitvoerende hoof sal aangestel word wanneer Eskom se huidige uitvoerende hoof, Brian Dames, aan die einde van Maart uittree.

Andrew Etzinger, woordvoerder van Eskom, het Maandag bevestig dat ʼn plaasvervanger vir Dames nog nie gevind is nie. “Die proses om ʼn geskikte kandidaat te vind duur voort,” het hy gesê. “ʼn Tussentydse uitvoerende hoof sal aangestel word totdat ʼn nuwe persoon aangestel is.”

Dames het in Desember sy uittrede aangekondig. Hy het in ʼn onderhoud met die Sunday Times gesê dat hy rus nodig het. “Ek wil net bietjie rus. Die pos eis baie van mens, dit eindig nooit werklik nie. Ek sê gewoonlik vir mense ek wil net ʼn lewe hê,” het Dames aan die koerant gesê. “Ek wil aandag gee aan my familie. Hulle het baie opgeoffer.”

Hy het gerugte dat sy bedanking verband hou met spanning tussen hom en Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, verwerp. Dames sal tot 31 Maart by Eskom aanbly. Hy is op 1 Julie 2010 as uitvoerende hoof aangestel en was 26 jaar lank werksaam by Eskom. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.