Eskom span noodreserwes in ná Kendal-brand

Die Kendal-kragstasie (Foto: Eskom)

Eskom is besig om sy nooddieselreserwes te gebruik om die moontlikheid van beurtkrag te voorkom ná ʼn brand by die land se derde grootste kragstasie die afgelope naweek.

Eenheid 1 by die Kendal-kragstasie in Mpumalanga het Saterdag aan die brand geraak ná ʼn beweerde kortsluiting. Die kabels van eenhede 2 en 3 wat na die hoofverkoelingstelsel van die stasie gaan, is ook tydens die brand beskadig.

“Altesaam 1 800 MW het weens die brand verlore gegaan,” het Chris Yelland, energie-ontleder en besturende direkteur van EE Business Intelligence (Pty) Ltd, aan Maroela Media gesê.

Die kabels van eenhede 2 en 3 sal na verwagting in hierdie week vervang word, wat dié stasie met ʼn tekort van net 600 MW sal los. Die stasie genereer normaalweg byna 4 000 MW.

“Die tekort verhoog die waarskynlikheid van beurtkrag, maar dit beteken nie noodwendig dat dit ingestel sal word nie.”

Volgens Yelland het Eskom gesê hy kan beurtkrag vermy deur sy oopsiklusgasturbines te gebruik wat meer diesel verbrand. Hulle word egter teen bykomende koste bedryf.

“Die reserwes word gebruik omdat die stelsel onder druk is; indien nog eenhede op die nasionale kragnetwerk buite werking gestel word, sal beurtkrag hoogs waarskynlik ingestel word,” het hy gesê.

Eskom is intussen besig om planne te beraam om die gebrande transformator so gou moontlik te vervang.

“Die transformator is heeltemal verwoes en ʼn nuwe een kan tot twee jaar neem om vervaardig te word. Dit kan ook moontlik miljoene rand kos om te vervang.”

Eskom wil glo eerder die eenheid met ʼn ou transformator vervang van ʼn kragstasie wat nie meer in gebruik is nie. Dít is egter nie ʼn langtermynoplossing nie en Yelland meen die transformator sal eindelik vervang moet word.

Dit is nog nie duidelik wat die brand veroorsaak het nie, maar volgens Yelland kon dit enige iets van ʼn interne kortsluiting tot vuil olie wat nie vervang is nie, wees.

“Dit is onmoontlik om nou al daaroor te bespiegel.”

Eskom het sedertdien ʼn ondersoek van stapel gestuur om die presiese oorsaak van die brand te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Herman ·

Ek was onder die indruk ons was al op nood reserves……….

Misky ·

Ons huisgesin gee nie meer om nie en werk nou al om dit. My man braai te graag vleis terwyl ons Uno speel by kampliggies. Gelukkig kan ons deesdae weer ‘n koue bier drink

Philip ·

As dit vuil olie in die transformator soos vermoed word kon die olie lank terug al gefiltreer en gesuiwer gewees het van die carbon sludge ontslae geraak geword het.Dit was in my ESKOM jare deur onsself of privaat firmas sommer sonder enige onderbrekings gedoen maar dit was bygese ongeveer 30 jaar terug.

annie ·

Hou net moed, binnekort is die nuwe korrelbedatoomkragsentrale tussen Humansdorp en Thyspunt deur liewe Eskom gebou en is ons vir ewig ontslae van alle kragprobleme. Hulle is juis besig om die menings in die omgewing te toets. Maar dit sal klopdisselboom gaan met al die bouery, plakkershole en vragmotors wat die paaie opry. Dit sal net of so tien jaar duur. En die besoedelde seewater daarna van daar tot by die Kaap? Hou net die monde toe… as jul swem, van daar tot in die Kaap…

Hennie ·

Ja, sal maar weer moet seker maak dat al die battery gelaai word so gou as moontlik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.