Eskom-staking eindig ná ‘beste aanbod nóg’

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Eskom het Vrydag aangekondig ʼn salarisooreenkoms is ná ʼn 14 uur lange onderhandelingsessie met vakbonde bereik.

Die staking deur lede van die National Union of Mineworkers (NUM) het dus tot ʼn einde gekom. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het as bemiddelaar opgetree.

Khulu Phasiwe, Eskom se woordvoerder, het gesê twee van die vakbonde, NUM en Solidariteit, het reeds die tweejaaraanbod onderteken.

“Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het nog nie die aanbod onderteken nie, maar het dit reeds in beginsel aanvaar. NUM is in die proses om sy lede te mobiliseer om terug te keer werk toe.”

Die nagenoeg 15 000 NUM-lede het Dinsdag aan die onbeskermde staking begin deelneem. NUM het ʼn salarisverhoging van 12% vir die hoogsbetaalde werkers en 13% vir die laagsbetaalde werkers geëis. Die onderhandelingsproses is sedert Junie 2016 verskeie kere vertraag. Eskom het tot die jongste vergadering by sy aanbod van 7% gehou.

Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris van die energiebedryf by Solidariteit, het Vrydag bevestig dat dié vakbond die aanbod onderteken het.

“Dit is een van die beste aanbiedinge wat Eskom tot nog toe gemaak het en ons lede is uiters tevrede met die goeie aanbod op die tafel. Ons het derhalwe ’n mandaat van ons lede ontvang om die voorgestelde tweejaaraanbod te onderteken,” het Reyneke gesê.

“Ons lede sal nou weer normaal met hul werk kan voortgaan ná die uitgerekte onderhandelingsproses. Ons lede sal in die huidige ekonomiese omstandighede heelwat baat vind by die ooreenkoms.”

Die aanbod behels:

Jaar 1

  • ’n Salarisverhoging van 8,5% wat deur die bank vir alle werknemers op die hoogste skaal geld en ’n verhoging van 10% vir werknemers op die laagste skaal word toegestaan. Die verhogings sal terugwerkend vanaf 30 Junie 2016 geld.
  • Die huidige behuisingstoelaag (R2 600) word met 10% (R260) verhoog.
  • Toelae word met 5,6% verhoog.
  • Vyf maande se betaalde kraamverlof geld.

Jaar 2

  • ’n Salarisverhoging van 8,5% wat deur die bank vir alle werknemers op die hoogste skaal geld en ’n verhoging van 10% vir werknemers op die laagste skaal word toegestaan.
  • Die behuisingstoelaag word met R140 verhoog tot ’n totaal van R 3 000 per maand.
  • Toelae verhoog met 5,6%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet ·

En ons betaal deur ons tande vir krag! Heel duidelik gaan dinge te goed by eskom…
Ek verstaan net nie die logika van die mense in hierdie land nie!

Wat-ek-lees ·

Nêrens staan daar ‘n verhoging in produktiwiteit.
Ek sal ook graag ‘n joppie daar wil hê.

KarooKlong ·

Kyk of jy my ook kan inkry. Gee jou hele Koedoe verniet.

John ·

Volgende jaar is dit weer so, ten spyte van wat ooreengekom is. En die arm wittes sit en bewe van die koue in die winters, maar watwo. Hoeveel verdien die base na die verhogings? Vertel ons.

Koos1 ·

Die verhoging is meer as staatsdiens werkers soos polisie en verpleegsters gekry het, dan nog die behuisings toelaag wat meer as dubbeld dit is was die staatsdiens werkers kry, en dit is ook ‘n staatsinstelling. Belaglik.
Hulle by ESKOM maak hopeloos te veel geld uit die belasting betaler en hulle monopolie op die land!
Dit sal gaaf wees as Maroela hulle salaris vlakke kan vergelyk met die staatsdiens werkers, ek sou dit graag wil sien.

Elmien ·

Is daar nie vir my ‘n plekkie nie. Dit gaan lekker daar.

vermeende ·

Mense kan skaars krag bekostig maar Eskom kan salaris aanpassings bekostig wat ver bo invlasie is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.