Eskom steeds onder soeklig voor Zondo-kommissie

Jabulani Mabuza, raadsvoorsitter van Eskom (Foto: Nhlanhla Phillips/African News Agency/ANA)

Beweerde korrupsie by Eskom is Dinsdag wéér onder die soeklig geplaas met Daniel Mashigo, waarnemende hoofbestuurder verantwoordelik vir primêre energie by die kragvoorsiener, wat in die getuiebank voor die Zondo-kommissie ingeskuif het.

Die verhoor van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping is voortgesit nadat Jabulani Mabuza, voorsitter van Eskom, se getuienis Maandagmiddag afgesluit is.

Mashigo, wat al 18 jaar lank vir die kragvoorsiener werk, sou na verwagting praat oor kontrakte wat by twee steenkoolmyne in Brakfontein en Koornfontein aan die omstrede Gupta-familie toegeken is.

Mashigo het in Desember verlede jaar gesê Eskom het sedert die begin van 2018 altesaam 35 nuwe kontrakte aangegaan vir die verskaffing van 94 miljoen ton steenkool nadat tien van 15 kragstasies hul steenkoolvoorraad opgebruik het ná minder as die voorgeskrewe 20 dae minimum.

Dít volg nadat Mabuza Maandag getuig het belangrike besluite oor die kragvoorsiener is geneem deur mense wat nie binne die aangestelde strukture gestaan het nie.

Mabuza het sy vroeëre bewering herhaal dat e-posse wat van die voormalige uitvoerende hoof, Matshela Koko, se bediener bekom is, aangedui het dat Eskom se vertroulike dokumente in 2015 na e-pos-adresse gestuur is wat met Salim Essa verbind word. Essa is na bewering ʼn vennoot van die omstrede Gupta-familie wat by staatskaping geïmpliseer word.

Mabuza het beweer dat Koko vertroulike dokumente gelek het om aan die Gupta-familie te bewys dat hy aan hulle kant was en sodoende sy ondernemings te bevoordeel deur middel van Eskom-kontrakte.

Mabuza het ook ʼn e-pos aan die kommissie voorgehou van die voormalige uitvoerende hoof van die Gupta-beheerde Oakbay Resources, Nazeem Howa, aan Eskom se voormalige hoof van regsdienste, Suzanne Daniels, oor die steenkoolkontrak met Optimum Coal wat Daniels na bewering op ʼn Eskom-briefhoof geplaas het.

Ander e-posse het ook die voormalige finansiële hoof van Eskom, Anoj Singh, verbind met bewerings dat vertroulike Eskom-dokumente aan Regiments se uitvoerende hoof, Eric Wood, uitgelek is en vice versa waarin Wood bankbesonderhede van die Gupta-beheerde Tegeta Resources vir Singh aangestuur het.

Mabuza het gesê Eskom het vier aanklagte teen Koko aanhangig gemaak, onder meer dat hy vir die parlement gelieg het en dat hy vertroulike inligting aan Essa verskaf het.

Mabuza het getuig Eskom het drie aanklagte teen Daniels aanhangig gemaak, omdat sy glo e-posse na Essa gestuur het, vir haar rol in die McKinsey-saak en Optimum Coal, en dat sy R800 000 in regskoste aan die voormalige raadsvoorsitter Ben Ngubane oorbetaal het vir sy verhore by die SAUK.

Mabuza het ontken dat daar enige botsende belange bestaan weens sy aandele in ʼn maatskappy wat ʼn derde van Eskom se stoomketels onderhou of weens sy gesamentlike onderneming met sy skoonouers in steenkoolmynmaatskappye wat met Eskom sake doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

GP ·

Wil ook weet waneer gaan daar opgetree word teen skuldiges en hoe, of gaan die weer ‘n bodemlose put word vir belasting geld?

Oom Piet ·

Kom ons kyk as ‘n blanke Eskom werker beskuldig word , of hy onmiddelik aangekla gaan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.