Eskom-taakspan se eerste verslag binnekort beskikbaar

Argieffoto: GCIS

Die taakspan wat die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, in samewerking met die Eskom-bestuur daargestel het om onmiddellik wyses te vind om die land se elektrisiteitsvoorsieningskrisis die hoof te bied, sal binne die volgende vier weke hul eerste voorstelle gereed hê.

Dit blyk uit die amptelike terugvoerverslag van die tweeweeklikse kabinetsvergadering wat Woensdag in Kaapstad plaasgevind het.

Volgens die kabinet is die elektrisiteitsuitset van die land se kragstasies steeds wisselvallig. Daar was groot kragonderbrekings weens ontwrigtings wat by baie kragsentrales voorgekom het.

Die kabinet het kennis geneem dat die gehalte van steenkool wat by kragstasies landwyd beskikbaar is wel verbeter het, hoewel die lewering van steenkool steeds nie na wense is nie.

Daar heers ontevredenheid oor die swak uitsette van die nuwe kragstasies Medupi en Kusile, en Gordhan is opdrag gegee om ʼn aksieplan ter verbetering in te dien.

Anders as die gedetailleerde terugvoer oor Gordhan se werk is die enigste terugvoer vanaf die spesiale kabinetspan oor Eskom onder leiding van adj.pres. David Mabuza dat hulle volstoom met hul werk begin het, wat dieselfde terugvoer is as twee weke gelede.

Oor grondhervorming is aangekondig dat titelaktes onlangs aan gemeenskappe in Moretele in Noordwes oorhandig is, en dat die volgende groep titelaktes eersdaags by Empangeni in KwaZulu-Natal oorhandig sal word.

Die kabinet het die samewerking tussen sakelui, vakbonde en die staat om die handelsreus Edcon van bankrotskap en gevolglike afleggings te red, verwelkom.

Daar is onderneem dat die regering sal voortgaan om vloedslagoffers in KwaZulu-Natal by te staan, en dat hulp met reddingsoperasies in vloedgeteisterde dele van Mosambiek en Malawi verleen sal word.

Nuwe landdroshowe sal volgende week in die Wes-Kaapse dorp Plettenbergbaai en die Johannesburgse voorstad Booysens geopen word.

Laastens het die kabinet aangekondig dat Menseregtemaand vandeesmaand sal fokus op taalregte, en sal uitloop op die viering van die nasionale week teen rassisme van 14 tot 21 Maart, met vanjaar se nasionale viering van Menseregtedag op 21 Maart wat in Sharpeville naby Vereeniging in Gauteng sal plaasvind.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

As die IMF glo Eskom kan met 16 000 werkers… hoor werkers… die pyp rook, moet die chaosreus die ekstra gewig oorboord gooi. En steeds is die kole-situasie nog nie uitgesorteer nie. Is Gordhan die regte man vir die job? Ek glo nie. Hulle sit ore vir hom aan… maar ‘n wit man is weer te slim… so dit sal ook nie wil werk nie. Eskom gaan nou ‘ n laaaang koma binne. Dis duidelik. En mens hoef nie ‘n neurosjirurg te wees om die diagnose te maak nie….

Liza ·

Maak Eskom darem gbruik van Solidariteit se aanbod om afgetredenis te gebruik?

Dorothy Biggs ·

Waarom is daar geen adres waar skedules vir Mangaung munisipaliteit aan gevra kan word nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.