Eskom: Talle opwekkers steeds buite werking

(Argieffoto: ANA)

Eskom het weer eens ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om krag spaarsamig te gebruik, aangesien die stelsel steeds onder druk is. Eskom het die afgelope twee weke nog nie weer beurtkrag ingestel nie, maar het reeds Maandag gewaarsku dat die bykomende druk op die stelsel kan veroorsaak dat die kragreus nie aan die vraag na krag tydens spitstye sal kan voldoen nie.

Dit is nadat ʼn kragopwekkingseenheid by die Majuba-, Tutuka-, Hendrina- en Duvha-kragstasie kortsluitings ondervind het. Koppeling is by ʼn verdere drie eenhede by die Matla-, Kendal- en Tutuka-kragstasie vertraag. Luidens Eskom se verklaring Woensdag het nóg twee eenhede by die Tutuka-kragsentrale intussen onklaar geraak.

Onwettige kragverbindings in ‘n informele nedersetting. (Foto: Eskom/Twitter)

“Die druk op die netwerk word vererger deur langtermyn onderbrekings by die Camden-kragstasie, sowel as nie-kommersiële eenhede by die Kusile- en Medupi-kragsentrale wat nie beskikbaar is vir gebruik nie,” lui die verklaring. Eskom sê sy spanne werk onverpoos om die probleem reg te stel, maar dat die stelsel waarskynlik nog vir die res van die week onder druk sal wees. “Daarom vra ons dat verbruikers krag spaarsamig sal gebruik.”

Intussen het Eskom bekendgemaak dat hy voortaan kragvermindering in dele van Gauteng en KwaZulu-Natal gaan toepas, waar besonders baie onwettige kragverbindings voorkom. Monde Bala, groephoof van Eskom, het verduidelik dat kragvermindering in spesifieke gebiede toegepas word waar onwettige verbindings besonders baie druk op die stelsel plaas en infrastruktuur kan beskadig. Kragvermindering word tydens spitstye toegepas, wanneer druk op die stelsel veral hoog is.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Joggie ·

Nou waarom sny hulle onwettige verbindings nie permanent af nie! Skuus, hulle is “our people”!

koos10 ·

Eis miljoene en kry dit in die hof, en om dankie te sê gee ons vir julle bietjie beurtkrag.

Ek lees die afgelope week:

ESKOM is bewus van die feit dat daar vir 14 dae nie beurtkrag was nie, en werk onverpoorts om die situasie reg te stel.

Persheks Adri ·

Begin by Soweto genade ek’s gatvol vir die krag storie en ons betaal ten duurste vir uiters swak diens!!! Dis koud en nou moet ons WEER in die koue sit. Probeer harder Eskom dis oor en oor dieselfde krag stasies wat “breek”….

Morné ·

Ek betaal vir wat ek gebruik en dit teen duurste, nou verwag julle ek moet nog meer betaal en nog minder gebruik? Kom ek vertel jou hoe dit gaan werk Eskom, ek gebruik soveel ek wil wanneer ek wil vir so lank ek wil want ek betaal daarvoor. Maak nie saak of ek spaarsamig werk of nie, “our people” se krag word in elk geval laaste afgesit. Julle doen ons nie n guns om nie beurtkrag toe te pas nie, dit is julle werk om te sorg dat dit nie gebeur nie. As jy nie daarvan hou nie, gaan sien n sielkundige en kom daaroor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.